Organisasies oorweeg appèl teen Shell

‘n Omgewingsbetoger Sondag in Kaapstad. (Foto: RODGER BOSCH / AFP)

Die vier omgewings- en menseregte-organisasies wie se dringende interdik verlede week teen die olie-en-gasreus Shell van die hand gewys is, oorweeg dit om teen aspekte van die uitspraak te appelleer.

Dít terwyl die niewinsgewende organisasie Sustaining the Wild Coast (SWC) en gemeenskappe aan die Wildekus besluit het om nóg ʼn interdik teen Shell in te dien.

Dié saak, wat onafhanklik is van die ander vier organisasies sʼn, sal op 14 Desember in die hooggeregshof in Makhanda (Grahamstad) aangehoor word.

“Ons aansoek om ʼn dringende interdik in te dien, is gegrond op die feit dat Shell nie ʼn omgewingsmagtiging ingevolge die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur vir hierdie opname het nie,” sê Sinegugu Zukulu van die SWC.

“Ons weet dat die seismiese opname reeds in 2014 goedgekeur is, maar ons is nou in die jaar 2021 en ons moet verseker dat geen onwettige buitelandse eksplorasie deur ons regering toegelaat word weens nalatigheid of die waninterpretasie van wetsveranderinge sedert dit aanvanklik goedgekeur is nie.”

SWC wil hê dat die hof Shell se bedrywighede dadelik opskort totdat ʼn behoorlike omgewingsmagtiging gedoen is.

“ʼn Omvattende en bygewerkte omgewingsmagtiging sal verseker dat die stemme van alle Suid-Afrikaners in ag geneem word in ʼn besluit oor buitelandse olie- en gaseksplorasie en -ontginning,” sê Zukulu.

“ʼn Nuwe omgewingstudie sal bewys of dit wel wys is om seismiese opnames in die unieke biodiverse mariene ekosisteme aan die Wildekus te doen. Ons kan nie toelaat dat hierdie eksplorasie goedgekeur en voortgesit word op grond van verouderde en ontoereikende navorsing nie.”

ʼn Plaaslike tradisionele geneesheer, Mashona Wetu Dlamini, die Dwese-Cwebe-gemeenskap-eiendomsvereniging, verteenwoordigers van plaaslike vissers en All Rise Attorneys for Climate and the Environment – wat deur die Legal Resources Centre en prokureur Richard Spoor verteenwoordig word – sal saam die saak in die hof bestry.

Border Deep Sea Angling Association, Kei Mouth Ski Boat Klub, Natural Justice en Greenpeace Africa – wat deur die omgewingsregsfirma Cullinan & Associates verteenwoordig word – beplan ook om SWC in dié saak by te staan.

“Ons is vol vertroue dat die SWC en die gemeenskappe se interdik wel suksesvol gaan wees, en ons sal alles moontlik doen om hulle by te staan,” sê Melissa Groenink, prokureur by Cullinan & Associates.

Appèl dalk op hande

Hoewel die interdik van Deep Sea Angling Association, Kei Mouth Ski Boat Klub, Natural Justice en Greenpeace Africa van die hand gewys is, oorweeg hulle dit nou om teen die uitspraak appèl aan te teken.

Die vier organisasies se saak is Woensdag in die hooggeregshof in Makhanda (Grahamstad) aangehoor.

Waarnemende regter Avinash Govindjee het Vrydag uitspraak gelewer waarin hy die aansoek om ʼn interdik teen Shell se bedrywighede aan die kus van die hand gewys het, aangesien “onherstelbare skade aan mariene spesies” nie deur die applikante bewys kon word nie.

“Dit is ongelukkig dat die regter nie ʼn terugkeerdatum aan die applikante toegeken het nie, want ons hoop om verdere deskundige getuienis oor die skade wat Shell aan die omgewing kan aanrig, voor die hof te bring,” sê Groenink.

Die interdik was glo net ten doel om Shell se bedrywighede tydelik stop te sit sodat die organisasies die nodige bewyse kon inwin om die skade aan die omgewing te bewys.

Die regspan van Cullinan & Associates oorweeg dit ook om ʼn brief aan die hof te rig in ʼn poging om die regter se besluit om die organisasies se saak met koste van die hand te wys, uit te daag.

“Dit was heeltemal onverwags dat die regter gesê het die niewinsgewende omgewingsorganisasies moet hul eie regskoste én dié van Shell dra,” sê sy.

Talle lede van die gemeenskap het Sondag op strande in onder meer Kaapstad en Gqeberha (Port Elizabeth) opgeruk om teen Shell se seismiese opnames te betoog.

Shell sal na verwagting vir sowat vyf maande herhaaldelike skokgolwe uitvoer, op soek na gas en olie aan die seebodem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

JohanR ·

Ek doen dit al meer as 40 jaar. Op die hoofweg(N1) Gauteng toe ry ek verby en stop by die volgende een. Selfde in die stad. My hele familie het niks te doen met Shell. Maar Shell is ook lekker slinks…..toe hulle nie kon frack in die Karoo en daai mooi plek opmors nie toe probeer hulle nou die see, en met die hulp van die ANC en groot geld wat aangegee is, het hulle dit blykbaar nou reg gekry.

Jacobus ·

3de wereld kom? Ons is die derde wereld. Hierdie gas of olie gaan verseker nie n verskil maak aan my of jou sak nie.

annie ·

Kan ‘n mens ‘n regter laat vervolg as hy gejok het? In die Bybel se tye is regters wat sondig by die kranse afgegooi. Miskien moet die regter in dié geval aan die klaers bewys lewer dat hy reg is. As daar twyfel bestaan word skade tog vermy. Hoekom nie ook in hierdie geval nie?

Pieter ·

Met koste die saak verloor. Dit sê veel van die regter se objektiwiteit. Het Chancellor House nie aandele in Shell nie, hoeka van die fracking dae af?

Pieter ·

Belangrik is dat Shell se impakstudie relevant is en gegrond op ondervinding en insette van onafhanklike kundiges. ‘n Algemene risikobepaling is niksseggend. Klank trek verder in water as in lug.

Pieter ·

In elk geval het die laas.te CO.P ber.aad milj.oene Rand aan SA belo.we om na gro.en ener.gie om te ska.kel. Dit is teenstr.ydig.

Tipper ·

Shell laat sak julle bore en dril,dit sal baie werksgeleenthede skep,die mense sit net daar in hulle peperduur huise en dra niks by nie en maak net geraas, ons het al Goud, steenkool en diamante ontdek,nou moet ons net daai klomp olie kry, generaal Rommel het gesê laat dit dreun.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.