Organisasies eis Lesufi se afdanking oor planne vir skole

Carien Bloem, AfriForum se koördineerder vir onderwys. Foto: Verskaf.

AfriForum het ʼn brief aan Angie Motshekga, minister van onderwys, gestuur waarin die burgerregte-organisasie die afdanking van Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, eis.

Dit volg nadat Lesufi op 30 Julie talle voorgestelde gewysigde skoleregulasies vir Gautengse skole in die komende jaar in die Staatskoerant gepubliseer het.

AfriForum, die Skoleondersteuningsentrum (SOS) en die vakbond Solidariteit meen die voorgestelde wysigings is nie net teenstydig met die Grondwet nie, maar dit sal skoolbeheerliggame se magte om skole suksesvol te bestuur drasties inperk.

Dié organisasies het Donderdag tydens ʼn mediakonferensie in Centurion hul kommer oor die regulasies gedeel.

Die organisasies meen die gevolg indien dié regulasies ingestel sou word, sal wees:

  1. Ouers sal nie meer kan kies in watter skool hulle hul kinders wil plaas nie. Ná die aanlyn-aansoekproses sal die onderwysdepartement alleen kan besluit watter kind in watter skool sal wees.
  2. Skole sal nie meer kan aandui hoeveel kinders hulle kan akkommodeer nie. Die departement gaan skole inlig hoeveel kinders ingeneem moet word. Beheerliggame kon voorheen die kapasiteit bepaal en daarvolgens werk, maar die nuwe regulasies stel die departement in staat om skole te dwing om leerlinge in te neem, ongeag of daar kapasiteit is of nie.
  3. Skole sal nie meer hul taalbeleid kan toepas nie. Omdat die LUR vir onderwys leerders eensydig in skole plaas, word skole se taalbeleide in geheel verontagsaam. In praktyk sal alle skole dan uiteindelik enkelmediumskole met Engels as onderrigtaal word. Beheerliggame se besluitnemingsmag oor skole se taalbeleid word hierdeur effektiewelik weggeneem.

Carien Bloem, AfriForum se projekkoördineerder van onderwys, sê die organisasie sal graag wou sien dat Lesufi vervang word met ʼn LUR wat in belang van gehalte-onderwys en leerderwelstand sal optree. Die LUR moet daarop fokus om die 80% wanfunksionele skole te verbeter en nuwe skole aan te bou.

“Volgens die syfers tot AfriForum se beskikking is daar ʼn tekort van 348 skole in Gauteng terwyl daar net 85 in die vorige finansiële jaar gebou is,” sê Bloem.

Die organisasies is oortuig dat die beheerliggame en gemeenskappe self daartoe in staat is om hulle skole te bestuur terwyl ʼn onderwysdepartement ʼn meer ondersteunende rol moet vervul.

melanie-buys-sos-skoleondersteuningsentrum

Melanie Buys, SOS se hoof van stelsels, sê navorsing het bewys skole floreer waar gemeenskappe by die skole betrokke is. Foto: Verskaf.

“Navorsing wys dat skole floreer in gevalle waar die gemeenskap betrokke is en ’n aktiewe rol in die bestuur van ’n skool speel. Indien die LUR beheer van hierdie funksies oorneem, sal die gemeenskap geld, tyd en kundigheid onttrek,” sê Melanie Buys, hoof van stelsels by die SOS.

“Uitnemende skole steun swaar op geld en hulpbronne vanuit die gemeenskap, aangesien hulle al minder ondersteuning van die regering kry. Dit is ironies dat Lesufi meer mag oor openbare skole wil hê, terwyl regeringsubsidies en gesubsidieerde poste aan skole afneem.

“Skole sukkel ook toenemend om geld vanaf die departement terug te kry wanneer hulle ouers van skoolgeld vryskeld. Dit maak meer sin dat persone en groepe wat openbare skole befonds meer beheer oor die bestuur van ’n skool as die regering moet hê,” sê Buys.

werner-human-solidariteit-adjunkbestuurshoof

Werner Human, Solidariteit se adjunkbestuurshoof, het sy kommer oor magmisbruik binne die onderwysdepartement uitgespreek. Foto: Verskaf.

Solidariteit meen dat die wysigings aan die regulasies polities opportunisties en ’n vorm van magsmisbruik is.

