Organisasie platgeslaan ná weerlig vier perde doodslaan

Weerlig slaan die afgelope naweek in die Rietfontein-omgewing in Pretoria. (Foto: Vriende van Magalies)

Lede van die bewaringsorganisasie Vriende van Magalies, in die Rietfontein-omgewing in Pretoria, is platgeslaan nadat die weerlig die afgelope naweek vier perde daar doodgeslaan het.

Mike van Wyk, voorsitter van die organisasie, sê stappers het die diere se oorskot Sondagoggend in die berg ontdek.

Hy sê daar was Saterdagaand swaar weer in die gebied waar die perde – Spook, Caesar, Kavalier en Splash – gewoonlik wei.

“Dit lyk of die weerlig teen die berg se rotswande geslaan het en al langs die rotse gelei is. Vier van die perde is dood. Hulle het bymekaar onder ʼn boom gelê.

“Dit was bitter sleg. Die perde kom seker al so 10 jaar lank saam met ons. Dit is ʼn baie emosionele tyd,” het Van Wyk gesê.

Die perde was ‘n bekende gesig in die omgewing. (Foto: Vriende van Magalies)

Sommige van die perde is onder meer vir rylesse vir kinders in die omgewing gebruik en is ʼn bekende gesig onder mense wat in die gebied gaan stap.

Van Wyk sê veral die kinders wat die perde leer ken het, is bitter hartseer.

Die gebied is omhein en die Vriende van Magalies verseker onder meer dat uitheemse plante verwyder word. Dit is ook ʼn veilige hawe vir bokkies, jakkalse, tarentale en hase.

Die diere se oorskot is aan ʼn organisasie geskenk wat jagluiperds versorg.

Mense het intussen begin om blomme en foto’s van hulle saam met die perde in die gebied te gaan neersit en tientalle boodskappe van medelye is op die organisasie se Facebook-blad geplaas.

Van Wyk sê hulle beoog om nou te begin geld insamel om die perde te vervang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Zandra ·

dis so hartseer, baie sterkte aan almal wat ‘n seer hartjie ♥ het

Bregterblom ·

Ag dis baie hartseer! My ouma, wat voor sy oorlede is, in Huis Vergenoeg gebly het, kon hulle uit haar kamer uit haar bed sien.
Groot verlies vir ons berg!

Lorette ·

As ‘n baie groot perdeliefhebber, is ek skielik dankbaar ek het nie meer perde nie. My laaste perd is met haar kop op my skoot dood nadat ons dae met haar gesukkel het en veearts niks kon doen. Moet darem ook sê sy was nie meer jonk nie. Hierdie berig het my nou behoorlik in trane.

Diertjie ·

Breek my ????sterkte aan almal. Ek het n ongelooflike liefde vir diere.

Thea ·

‘n Roofdier eet nie aan die vleis van ‘n dier wat deur weerlig doodgeslaan is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.