Organisasies sê ‘nee’ vir nuwe apartheidswette

Argieffoto (Foto: Shutterstock)

Politieke partye, sakelui, vakbonde, landbou-organisasies, onderwysorganisasies en talle ander burgerlike organisasies het Dinsdag namens miljoene Suid-Afrikaners ʼn gesamentlike resolusie aanvaar wat beswaar aanteken teen die Wysigingswet op Diensbillikheid (EEAA) wat streng kwotas vir die werkplek daarstel en in geheel onderhewig is aan die diskresie van die ANC.

Afgevaardigdes het namens hul organisasies die resolusie “Nee vir raswet” onderteken waarin die wetgewing en gepaardgaande teikens verwerp en enersdenkendes opgeroep word om op hul eie manier dié wetgewing en regulasies teen te staan.

Die resolusie lui onder meer dat die ondertekenaars ʼn stelsel van maatskaplike manipulering verwerp wat volmag aan die minister van arbeid en indiensneming gee om die Suid-Afrikaanse samelewing op grond van ras te manipuleer.

DA op pad hof toe

John Steenhuisen van die DA onderteken die resolusie “Nee vir raswet” (Foto: Reint Dykema/Solidariteit)

Die Demokratiese Alliansie (DA) sal hierdie week die Gautengse hooggeregshof in Pretoria nader om verskeie gedeeltes van die EEAA ongrondwetlik en ongeldig te verklaar.

John Steenhuisen, leier van die DA, sê die konsepvorm van die regulasies wat verlede maand uitgereik is ingevolge artikel 15A, sal as gevolg hiervan ook nie van toepassing wees nie.

“Die DA sal met sy indiening daarop wys dat die term ‘numeriese teikens’ wat deur die wet gebruik word, ʼn misleidende benaming is en dat die wet in werklikheid streng rassekwotas vir vier verskillende werksvlakke in 18 ekonomiese sektore bepaal. Die wet gee die minister die mag om kwotas vas te stel wat die spesifieke demografiese samestelling spesifiseer wat aangewese werkgewers moet bereik, of ernstige strafmaatreëls op die hals te haal – insluitend die onvermoë om besigheid met die staat te doen, die kansellasie van bestaande staatskontrakte, dwingende bevele en boetes. Hierdie kwotas kom neer op werkvoorbehoud gebaseer op ras op ‘n skaal wat laas gesien is voor 1994.”

Steenhuisen sê die skema oortree die grondwetlike regte op gelykheid, vryheid van handel, beroep en professie, asook die oorspronklike Wet op Diensbillikheid se eie verbod op kwotas.

“Die gewysigde wet verteenwoordig ʼn radikale, ongrondwetlike en gevaarlike versterking van die ANC se rassegebaseerde sosiale ingenieurswese. Dit bied geen buigsaamheid vir werkgewers om te bepaal wat uitvoerbaar is binne hul eie sake-omgewing nie, maar sentraliseer eerder mag in die hande van een minister om die rassesamestelling van werksplekke reg oor die land te dikteer. In sommige provinsies en sektore stel dit die kwota vir bruin en Indiese Suid-Afrikaners op 0,0% en 0,1%. In ander gevalle, soos in die Noord-Kaap, sal maatskappye in oortreding wees van die wet as dit ‘te veel’ swart vroue in diens neem.”

Volgens Steenhuisen is hierdie benadering teenstrydig met die basiese ekonomiese werklikheid dat verskillende werkgewers in ʼn spesifieke sektor verskillende werksbehoeftes het en deur verskillende arbeidsmarkte in die gesig gestaar word.

“Een werkgewer mag elektrisiëns benodig. ʼn Ander mag kodeerders benodig. ʼn Ander monteerders en draaiers. Maar artikel 15A van die wet sou die minister in staat stel om al hierdie werkgewers bymekaar te groepeer en hulle te dwing om dieselfde gespesifiseerde verhoudings van verskillende raskombinasies aan te stel. Ons kan nie toelaat dat hierdie drakoniese rasgebaseerde wetgewing van krag word nie. Dit sal nie net direk lei tot massawerkverlies nie, dit sal ook kapitaal- en kundigheidsvlug versnel op ʼn tydstip waarin ons ekonomie reeds in ʼn diepgaande krisis verkeer as gevolg van beurtkrag en ekonomiese wanbestuur. Uiteindelik sal alle Suid-Afrikaners ly as werkloosheid en armoede groei tot bo reeds katastrofiese vlakke.”

Steenhuisen sê die ANC se rassekwotawet is duidelik ontwerp om nie die ekonomie te laat groei nie, maar om rasseverdeling vir politieke doeleindes te saai.

