Organisasies betoog teen Shell SA

Protesoptog teen hidrobreking (Foto: Reint Dykema)

Die burgerregte-organisasie AfriForum en die omgewingsorganisasie Treasure Karoo Action Group (TKAG) het Donderdag betoog teen Shell Suid-Afrika se aansoeke om met hidrobreking in verskeie dele van Suid-Afrika, veral die Karoo, voort te gaan.

Shell SA het die groep betogers met stilte begroet en die SAPD is later ingeroep om die vreedsame betogers te verwyder.

Die organisasie het plakkate en pamflette teen hidrobreking, asook botteltjies vol water wat deur hidrobrekingchemikalieë besoedel is, aan Shell-personeel oorhandig wat by dié oliemaatskappy se hoofkantoor in Johannesburg werk.

Marcus Pawson, AfriForum-hoof van omgewingsake, sê Shell SA se winsbejag met dié planne is ten koste van Suid-Afrika se “erfenis, omgewing en waardevolle waterhulpbronne”.

“Ek is hartseer dat Shell nie bereid is om met ons te praat of ons brief – waarin ons vrese en bekommernisse oor hidrobreking uiteengesit word – wil aanvaar nie. Tog is hulle gretig om te boor en ons water te besoedel sonder om twee keer te dink,” sê Pawson.

Jonathan Deal, uitvoerende hoof van die TKAG, sê dié brief is ook gerig aan Rick Parry, Amerikaanse minister vir energie, wat Kaapstad onlangs besoek het en gepoog het om ’n lansie vir skaliegasontginning in Suid-Afrika en fossielbrandstowwe in Afrika te breek.

“Perry is bloot besig om die geykte uitlatings van Amerikaanse olie-en-gasdrukgroepe te herhaal.  Die grootste deel van die euforie waarmee fossielbrandstowwe begroet word – veral in die VSA – is grootliks op die onakkurate skattings van die Amerikaanse Geologiese Opname (USGS) en die Amerikaanse Energie-inligtingsadministrasie (EIA) gebaseer,” sê Deal.

Die Oos-Kaapse hooggeregshof in Grahamstad het onlangs beslis dat die regeringsregulasies vir die hidrobrekingbedryf onwettig is. Die land het daarom geen wetgewing in plek om die verskeie risiko’s te reguleer wat internasionale maatskappye met die aanvang van hidrobrekingsprosesse teweeg sal bring nie. AfriForum en die TKAG het ook ’n hofaansoek teen hidrobreking gebring wat na verwagting in Februarie 2018 in die Noord-Gautengse hoë hof aangehoor sal word.

“Die kern van die saak is dat geen aansoeke vir lisensies of permitte vir enige vorm van eksplorasie of produksie kan slaag sonder dat die nodige regulasies in plek is nie. Enige aktiwiteite om die beginsel te ontduik, sal met dringende hofaansoeke begroet word. Shell Suid-Afrika en ander internasionale maatskappye wat vir lisensies of permitte vir hidrobreking aansoek gedoen het, sal hul internasionale aansien net verder skaad deur met hul hidrobrekingsplanne in Suid-Afrika voort te gaan en hul mala fide-aksies ten koste van Suid-Afrikaners beklemtoon,” sê Deal.

(V.l.n.r.) Eugene van Aswegen Marius Muller Wico Swanepoel en Ohann Fourie (Foto: Reint Dykema)

Volgens AfriForum en die TKAG het die ekonomiese lewensvatbaarheid van hidrobreking in die Karoo dramaties afgeneem nadat die voorspelde gasreserwes, wat eens op 485 triljoen kubieke voet geskat is, na slegs 13 triljoen kubieke voet afgeneem het.

Die burgerregte organisasie sê een van die “grootste leuens” wat aan hidrobreking in Suid-Afrika gekoppel word, is dat dit meer as 700 000 werksgeleenthede sal skep. Onlangse plaaslike studies het egter volgens die organisasie bevestig dat ten beste 3 500 werksgeleenthede geskep sal word, waarvan die meeste heel waarskynlik nie deur ongeskoolde of halfgeskoolde Suid-Afrikaners gevul sal kan word nie.

AfriForum en die TKAG sal die regering en die internasionale maatskappye in samewerking met ander organisasies moniteer om te verseker dat die regte van Suid-Afrikaners en die land se omgewing beskerm word.

Gemeenskapslede kan die AfriForum en die TKAG-alliansie ondersteun deur ’n SMS met die woord “Fracking” na 45354 te stuur. Elke SMS kos R1.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Karel ·

Nou ja, trek ‘n Spur op Shell en boikot alle Shell motorhawens en produkte.

Rupert Ashford ·

Kan die Karoo gas nie op konvensionele manier ontgin word nie? Ek was met julle totdat fossielbrandstowwe ook sommer bygegooi is. Nou twyfel ek oor die motiewe…

Kosie Kramer ·

Toe ek laas gekyk het, het die ANC se beleggingsmaatskappy ongeveer 30% van Shell SA besit. Indien dit wel (nog) so is, sou dit enigsins help om by die Nederlandse regering te kla? Geen Nederlandse politieke party sal dit waag om aandele in Shell te koop nie. In Vlaandere is historiese ou geboue besig om te verkrummel weens hidrobreking.

Elizabeth ·

En moenie dink brandstofpryse gaan daal as hulle eers hulle gas raakgeboor het nie …

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.