Organisasies kan nie appelleer oor Afrikaans op Tukkies

Die Skip (Universiteit van Pretoria) Foto: AfriForum Jeug

Solidariteit, AfriForum en AfriForum Jeug is in kennis gestel dat hulle nie kan appelleer teen ʼn hofuitspraak oor die uitfasering van Afrikaans as onderrigtaal by die Universiteit van Pretoria (UP) nie.

Die Pretoria-hooggeregshof het in Desember 2016 beslis ten gunste van die universiteit se nuwe taalbeleid om slegs Engels as primêre onderrigtaal aan die universiteit te gebruik.

Die verlof tot appèl is in Maart vanjaar in die Noord-Gautengse hooggeregshof gereserveer, hangende die appèlhof in Bloemfontein se uitspraak in dieselfde organisasies se saak teen die bestuur van die Universiteit van die Vrystaat (UV) oor hul nuwe taalbeleid.

Die appèlhof het later in Maart ten gunste van die UV beslis waarin Afrikaans ook as onderrigtaal uitgefaseer word.

“Die organisasies bly van mening dat die UP se nuwe taalbeleid op ’n growwe skending van Afrikaanse studente se grondwetlik erkende taalregte neerkom en indruis teen gesonde opvoedkundige beginsels, soos toegang tot moedertaalonderrig,” het Anton van der Bijl, hoof van die arbeidshofafdeling, gesê.

Hy het gesê die regspan van die organisasies sal die uitspraak oor die weiering van verlof tot appèl bestudeer en aan die hand daarvan oor verdere optrede in dié saak besluit.

“Omdat die beskerming en handhawing van studente se reg tot Afrikaanse onderrig vir Solidariteit en AfriForum ’n prioriteit bly, duur gesprekke met internasionale forums en kenners voort met die oog daarop om die stryd vir die beskerming van dié reg ook in die internasionale arena aan te pak. Tegelykertyd word alternatiewe Afrikaanse studiegeleenthede ook in die privaatsektor ontwikkel,” het hy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

wiedeman ·

Wel de la Rey – jy het dit reggekry om jou siel en jou taal te verkoop om die massas gelukkig te hou. Wonder hoe voel dit om jou siel te verkoop? Vertel ons asb?

Piet ·

Ek dink nie sy is ‘n Afrikaanse Delarey nie, so mens kan seker verby haar verraad kyk. Wat vir my veel meer onstellend is, is die eks-Broeders wat bykans eenparig op senaatsvlak teen Afrikaans gestem het. Hoe hulle met hulself saamleef weet nugter alleen. As die universiteit weer voor eksamentyd in vlamme opgaan sal hul moontlik besef uitwissing van Afrikaans as akademiese taal is die oplossing vir al die universiteit se probleme nie, maar die enigste buffer daarteen. Hopelik sink die eentalige multikulturele utopie binnekort.

Leendert ·

Mens mag nie ander mense se name noem nie, anders sensor Maroela dit. Hoe julle daar verbygekom het weet ek nie, maar terwyl ek daarvan praat, daar is nog ander anti-wit-sentiment wittes op die raad, waarvan daar ‘n paar bekendes is.

Piet Pille ·

Wiedeman ek reken die de la Rey voel nes die F. W. maar volgens hulle is dit die “regte” stap om te neem. Daar sal nooit ‘n skuldgevoel by die sulkes wees. Die enigste ware rede is soos jy aanvoer, MASSA DRUK en liefde vir geld.

Realis Vrydenker Erdvark ·

@Alle Kommentatore:
“Verduidelik asseblief aan die publiek hoe moet opleidingsinstansies te werk gaan om gelyke beregtiging te laat geskied vir opleiding in elke vakrigting in elk van die 11 landstale . Verduidelik asseblief waar moet die opgeleide dosente vir elke studierigtings in elk van die 11 tale gewerf word. Verduidelik waar die befondsing vandaan moet kom.”

Waar is die Kommentatore se voorgestelde gepubliseerde werkbare strategiese plan te vinde?

