Organisasies snoer kragte saam oor ‘onteieningslys’

Van links is Ernst Roets, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum, Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, en Louis Meintjes, president van TLU SA (14 Augustus 2018). Foto: Rozier van Tonder

AfriForum, TLU SA en Sakeliga gaan kragte saamsnoer en ʼn gesamentlike regstrategie ontwikkel om die regering se planne om eiendom sonder vergoeding te onteien, teen te staan.

Die drie organisasies het Dinsdagmiddag by ʼn mediakonferensie in Centurion gesê hulle nooi enige ander organisasies wat hulle hierin wil ondersteun om by hulle aan te sluit. “Ons glo saam is ons sterker en die beskerming van eiendomsreg is iets wat nie net vir AfriForum belangrik is nie, maar vir talle ander organisasies en Suid-Afrikaners. Dit is iets wat almal raak,” het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, gesê.

Kriel was saam met Ernst Roets, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum, Louis Meintjes, president van TLU SA, en Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, op die paneel wat lede van die media te woord gestaan het.

Die mediakonferensie is gehou na aanleiding van ʼn lys wat AfriForum Sondag bekendgemaak het wat sedertdien groot opslae veroorsaak het. Dié lys bevat die name van 195 eiendomme, meestal plase, maar ook enkele kleinhoewes en erwe, wat na bewering deur die regering geoormerk is om sonder vergoeding onteien te word. AfriForum sê die lys word as ʼn interne dokument binne die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming (DRDLR) versprei en die organisasie het die lys deur ʼn betroubare bron bekom.

ʼn Woordvoerder van die DRDLR het Maandag ten sterkste ontken dat die lys eg is en het aan Maroela Media gesê AfriForum jaag spoke op en dat daar geen lys bestaan van eiendomme wat vir onteiening sonder vergoeding geoormerk is nie.

AfriForum hou egter voet by stuk dat daar wel waarheid in die lys steek. Roets het Woensdag daarop gewys dat Zizi Kodwa, hoof van die presidensie, asook ander lede van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) vroeër in die media bevestig het dat die DRDLR oor ’n onteieningslys van 139 eiendomme beskik.

“Maite Nkoana-Mashabane, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, het ook aangedui dat haar departement reeds grond vir onteiening geïdentifiseer het, maar dat sy die lys nie gaan openbaar nie, aangesien dit as waarskuwing vir benadeelde eienaars sou dien en dié eienaars die geleentheid sou gee om op regsaksie voor te berei. Pres. Cyril Ramaphosa het ook amptelik aangekondig dat hy en die ANC die Grondwet wil wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak,” het Roets gesê.

Ernst Roets, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum, tydens die mediakonferensie (14 Augustus 2018). Foto: Rozier van Tonder

“Daar is dus geen twyfel dat daar wel ʼn onteieningslys bestaan nie. Die status van die lys wat AfriForum ontvang en bekendgemaak het en die inligting daarop, kan gedebatteer word, maar dat daar wel ʼn lys bestaan, is ʼn feit.”

Meintjes het ook gesê dat daar by hom geen twyfel bestaan dat daar waarheid in die lys steek nie. Volgens Meintjes het TLU SA sedert die bekendmaking van die lys baie inligting by hul lede ontvang wat daarop dui dat die lys wel eg is. Hy het bygevoeg dat hy vermoed die staat gaan die plase op die lys nie sonder vergoeding onteien nie, maar sal begin deur dié plase te onteien teen vergoeding wat aansienlik laer is as markwaarde. “Dit sal dan as ʼn eerste stap dien, met die uiteindelike doel om grond sonder enige vergoeding te onteien,” het hy gesê.

Volgens Meintjes is daar baie sprake van “verwarring” en onsekerheid onder grondeienaars sedert die lys bekendgemaak is. “Ek kan vir julle sê, ons is nie verward nie. Die president het in soveel woorde gesê hulle is van plan om grond sonder vergoeding te onteien en ander regeringsamptenare het dit laat glip dat daar ʼn lys eiendomme is wat vir hierdie doel geoormerk is. Dit maak tog net logies sin. As jy wil begin om grond sonder vergoeding te onteien, waar gaan jy begin? Deur ʼn lys te maak natuurlik.