“Die voorgestelde wysigings sluit diegene wat ten nouste by die bestuur en sukses van openbare skole betrokke is summier uit, en stel voor dat hierdie plek deur die staat ingeneem word,” sê Werner Human, Solidariteit se adjunkbestuurshoof vir regsdienste.

“Hierdie doelgerigte poging om openbare skole volkome van die staat afhanklik te maak, is onrusbarend. Dit is daarom noodsaaklik dat die publiek se teenkanting duidelik moet blyk,” voeg Human by.

Die organisasies wil die publiek ten sterkste aanmoedig om aan die openbaredeelnameproses deel te neem deur voor 29 Augustus 2018 op die onderskeie organisasies se webtuistes teen die “kaping” van skole kommentaar te lewer.

  • Lesers kan Virskole.com besoek om hulle mening oor die voorgestelde regulasies vir Gautengse skole te gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Irene ·

Hy bring net onmin onder suid afrikaner vir sy eie doel mense wil net aan gaan met hul lewens hier

Polla ·

Lesufi krap waar dit nie jeuk nie. mMaak liewer werk daarvan om die disfunksionele skole op n beter grondslag te plaas en laat goed funksionerende skole met rus om gehalte onderwys te bly lewer.

Lank al te laat ·

Gehalte onderwys het die dag in die graf beland toe die “slim” DBO die KABV kirrikulum begin implementeer het. Buiten al die gemors en leuens wat in die kinders se keelgatte afgedruk word in hul Lewensvaardigheid “vak”, is die KABV kirrikulum swak en verrot. Die NSC word nêrens anders in die wêreld aanvaar nie… net in SA. Dit alleen moet genoeg rooi ligte laat flikker. Maar ouers het nie ñ idee wat hul kinders daagliks aan blootgestel word in die kirrikulums nie… weinig van die “sensitiewe” vakke se boeke kom huis toe, dis nou AS ma die dag krag het om nog aandag te skenk wanneer sy haar kinders 7u in die aand die eerste keer sien weer. Gehalte onderrig in SA skole is ñ mite. Die paar “goeie” skole sal net so lank nog kan “window dressing” doen voordat die vrot seer begin oopbars.

IK ·

Mens is nogal vêr gevorder in die lewe indien jy tot die besef kom dat jy nie weet dit wat jy wel dink jy weet.

Irma ·

Sterkte, daardie man klou soos ‘n neut. Lyk amper of sy gekook pas by die gekook id regering se pot. Kyk maar rond.

gatvol ·

Lesufi het baie duidelik ‘n rassistiese en anti Afrikaanse agenda. Hy misbruik ouers se swaar verdiende fondse. Die ANC moet baie meer skole bou en ophou om deur politieke speletjies die blaam op Afrikaners te plaas.

zoom zoom ·

Stuur hom Limpopo toe Kzn waar daar groot probleme is met skole en onderwysers. Die anc het reeds genoeg skade aan skole in Gauteng gedoen.

Centurion ·

Hoekom word daar in die Zwartkops area, Centurion ‘n Engelse laerskool gebou?
Dit is in die kern van ‘n oorgrote Afrikaanse gemeenskap?

zoom zoom ·

Centurion. Daar word tans gebou aan ‘n nuwe engelse skool in die Swartkops area.

Centurion ·

@Zoom Zoom : my vraag is HOEKOM? Wat is die agenda?
(Ek weet, ek bly basies langs dit)

Tobie Klarens ·

Eenvoudig. Gaan kyk na hulle s.g “Spatial Development Plan”. Hulle bring die townships na die vorige blanke gebiede. In minder as 22 jaar sal die wit bevolking in getalle afneem van die huidige 8.5% van die bevolking tot onder 1%. Om dit dan so kras te stel, poep hierdie organisasies teen donderweer. Emigreer of aanvaar die onvermeidelike realiteite- assimileer, kompromiteer— Dit is bloot die realiteite en uitvloeisel van 1992 se referendum.

GM ·

Dis snaaks hoe die ouers en almal toegelaat word om geld te skenk en skole te help opbou tot spogskole, en dan wil die staat net als oorneem en besluit wie na die skole toe mag gaan en wie nie. En hoeveel gaan toegelaat word wie se ouers nie skoolgeld kan bekostig nie? Maar dan gaan die kind weggewys word wie se ouers dit wel sou kon bekostig. En daarmee sê ek nie dat die een kind belangriker is as die ander nie, ek wil net ‘n keuse gegee word waantoe my kind gaan. Belastinggeld kon aangewend geword het om skole te bou. Daar kon strawwe uitgedeel word vir die wat skole afbrand. Nou moet daardie kinders op ander plekke geakkommodeer word en ander kinders word weer benadeel. Volgende moet gratis vervoer gereël word, of gratis verblyf, boeke, ens. want kinders word na skole gestuur wat vêr van hul huise af is, alhoewel daar ‘n skool nader aan hul huis was wat nie op standaard is nie. Aksie-reaksie. Maar niemand leer ooit nie.