Leendert ·

Moet mens dan nou sommer boedel oorgee en als net in Engels doen? Is daar dan nie ruimte vir ten minste die bevordering van sê twee of drie swart tale nie? Mens dink aan streekverband, ons weet mos dat die nie moontlik is om dit nasionaal in al 11 landstale te doen nie.

As die mense se taal en kultuur nie gevoed word nie, sal hy altyd ‘n agterstand ervaar, gun hom ook ‘n plek op aarde om trots op sy taal en herkoms te wees.

Piet ·

Wysig die grondwet sodat daar slegs een amptelike landstaal is, as dit jou beter sal laat voel Aardvark.
Tot tyd en wyl, het elke taalgroep die reg tot onderrig in die taal van hulle keuse. Die Afrikaner kan nie beboet word as ander taalgroepe nie hulle regte opeis nie. By al die voormalige instansies waar Afrikaans eens die hoof voertaal was, is anderstalige student in Engels geakkommodeer sonder om enigeiemand se taalregte in te perk.

Awie Opperman ·

Dagsê Erdvark, my voorstelle is dat Studente die opsie gegee word om te kies in watter tale hul onderrig wil word. Dit is moontlik deur vakke in verskillende tale aan te bied, sodra die vraag dit lewensvatbaar maak. Verder kan daar ook van tolk dienste gebruik gemaak word om klasse en studiemateriaal te vertaal. Daar kan taal spesifieke univetsiteite gebou word, indien die vraag bestaan en indien die taal gevorderd genoeg is. Jy is heeltemal geregtig om met my te verskil, maar hoe regverdig jy jou standpunt dat een taal ‘n ander taal moet vervang sodat niemand moedertaal onderrig kan ontvang nie. Ons kan nie al 11 akkomodeer nie, so kom ons akkomodeer net 1 taal in plaas van 2 tale. Dis ‘n swak redenasie en bewys dat die wil ontbreek om ‘n inklusiewe oplossing te vind. Dit is nou wel nie ‘n gepubliseerde werkbare strategiese plan nie, maar ons land het bekwame akademici wat spesialiseer in die oplossing van hierdie probleme. Ek weet die PUK het ‘n goeie program gehad toe ek daar gestudeer het, maar ek weet ongelukkig nie of dit steeds gehandhaaf word nie.

Kaster ·

Erdvark, as sekere taalgroepe nie die wil of inisiatief het om kursusse in eie taal te ontwikkel nie dan kan dit nie ons wat wel die wil en enisiatief het terughou nie.

Egbert ·

Dit is nie Afrikaners se verantwoordelikheid om vir elke ander landstaal voorsiening te maak net omdat hy alles in sy eie taal kan en wil doen nie. Net so min as wat Engelse aanhangers vir die ander tale oplossings hoef aan te bied as hulle alles in Engels wil hê!
Elke taalgroep moet vir homself sorg, natuurlik sonder weerstand van die owerheid.

Alida ·

Dit is baie baie tragies. Aan die ander kant benadeel dit ook die oorblywende 9 tale wat goed is want hulle kan nie eers engels praat nie! Ons afrikaners kan regkom in engels. Kry vir julle maar sal seker die plek aan die brand steek en aandring op moedertaal onderrig en dan swig de la Rey weereens. Kom ons kyk wat gebeur maar ek sien vlamme, klippe en bande.

Onttrek alumniondersteuning ·

Onttrek alle alumnibydraes en dra ditoor aan Akademia.

JC ·

Dankie vir jou uitstekende voorstel jong :)
Afrikaans as akademiese taal sal NOOIT verdwyn nie, kyk net na Akademia vir inspirasie. Dit is ons erns en ons trots.
Asseblief Afriforum, roer hulle op internasionale vlak ook, dat die druk bly, en hopelik groei!

Oplossing Bosvark ·

My voorstel: Privatiseer ALLE tersiëre opleiding en doen weg met die Nasionale Departement van Hoër Onderwys. Dan kan elke private inrigting self besluit oor taalbeleid, toelatingsvereistes, bekostigbaarheid, standaarde, dissipline en haalbaarheid. Dan sal markkragte homself laat geld.