“Die regering moet ʼn toetssaak hof toe vat, ʼn saak wat hulle kan wen en waarvan die uitspraak gebruik kan word om ʼn presedent te skep vir al die sake wat gaan volg. Dit maak dus net logies sin om ʼn lys te maak van eiendomme wat voldoen aan die nodige kriteria en wat jou saak die beste sal ondersteun,” het hy gesê.

Op ʼn vraag of TLU SA al kon vasstel of daar enige ooreenkomste is tussen die plase wat op die lys verskyn, het Meintjes gesê dit is nog te vroeg om te sê, maar dat die organisasie besig is om dit vas te stel. “Ons is tans besig om inligting te versamel oor al die plase op die lys: wie is die eienaar, is daar ʼn verband op die plaas, is daar mineraleregte op die grond, is dit naby ʼn township geleë, is die plaas produktief, ens. Om hierdie inligting van meer as 190 eiendomme na te gaan kan egter onmoontlik nie in ʼn dag gedoen word nie, so ons sal later in ʼn beter posisie wees om die vraag te beantwoord.”

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga (14 Augustus 2018). Foto: Rozier van Tonder

Daar is tydens die mediakonferensie ook verwys na ʼn verklaring deur die Instituut vir Rasseverhouding (IRV) waarin dié instituut die lys as geloofwaardig bestempel. Die IRV het in die verklaring gesê nadat sy analiste die lys onder oë gehad het, en hy rede het om te glo dat die lys eg is. Die instituut het gesê dit lyk vir hom asof die regering wel met grondgrype gaan voortgaan voordat die parlementêre proses oor die saak afgehandel is.

Le Roux het tydens die konferensie daarop gewys dat dit kommerwekkend is dat baie van die besluite wat deur die ANC gemaak word soortgelyk is aan besluite wat deur Zanu PF in Zimbabwe gemaak is. “Of die blootgelegde lys die finale lys is al dan nie, is nie die kruks van die saak nie. Die feit is dat die ANC wél ’n lys het van plase wat die party met toetssake, onder die huidige Grondwet, wil onteien. Dit beteken dat die ANC, net soos ZANU-PF destyds in Zimbabwe, gaan probeer om beslaglegging op plase met prosedurele legitimiteit te beklee. As sakelui-, landbou- en burgerregte-organisasies is dit ons plig om – in almal se belang – die Zimbabwe-scenario te verhoed deur oor ’n breë front saam te werk,” het hy gesê.

Volgens Kriel stem AfriForum saam dat swart mense toegang tot grond moet hê en die geleentheid gegee moet word om suksesvol daarop te boer. Hy het beklemtoon dat grondhervorming egter op ʼn verantwoordelike manier gedoen moet word. “Die regering moet die blaam kry vir die mislukking van grondhervorming aangesien hy daarin gefaal het om die proses behoorlik te administreer.”

Meintjes het hierby aangesluit deur te sê dit is die regering se versuim om sy eie beleid te implementeer asook erge korrupsie binne die proses wat die rede is hoekom grondhervorming misluk. Hy het gesê boere word as ʼn gerieflike sondebok gebruik vir die regering se mislukkings.

Volgens Meintjes is hy gereeld in gesprekke met boere en het hy hieruit bewus geword dat daar boere is wie se plase deur die regering geteiken is vir onteiening (met vergoeding) wat dan nie hierdie onteieningskennisgewings teenstaan nie. Volgens Meintjes verkies hierdie boere om eerder net die vergoeding te vat en die plaas agter te laat aangesien hulle bekommerd is oor eiendomswaarde in die land wat aansienlik val weens die onsekerheid oor grond.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

Dawie ·

Werk asseblief ook saam om selfbeskikking te verwesenlik, dan kan die boere hulle grond behou.

Celtis Africana ·

Nou begin ek hoop kry!
Mooi so TLU! Nog altyd gedink jul staan kop en skouers bo die ander landbou organisasies uit!
Die IRV se mening is ook baie welkom!
Hoe steiler die opdraende, hoe nader kom ons aan mekaar.
Dit moet soos n tert in die gesig wees vir Agri SA.