“Dit beteken dat ons, bo en behalwe regsuitdagings, hierdie politieke plan direk in die aangesig moet konfronteer deur middel van die stembus. As ons ʼn ANC-EFF Doemdagkoalisie toelaat om volgende jaar aan bewind te kom, sal hierdie drakoniese rassekwotas slegs die begin wees van die vernietiging van ons ekonomie. Die DA is vasbeslote om saam te werk met alle vennote – sowel in politieke partye as in die burgerlike samelewing – om die oorwinning van die Moonshot-Pak oor die Doemdagkoalisie in 2024 te verseker om ‘n nuwe regering in te wy wat rasgebaseerde wetgewing na die asblik van die geskiedenis sal stuur.”

VF Plus voer reeds ‘jarelange stryd’

Pieter Groenewald van die VF Plus onderteken die resolusie “Nee vir raswet” (Foto: Reint Dykema/Solidariteit)

“Ná ʼn stryd van dekades wat die VF Plus gevoer het teen beleid en wette van die ANC-regering wat suiwer op ras gegrond is, is daar vandag oor ʼn wye spektrum hande gevat oor die aangeleentheid,” sê Heloïse Denner, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor arbeid.

Sy sê die wet is verteenwoordigend van alle wette en regulasies wat regstellende aksie (RA) en swart ekonomiese bemagtiging (SEB) rig waarteen die VF Plus sedert sy ontstaan hewig gekant was.

“Die gevolge van hierdie beleid en wette is presies die teenoorgestelde van wat dit beoog en is die uitstaande rede waarom die land ekonomies op die afgrond steier.”

Volgens haar is die groot probleem met die ANC se rassewette is dat niemand bemagtig is nie en geen onreg reggestel is nie.

“Onder hierdie beleid is tewens nuwe en meer onregte geskep en net enkele persone met direkte ANC-verbintenisse is bevoordeel. Die res van die bevolking is besig om te verarm met werkloosheid wat hoogty vier en ʼn nasionale infrastruktuur wat in duie stort tot nadeel van almal in die land, wit en swart.”

Ingevolge die resolusie wat aanvaar is op ʼn werkswinkel van Solidariteit in Centurion, sal elke persoon en groep wat hom daarmee vereenselwig, op sy eie manier protes teen die Wysigingswet op Gelyke Indiensneming aanteken.

ʼn Beroep word op die Suid-Afrikaanse regering gedoen om onderwys en opleiding reg te ruk om sodoende ʼn gesonde, vaardige arbeidsmark daar te stel.

“Die riglyne van die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) oor regstelling en die Verenigde Nasies (VN) se Internasionale Konvensie oor die Uitskakeling van Rassediskriminasie (ICERD), bepaal onder meer dat spesiale maatreëls tydelik moet wees, nie slegs op ras gefokus kan wees nie, op mense se sosiaal-ekonomiese posisie moet fokus en klem moet lê op opleiding en ontwikkeling.”

ʼn Beroep word deur die resolusie op die regering gedoen om by die riglyne van die IAO en ICERD te hou.

Die resolusie doen ook ʼn beroep op internasionale forums om druk op die regering uit te oefen om binne internasionale norme oor ras te bly.

“Die VF Plus verwelkom die verwikkeling en sien dit as die begin van ʼn sterk groeiende openbare weerstand teen die regering wat volgende jaar by die stembus op die spits gedryf kan word.”

Saai vra: Hoe kan die regering SEB op ’n gesin wil implementeer?

Dr. Theo de Jager, raadsvoorsitter van Saai (Foto: Reint Dykema)

Theo de Jager, raadsvoorsitter van Saai, sê in die aanloop tot die 2024-verkiesing het die ANC wetgewing en regulasies goedgekeur en voorgestel wat feitlik onmoontlik is om na te kom in die praktyk en heeltemal moreel onregverdigbaar is.

Saai het in die vergadering met die 25 organisasies beklemtoon hoe verwoestend die impak van beide die Wysigingswet op Diensbillikheid en die drakoniese rasgebaseerde kriteria vir waterlisensies op landelike werksgeleenthede, lewensbestaan en voedselsekerheid sal wees.

“Nakoming van die Wysigingswet op Diensbillikheid sal vir die meeste ondernemings die einde beteken. Dit sal die mees omvattende sosiaal-gemanipuleerde veldtog ooit wees. Deur 600 000 wit, Indiër en bruin bestuurders met swart bestuurders oor die volgende vyf jaar te vervang, sal swart werkloosheid hoogstens van 36% tot 34% afbring. Dít alles terwyl duisende sakeondernemings in die proses vernietig word. Die meeste plase is familieondernemings, hoe kan die regering swart ekonomiese bemagtiging (SEB) op ’n gesin wil implementeer?”