Stuiwer ·

Net weer ‘n bewys dat party mense alles will annekseer en nie ‘n dooie duit daarvoor wil doen nie. Gee, gee, gee en ek sal vat, vat, vat…..

Theresa ·

Ag vaderland tog! Elke pilaar waarop ‘n gesonde land kan staan word afgebreek. Waar gaan dit alles eindig. Dit lyk nie of dit baie lank gaan wees nie – dan is hierdie land platgeslaan.

Andrea van Vuren ·

Theresa, ons land is klaar platgeslaan. Geen hoop, geen uitkoms meer oor nie. NIKS! Alles tevergeefs sê die prediker.

Penellope Jones ·

Al wat hulle belangstel om te doen is om alles te vernietig – dan het hulle nie nodig om enigsins verantwoordelik op te tree nie.
Bo en behalwe dit, is dit polities soos elke ander aspek in Suid-Afrika.

Stuiwer ·

Dis nou hoe’n stout kind redeneer: as ek nie jou goeie skool vir myself kan vat nie, sal jy so sleg soos my skool moet raak. Niemand wen nie. Hierdie is ‘n direkte aanval op Afrikaanse skole. Hoe kan ‘n Afrikaanse skool bv. ‘n kind toelaat wat in Engels onderrig moet word? Moet die kind nie ‘n skool vind wat in sy behoeftes kan voorsien nie, of moet die Afrikaanse skole soos marionette wees wat hul fasiliteite moet aanpas om who knows who te kan akkommodeer. Stop dit nou, voor dit ‘n landswye tendens word!

Johan H. ·

Politikuste het teveel mag,,, Stuur hom om persoonlik n paar put toilette te gaan regmaak, Maar hy moet die dagga self meng,, as hy weet hoe werk n graaf, Hou hom asb weg van dink af,dit kan gevaarlik wees vir die om hom.

Die Stem ·

Dit is van die beste nuus wat ek in n lang tyd gehoor het!
Ons kinders is net te belangrik, dat hulle kan ly a. g. v. n persoon wat sy eie agenda bo die van die kinders stel.
Die persoon in hierdie pos, moenie rassisties wees en ook nie sy eie belange najaag nie.

Casper Labuschagne ·

Hulle kan gerus probeer, maar Lesufi is eintlik net die gestalte van ‘n baie groter probleem. En die groter probleem is dat #AfrikaansMustFall asook #AfrikanerManMustFall die mantra van ‘n nuwe opkomende geslag geword het. As Lesufi bedank sal enige jonger persoon wat hom vervang bloot dieselfde agenda volg maar met ‘n groter doelgerigtheid.

Die enigste skole wat verseker Afrikaans sal bly sal die skole wees wat nie deur die staat besig word nie. Dit is nou bloot ‘n kwessie van tyd.

1+1 ·

Ons dink dat die grondkwessie groot emosie ontketen het, Kom ons wag om te sien watter emosie homself sal uitspeel as die onderrig van ons kinders op die altaar geplaas het.

Ek glo nie dat die wetgewers besef dat hulle met vuur speel as hulle met kinders se onderrig-toekoms handel nie.

Lank al te laat ·

Die DBO speel al 20jr lank met die kinders se vlakke van onderrig. Nog geen haan het gekraai, hulle draai hul planne net mooi genoeg toe, dan stink dit nie so ooglopend nie. Ouers het nie ñ idee waarmee die DBO besig is in die onderwysplan vir hierdie landjie nie. Solank ouers hul kinders se opvoeding en onderrig aan die staat vertrou, kan die staat met daardie kind maak net wat hulle wil in die 6 of 7 ure van skoolgaan in ñ sg. “goeie Afrikaanse Skool”.

Alida ·

Daar gaan 80 kinders in een klas ingeprop word want hulle het in 25 jaar nie beplan vir die ontploffing nie.

Charles ·

Baie dankie, beveg hom met alles binne jul vermoe.

Ons sal oorwin.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.