Callie ·

Net n dwaas sal sy rug hierop draai en nie sy volle samewerking aan die groepe gee nie. Die oomblik as die ANC iets ontken weet jy hulle lieg. Dis oor en oor bewys in al die korrupsie klagtes.. Nou moet almal wat hoop die land kan n sukses wees en oorlog wil vermy saamstaan. Daar is geen kans om terug te staan nie. Jy is net vir chaos of vir n toekoms

Karooboer ·

Hoe meer organisasies wat die belang van blankes belangerik ag, saamwerk, hoe beter. Welgedaan manne. Eendracht Maakt Magt

1+1 ·

Die lesers het nou meer inligting as gister, maar nog nie genoeg om sonder woede en emosie enige sinvolle kommentaar te lewer nie. Deel asb met die maroelamedia soveel inligting as moontlik.

Antoinette ·

Ek wil net een ding weet….Wat van die produktiewe plase wat in die verlede onteien is waarvan daar niks oor is nie??? Hoe gaan die staat dit in die toekoms verhoed? Hoe minder produktiwiteit daar op die plase is hoe meer werkloosheid. Dis my beskeie mening / vraag?

John ·

Indien my raad enigsins iets werd is, sou ek aanraai die hierdie mense hulle sekuriteit opskerp. Hierdie spulletjie is nie ‘n skooldebat oor hoeveel toebroodjies skooltoe bring mag word nie… selfs sulke beuselagtighede het al tot vuisgevegte buite die skoolhek gelei.

Rina ·

Welgedaan Afriforum Dit Spreek boekdele dat jul vir boere en land opkom Ons moet saamstaan nou Ek weet dat Vaalfontein wat op die lys verskyn naby Bophelong en Sebokeng is te Vanderbijlpark en Vereeniging

Jerry ·

Die DA wat die grootste en sterkste opposisie party is en wat sake teen die ANC wen en nie soos sekere organisasies verloor nie, staan ook OSV teen. Dit maak dus sin dat die DA die hoofrolspeler gaan wees om OSV teen te staan en dat alle ander partye en organisasies wat ook teen OSV is soos onder andere die forum, hulle gewig agter die DA sal moet ingooi en nie anders om nie. Waarmee die forum nou besig is, is eerstens om hulle fout te verskans deur in ontkenning te staan van die feit dat die lys die verkeerde lys is en tweedens skep die gebeure dan ook die ideale geleentheid aan die forum om nog lede te probeer werf. Dus moet die samesnoer van kragte wat reeds n geruime tyd al bestaan tussen die forum en TLU, gesien word vir wat dit werklik is naamlik n bemarkingsfoefie!

Willem ·

Jy meen hulle moet, om Onteiening Sonder Vergoeding teen te staan, hul gewig agter die DA in die parlement en in die werkskomitees ingooi, hoe gaan hulle DIT reg kry, daar waar hulle in alle geval in die minderheid is? Nie een van die instansies én die ander soos die stigtings ens, wat by hierdie groep hier bo moontlik gaan aansluit, is politieke partye nie. Die politieke partye het nie die vuis om dit te doen nie, wel die burgelike organisisasies en die Stigtings. En dan sien ek die DA is nog tjoepstil, so hulle het nog nie aan ‘n plan gedink en inisiatief getoon om nou leiding te neem nie.

Loeis ·

Jerry, kan jy onthou hoe hard die DP (wat DA geword het) en mense soos Helen Zille in die 80’s baklei het om die ANC aan bewind te kry? Weet jy dat die DA vandag net meer as 20% van die setels in die parlement het, en die ANC net meer as 60%, en dat jou party aan hierdie stelsel help skep het waarin die ANC nie demokraties gewen kan word nie?

Jan ·

Ou cyril en sy joodse en chinese meesters lag lekker vir julle patetiese ou pofinkies..

pieter ·

Juis omdat daar ten sterkste ontken word dat daar so n lys betsaan, glo ek dit is wel die korrekte lys. Die leuens van die ANCircus is nimmereindigend.

Skaap ·

Die DA is dan vir regstellende aksie, vir aborsie en vir ‘n ander gruwel wat ek nie hier sal noem nie. Dis nie vir niks dat hulle ander naam is ‘DANC’ of ‘ANC light’ is nie. DA is die wolf in skaap klere. Die wat in die kaap is moet na die ‘Cape Party’ kyk en dan seker die ‘Vryheids Front’ vir nasionaal. As ons net ‘n referendum in die Kaap kan kry dan kan dinge in die regte regiting begin beweeg.

