Organisasie versoek einde van ‘moord’ by inisiasieskole

Argieffoto (Foto: Dingeman, Wikimedia Commons)

ʼn Organisasie, die Takuwani Riime Men’s Movement, het die regering, tradisionele leiers en gemeenskappe versoek om standpunt in te neem teen die “moord” by inisiasieskole. Minstens 25 jong mans is reeds vanjaar in die Oos-Kaap dood by inisiasieskole.

Die “kulturele en godsdienstig diverse groep” het gesê die “moord op onskuldige geïnisieerdes in die naam van kulturele praktyk” moet beëindig word.

“Alhoewel ons die ondersoek deur die polisie verwelkom, is ons primêre belang nie net strafmaatreëls deur die strafregstelsel van diegene wat die misdade gepleeg het nie, maar eerder om die sinnelose lewensverlies te voorkom,” het die organisasie in ʼn verklaring gesê.

Die groep het gesê hy ondersteun die werk van die Kommissie vir die Bevordering en
Beskerming van die Regte van Kulturele, Godsdienstige en Taalkundige Gemeenskappe (CRL) om dadelik die tradisionele inisiasieseisoen op te skort “totdat maatreëls in plek gestel is om enige lewensverlies te voorkom”.

“Die trotse erfenis van ʼn ou Afrika-praktyk word sistematies ondermyn deur die voortgesette verlies van jong Afrika-mans se lewens. Dit is veral onrusbarend in ʼn tyd waar daar moderne tegnologie en benaderings beskikbaar is om veilige besnydings te doen.”

Die organisasie het bygevoeg kwessies oor die kultuur en tradisie bly sensitief, maar moet nie in die pad staan om sterftes te voorkom nie. “Daar is geen verskoning of regverdiging vir die afsterwe van onskuldige Afrikane nie.”

Zama Ntshona, woordvoerder van die African Transformation Movement (ATM), het Donderdag gesê sy organisasie neem ook met berou kennis van die voortgesette sterftes by inisiasieskole in die Oos-Kaap.

“Hierdie grootwordproses is steeds ʼn integrale deel van die lewens en trots van Suid-Afrikaners, maar dit moet baie naby gemonitor word en wette moet opgeskerp word om nakoming te verseker.”

Die ATM versoek dat persone wat nie geakkrediteer is deur tradisionele owerhede en die betrokke regeringsinstansies nie, vervolg moet word.

“Berigte het onthul dat die jong mans in die provinsie onderwerp word aan onmenslike praktyke soos dat hulle van water ontneem word wat tot dehidrasie en die dood kan lei. As ATM glo ons dit is ʼn teken van onvoldoende kennis.”

Die ATM versoek die huis van tradisionele leiers om in te gryp.

“Daar is ook berigte dat geïnisieerdes onderwerp word aan marteling, aangesien mans wat nie geakkrediteer is nie, na hulle omsien. Die ATM versoek dat klagtes van poging tot moord en moord aanhangig gemaak moet word teen die betrokke persone.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.