Organisasies hof toe oor Tshwane se ‘onwettige’ begroting

(Argieffoto)

Twee inwoners-verenigings in die Tshwane-metro het ʼn dringende aansoek in die Pretoriase hooggeregshof gebring om die stad se begroting vir die huidige boekjaar ongeldig te laat verklaar. Indien die hof dié aansoek toestaan, kan die metro miljarde rande se inkomste verloor.

Die Tshwane Money Matters Caucus (TMMC) en die Agriculture Landowners Association (Alas! Tshwane) vra die hof om die stad se 2020-’21 begroting en die 2020-waardasierol ongeldig te verklaar omdat dit na bewering ongrondwetlik en onwettig is. Indien hul aansoek slaag sal die stad nie eiendomsbelasting of enige ander tariewe kan hef totdat die situasie reggestel is nie. Boonop sal dit terugwerkend wees van 1 Julie vanjaar toe daar begin is om die verhoogde tariewe te hef. Kenners voorspel die stad kan maandeliks tot R3 miljard hierdeur verloor.

In stukke voor die hof sê die organisasies die blaam vir die huidige stand van sake moet gesamentlik voor die deur gelê word van die LUR vir plaaslike regering, Lebogang Maile, die uitvoerende bestuur van Gauteng en die munisipaliteit se administrateur wat onwettig deur die ANC aangestel is. Hulle het die stad se noodbegroting aanvaar en glo ʼn verdraaide weergawe van die algemene waardasierol in werking gestel, in stede van die 2017-rol, soos die wet vereis. Dit het geweldige finansiële implikasies vir die stad se inwoners tot gevolg gehad.

Lebogang Maile, LUR vir samewerkende regering in Gauteng. (Foto: Twitter)

Die twee organisasies maak ook die skokkende bewering dat die waardasierol gebruik is om die waarde van eiendom, en dus ook die stad se inkomste, in spesifieke woonbuurtes buitensporig te verhoog, sonder enige basis vir dié verhoogde waardes. Daar is glo ook steeds volgehou met die onwettige praktyk om landboueiendom eensydig as residensieel te belas en belasting so viervoudig te verhoog. Dit is veral in die ooste van die stad gesien waar van die mees welvarende woonbuurtes geleë is.

Volgens art. 139 van die Grondwet het die administrateur nie enige wetgewende gesag nie en is sy magte beperk tot die uitvoerende gesag wat benodig word om die munisipaliteit aan die gang te hou; dan ook slegs vir 90 dae wanneer ʼn verkiesing vir ʼn nuwe raad gehou moet word.

Nogtans het die administrateur, Mpho Nava, na bewering eiehandig wetgewende gesag vir homself toegeëien en Tshwane se jaarlikse begroting sowel as die 2020-waardasierol deurgevoer. Hy het glo ook verskeie ander regulasies onderteken sonder om die nodige wetlike voorskrifte na te kom, aldus die hofstukke.

Lex Middelberg van TMMC het aan Maroela Media gesê dit wil verder voorkom asof die administrateur nie wettig aangestel was tydens hierdie optredes nie; sy aanstelling is eers op 21 Mei gepromulgeer, terugwerkend tot 23 Maart wat op sigself ongrondwetlik is. “En selfs al was dit nie die geval nie, het sy 90 dae in die administrateurspos verval lank voordat hy die begroting en die waardasierol goedgekeur het.”

Volgens Middelberg is die stad se begroting die wettige grondslag waarvolgens belasting en tariewe gehef word en as dit nie deur die stadsraad goedgekeur is nie, is dit onwettig om inwoners vir enige vorm van belasting of tariewe aan te slaan.

“Gevolglik gaan die stad nie ʼn inkomste hê nie en die begroting van R37 miljard beteken dan niks nie. Elke dag wat dié stand van sake voortduur verloor die stad R102 miljoen, oftewel R3,1 miljard per maand, wat ʼn grootskaalse ineenstorting van die plaaslike regering sal beteken.”

Middelberg haal die Munisipale Stelselwet aan wanneer hy sê belastingbetalers het die reg om ʼn dispuut te verklaar oor onwettige debiete op hul munisipale rekenings en om die betaling van sulke bedrae te weerhou. “Ons raad aan inwoners is om nie hul rekeninge te betaal totdat die dispuut in die hooggeregshof opgelos is nie, want dis onwaarskynlik dat hulle ooit die geld vir die onwettige eiendomsbelasting en ander tariewe sal terugkry,” sê hy.

Die Tshwane Metro is reeds in minagting van ʼn hofbevel wat in Mei vanjaar aan Alas! Tshwane toegestaan is en waarvolgens die metro gedwing is om inligting oor die eiendomswaardasierol bekend te maak.

Tshwane se woordvoerder, Lindela Mashigo, het aan Maroela Media gesê die munisipaliteit se kommentaar word weerhou totdat die hof ʼn bevinding oor die saak gemaak het.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Kokerboom ·

Baie dankie aandie organisasies wat die ANC boewery aan die groot klok hang! Het die ministers asook President GEEN gewete nie?!!!

Antoinette ·

Ek moes alreeds R1000 vir wie weet wat ookal betaal bo en behalwe die R4000 anders sou my krag nie weer aangeskakel word nie. Vir die volgende 10 maande word R800 by elke rekening gevoeg om “op te maak.” En dan is daar nog ‘n ‘administratiewe’ fooi ook.
Dit sal baie help as mens net die werklike gelese rekening betaal, maar nou is die probleem dat jy tans net die voorste deel van die rekening ontvang, en gladnie kan sien of dit geskat is of nie.
Ek het al hoeveel kere probeer om by ethswane te registreer maar loop my elke keer vas. Ek het ook nie toegang tot die kragboks nie.
Laaste rekening in elk geval belaglik.

Jaco ·

Lyk my daar is nog baie geld. Of miskien kan ons nie meer tel nie.

MrMagic ·

Hierdie groot metro’s is ‘n onding en te lomp. Kos die inwoners heeltemal te veel geld.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.