Peanut ·

Ek het dit voorheen gese en se dit weer begin met aanlyn klasse, die studente tal sal groter wees. Minder risiko vir Lektore en studente en die kinders kan internasionaal erkende grade kry. Die volk gaan in elk geval geboue brand en dan kan ons kinders in vrede eksamen skryf. Kyk mooi hulle gaan weer met eind eksamen begin staak

Kaster ·

Verseker is aanlynklasse die antwoord. Dit is inelkgeval die rigting waarin die wereld beweeg. AANLYN KLASSE BO!

Kaster ·

Ek hoop die regte mense lees peanut se boodskap want aanlynklasse is een van die belangrikste oplossings.

Robert ·

Ervark word wakker man.
Spur het agtergekom Afrikaanse geld het mag…Tuks is Niks sonder ALLE Afrikaanse geld. Skenkings, klasgelde ens.
Dan, Solidariteit/Afriforum is nie die regte voertuig om Afrikaans op kampus te hou nie. Hulle vind baat deur die situasie by Tuks weens die feit dat hulle ‘n eie universiteit het en dus hoop om meer studente te trek hoe slegter dit by Tuks gaan.
Hoekom 11-tale? Gaan na ‘n Universiteit wat reeds in jou taal onderrig gee. Los die paar Afrikaanse universiteite uit!

Dosent ·

Daar is baie dosente en ervare mense in Sotho, nguni tale. Niks keer hulle om ook materiaal in hul eie tale te ontwikkel nie. Maar los ons uit wat in afrikaans ontwikkel.

Ou Krimpvarkietjie ·

Beste Peanut en Kaster,

Ek wil ook nog die mediese en ingenieursgrade aanlyn doen. Los die politieke wetenskap vir die voltydse studente dat hulle kan oefen hoe om met gestreepte swart pakke klere en rooi dasse anti-koloniale politiek en korrupsie en stakings te beoefen. Ha-ha-ha. Mooi dag aanlyn.

Tas ·

Gaan kyk na die iaanlyn ngenieurskwalifikasies op edx.org en coursera.org Dit is van baie hoe standaard.

henk ·

Waarom moet die ouens wat nie Afrikaans magtig is na Afrikaanse Universiteite gaan?
Bou nog Universiteite en kry mense wat in ander tale kan doseer. Dan het meer mense werk ook.
Die feit is dat die Visie- Kanseliere daarop uit is om Afrikaans te vernietig – wat hulle nie gaan regkry nie. Dis duidelik soos wat Wiedeman se dat hulle eerder hulle siele sal verkoop as om enige rugraat te wys. Almal in Zuma en kie se sak – baie duidelik.

Hansie ·

Wel, Maroela kan julle asb vir my sê wat “taalbeluit” is in die tweede paragraaf van die berig?? Dit is ‘n goeie voorbeeld dat Afrikaans nog toegelaat moet word, aangesien die media nie eers meer afrikaans kan spel nie.

Janie Monsieur ·

Dagsê Hansie,
Dankie vir jou valkoog! Dit was inderdaad ‘n vingerfout. Die “beluit”, moes “besluit” gewees het. Ons het dit egter nou na “beleid” verander.
Dankie dat jy ons daarop gewys het!

Greotnis
Janie nms. Maroela Media

SARIE VAN HEERDEN ·

Ons het vir jare reggekom met Afrikaans as onderrig/opleidings taal maar terselfdertyd het studente wat bv Zoeloe magtig is hul opleiding in Westville naby Durban gekry. Jy het gegaan na die universiteit van jou verkose taal en dit het uitstekend gewerk. Soveel so dat van ons mense wat in Afrikaans opgelei is groot opgang in die buiteland gemaak het en daar uitgestyg het tussen “anderstaligess”. Gaan kyk hoe het die buiteland Suid-Afrikaanse wetenskaplikes een na die ander opgeslurp. Die taalkwessie word gebruik deur studente wat hulself wil inwurm waar hul net geplaas is om amok en steurnisse te veroorsaak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.