Saai stel dus voor dat sy lede eenvoudig nie die wet nakom nie terwyl druk op beleidmakers verhoog word deur regstappe, massamobilisering, beïnvloeding van buitelandse regerings en multilaterale instellings, burgerlike ongehoorsaamheid en openbare veldtogte teen die herinstelling van ’n rasgebaseerde bedeling soortgelyk aan apartheid.

“Saai glo nie dat dieselfde regering wat die staatsbeheerde entiteite (SOE’s), staatsdienste en Suid-Afrika se kredietgradering vernietig het, wat nie die ligte kan aanhou nie en geen sukses in die vermindering van armoede het nie, nou die ekonomie kan laat groei of dat hierdie nuwe apartheidswette ’n positiewe uitkoms sal hê nie.”

Gekoördineerde opposisie sal seëvier, sê Sakeliga

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga (Foto: Reint Dykema)

Sakeliga verwelkom ook die besluit om die Wysigingswet op Diensbillikheid (EEAA) teen te staan.

“Die EEAA sal nie net verslaan word deur ondernemings wat die implementering daarvan organies weerstaan nie, maar belangriker ook deur die gekoördineerde en groeiende opposisie van onafhanklike organisasies in die sake- en burgerlike samelewing en politieke partye,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga.

As mede-ondertekenaar sien Sakeliga uit na voortgesette samewerking met die ondertekenaars rakende litigasie, openbare voorspraak en ander internasionale en plaaslike pogings om die wet teë te werk.

“Die EEAA het geen vooruitsig op suksesvolle implementering nie. Uiteindelik vereis dit dat elke besigheid oral in die land in elke dimensie die rasse- en ander demografiese verhoudings van die nasionale bevolking moet weerspieël. Namate daar gepoog word om die wet te implementeer en af te dwing, sal dit weerstand verkry vanaf sakegemeenskappe wat geen ander keuse het as om hierdie onmoontlike, skadelike en moreel onaanvaarbare wet te vermy of te bestry nie.”

Le Roux sê Sakeliga se regspan is tans besig om ʼn hofaansoek voor te berei met inagneming van die openbare belang aspek van ʼn gunstige sakeomgewing. “Ons sal in die loop van Junie 2023 verdere aankondigings hieroor maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

houopkruip ·

Waar is die korporatiewe maatskappye, banke, versekerings maatskappye, konstruksie maatskappye, multi miljoeners, retail hoofde, ens, ens, ens ???
Hierdie maatskappye en hul uitvoerende hoofde skitter in hul afwesigheid in hierdie verset. Maar hulle wil deel in die sukses van Afriforum en Solidariteit (wat vir ons regte baklei).

Andrew ·

Weier volstrek om dit na te kom. As die overhede aagter ons aankom sal dit tyd wees vir saamstaan en die anc se truuks van terrorisme, soos deur die 60’s tot90′ gesien is, teen hulle te gebruik. As dialoog nie werk nie , wat bly oor…?

Harley Davidson ·

Diskriminasie gebaseer op velkleur, die openlik praktyk in Suid-Afrika sonder enige teenkanting van die slagoffers.

Papsak ·

Dankie vir Afriforum en Solidariteit wat wil baklei en op staan vir ons regte baie dankie maar ek stem waar is al die ander hoekom staan hulle nie saam nie

Ronél ·

Ek bly stom-verbaas dat die wit minderheidsgroep steeds so ‘n bedreiging inhou vir die meerderheidsgroep.

Lynne ·

And i thought that ” apartheid” was out? Now its just reversed. What happened to Mandela’s promise.
” By the people for the people”
Its taken a dive. This new ANC Government is out to turn our country into another Zimbabwe

Amelia ·

Ons land gaan nie nog n zim wees nie eerder n ethopia waar daar niks isn ie

Johan Botha ·

En nou? Die ANC was in die verlede só gekánt teen “rasisme” (wat deur die ANC georkestreer was om SA in onguns by die res van die wêreld te bring- en dit met leuens en vals propaganda reg gekry het!) en nou is die einste ANC besig om hulle mag te misbruik met implementering van growwe, blatante, rasistiese en haatlike wetgewings.

Jacques Dawie ·

SA kaners moet op hou om reaktief op te tree. Ons staan almal saam teen drakoniese wette en voorstelle, maar tree nie aktief op nie. Hoekom elke keer wag vir die cANCer om ons aan te val. Baklei terug, staan die BBBEE teen, veg dat die kwota sisteem stop, moet nie wag tot ons aangeval word en dan iets wil doen nie. Die cANCer hou ons besig met dinge, terwyl hul besig is met ander dinge…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.