Organisasies reageer ná hof se uitspraak teen Abrahams

Adv. Shaun Abrahams, die hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG). Foto: Flickr/GovernmentZA

Die DA, die VF Plus en die burgerregte organisasie AfriForum het Vrydag die Noord-Gautengse hooggeregshof se besluit om Shaun Abrahams se aanstelling as nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV) ter syde te stel, verwelkom.

Die hof het Vrydag bevind Abrahams se aanstelling was onwettig en moet daarom ter syde gestel word. Regter Dunstan Mlambo het beveel dat adjunkpres. Cyril Ramaphosa binne 60 dae ʼn nuwe NDOV aanstel en dat pres. Zuma dus die mag vir dié aanstelling ontneem word.

AfriForum het Vrydag gesê hy verwelkom dié uitspraak. Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid, sê die nasionale vervolgingsgesag (NVG) moet volgens die Grondwet sonder vrees, guns en vooroordeel optree.

“Dit het duidelik geword dat Abrahams nie hierdie grondwetlike beginsels nakom nie. Suid-Afrika kon nie langer bekostig om ’n NDOV te hê wat beweerde korrupte persone soos president Jacob Zuma beskerm nie,” sê Taute.

Corné Mulder, hoofsweep van die VF Plus, het dié uitspraak van die hof as “ʼn ongekende stap in Suid-Afrika se staatkundige bestel sedert 1994” bestempel.

Mulder sê regter Dunstan Mlambo se uitspraak is ʼn oorwinning vir geregtigheid, aangesien sy aanstelling in die pos “hoogs verdag” was. Hy sê die regter se aanbeveling dat adjunkpresident Cyril Ramaphosa ʼn nuwe NDOV moet aanwys, skep nou die geleentheid om ʼn ervare en onafhanklike persoon aan te stel om te verseker dat die NDOV se kantoor weer die vertroue van die publiek wen.

“Dit sal verkeerd wees om weer die vorige direkteur, Mxolisi Nxasana, aan te stel aangesien daar allerweë aanvaar word dat pres. Zuma hom in 2015 met R17 miljoen omgekoop het om sy pos te ontruim. Hierdie is inderdaad goeie nuus wat positief ontvang sal word deur die publiek. Daar rus egter nou ʼn groot taak op die skouers van adjunkpresident Ramaphosa om te wys dat hy erns daarmee het om korrupsie te beveg deur die regte persoon aan te stel,” sê Mulder.

Hy sê dié pos behoort deur ʼn regsgeleerde soos die vorige Openbare Beskermer (OB), Thuli Madonsela, beklee te word.

Die DA het Vrydag in sy reaksie gesê pres. Zuma, wat aangedui het dat hy teen die uitspraak wil appelleer, probeer die strafregtelike verhoor teen homself vertraag – een wat hy jare gelede reeds in die oë moes kyk.

Hy het gesê Abrahams moet ongeag pres. Zuma se appèl sy amp verlaat sodat iemand wat “werklik die werk kan doen” kan oorneem.

“Hy het homself in sy onbevoegdheid onderskei deur absoluut geen proaktiewe optrede te neem teen enige van die bewerings van korrupsie wat die afgelope maande aan die lig gekom het nie,” lui die verklaring van die DA.

Die party het ook gesê hy verwelkom die hof se besluit om pres. Zuma te verhoed om ʼn nuwe NDOV aan te wys deur dié taak aan adjunkpres. Cyril Ramaphosa te gee.

“Hierdie is die ideale geleentheid vir Ramaphosa om sy werklike toewyding [aan die land] te demonstreer deur die plaag van korrupsie in die staat te bestry deur iemand met integriteit en onafhanklikheid aan te stel. Die DA doen ʼn beroep op Ramaphosa om nie 60 dae te wag om dit te doen nie, maar om die aanstelling onmiddellik te maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Jakkalas ·

Tyd vir nuwe voorraad van popcorn en slush puppies. Hier kom iets om te aanskou.

Carina Falck ·

Skerp! Ek het jare gelede vir ’n klomp landbouseuns skoolgehou. Een van hulle het een middag in ’n klasdebat ’n taamlike rowwe storie oor ’n insident in sy lewe vertel. Een merk toe op : “Juffrou hierdie storie is beter as ’n fliek. Ons kort net popcorn…. ”

Ek gaan spring solank die mielies!

Von ·

Dankie Here vir die groot stuk genade. Ons bid vir ons land en sy mense vir veredere wyse besluite. Dankbaar vir die regter se wyse besluit. Ondersteun Thuli vir die pos.

Yo Yo ·

Regter Dunstan Mlambo jy gaan ‘n nasionale hero word met hierdie uitspraak en die jumping jack Zuma gaan nou verantwoording doen vir sy korupsie en Ramaphosa stel vir Thuli aan want sy sal die werk kan doen sonder gunste en gawes vir die korupte spul yo

andrea ·

wat maak die VF+ se doorstep so aanvaarbaar die grondwet verhoed hierdie uitspraak om uitgevoer te word.Gaan studeer julle grondwet voordat almal prys uitdelings en lofsange sing.Tyd dat ons as Arikaner ons wette en grondwet moet leer dit is hoekom ons as Afrikaner nooit weer hierdie land sal en kan bestuur nie oor ons kortstandige siening en ander rasse net kritiseer en aanval.Ons behoort eerder met oplossings te kom maar ons as Afrikaner wil godsdiens voorhou en kritiseer ek is gelukkig nie deel van hierdie gelowiges wat groter sonde pleeg met hulle woorde op hierdie forum.

Johann Marx ·

Is daar nog iemand met “integriteit en onafhanklikheid” oor in hierdie vlak Afrika landjie?

Stefaans ·

En Cyril gaan iemand aanstel wat lojaal is aan die ANC, dan gaan die plundertog net voort.

Jacques venter ·

Cyril sal nou baie versigtig moet optree. Eers na die leierskap verkiesing sal hy drasties kan optree. Moet niks verwag vir 2017 nie

Fourie ·

Hierdie soort nuusberigte maak my opgewonde oor die toekoms van ons land. Mag Ramaphosa met integriteit sy keuse maak.

Lucille ·

ASSEBLIEF! ASSEBLIEF! Net een persoon kan daardie pos vul – Adv Thuli Madonsela. Asseblief Mnr Ramaphosa – red Suid-Afrika en gee vir ons Thuli.

Hansie slim ·

Lucille, jy vat die woorde uit my mond. Is daar nie ‘n manier wat ons kan “lobby” vir Thuli Madonsela nie? Miskien op Facebook maar ons soek eintlik iets grooooter …..
As dit sou gebeur…sy vat nie nonsens van enige iemand nie!

Sarie ·

Is daar nie iewers ‘n borg of twee wat wil geld gee om plakkate te druk sodat ons dwarsoor die land paalplakkate opsit om Thuli Madonsela hier aangestel te kry nie. Soos politiekeverkiesingsplakkate, dan kan Ramaphosa nie die land se keuse miskyk nie

Basjan ·

Julle leef in ‘n droomwêreld as jullle dink Cyril gaan Suid-Afrika in ‘n utopia omskep. Daar gaan nog die appèlsaak wees wat afgehandel moet word, wat maande kan duur. Die ANC gaan wel ‘n haas uit die hoed trek om die saak so lank as moontlik uit te stel. Hulle kan maar julle popcorn bêre vir ‘n volgende geleentheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.