JAN ·

Rhodesie was AFSETTINGs Van huurpag grond wat Blair nie wou betaal soos belowe by Lancester House.
Dis nie gewapende roof LITE soos hier nie. Die ligte weergawe van die ABO.
Maar eiendomsregte grondgebied soos megaboere kan aandeleblok skemas wees om vervreemding te voorkom. Ek dink dis die enigste model vir die Volkstaat. Orania se postmoderne konsep.
Hmmm,??

Cornelia ·

Wie die laaste lag, lag die lekkerste Jan. Ons sal egter nooit in enige stryd ons begewe sonder geloof in ‘n Godgegewe toekoms hier, net hier in ons Land Suid – Afrika nie. En sonder God gaan ons ook geen stryd tegemoet nie. Dankie Afriforum en medestryders.

Zimbabe Eerste ·

So was die “grondhervormings” stappe in Zimbabwe: “Willing Seller, Willing Buyer”, “Compulsory acquisition” (met verminderde kompensasie), “Fast-track land reform and violence” (onteiening sonder vergoeding). Klink dit bekend. As dit so is kan jy seker in ‘n mate jouself moontlik so beskerm http://www.bit.ly/2MK36FC

Ekonomiese Verdediging ·

In Zimbabwe het die grondhervorming ook begin met “Willing Seller, Willing Buyer” toe later “Compulsory acquisition” (met verminderde kompensasie) en die uiteinde was “Fast-track land reform and violence” (onteiening sonder vergoeding). As dit bekend klink dit bekend, probeer bit.ly/2Pa9Lur op ‘n opvoedkundige/informatiewe wyse toon dat jy seker in ‘n mate jouself moontlik kon beskerm – as jy vooraf geweet het

Delarey ·

Dis nou van die uiterste belang dat ervare strategiese denkers namens boere onderhandel oor onteiening.

Solidariteit en Afriforum het die leiers en ondervinding net soos wat Cyril Ramaphosa gehad het. Die geskiedenis het geleer dat Roelf Meyer polities na-ief en eenvoudig nie opgewasse was tydens grondwetlike onderhandelinge nie.

As Kriek die strategiese insig kortkom wat nodig is om te verstaan hoekom Afriforum die lys van plase gepubliseer het kan hy dit nog verkoon word. Hy maak egter nog twee ander denkfoute.

Eerstens reken hy Agri SA het alleenreg om so ‘n lys te publiseer of nie. As dit nie die geval was nie sou hy geen rede gehad het om onsteld te wees dat Afriforum die lys publiseer het nie.

Tweedens besluit hy om Afriforum openlik te kritiseer.

Die feit dat Kriek bereid is om gegewe die situasie waarin Afrikaners hulle bevind openlik vir Afriforum te kritiseer wys duidelik dat hy nie opgewasse is vir sy rol nie.
Ek is self ‘n lid van Agri SA en ek nooi alle boere om hulle skriftelike misnoeé deur te gee aan Agri SA. Verder stel ek voor jy gebruik jou tak en streek struktuur om ‘n mosie van wantroue in Kriek te dryf. Die logiese volgende stap is ‘n formele strategiese samewerking tussen Afriforum en Agri SA.

Wat die algemene publiek aanbetref stel ek voor julle laat julle stemme ook hoor by Agri SA.

Komaan boere, laat julle stem hoor!

Daan Erasmus ·

So herhaal die geskiedenis homself…! Mense staar onteiening (met of sonder vergoeding) in die gesig. My simpatie is met hulle. Een Sondag more lankgelede het Boere ook opgestaan en in die koerant gesien hulle grond is klaar onteien…..nie ‘n lys vir moontlike onteiening nie. Dit was gedoen vir die ontwikkeling van die destydse Tuislande. Dit was deur ‘n Blanke regering aan Wit Boere gedoen. PW Botha het agterna gese: “die Tuislande in nie ‘n heilige koei nie”. Ses en veertig gesinne was ontwrig teen die minimum vergoeding waar nie ‘n enkel een homself weer ten volle kon hervestig nie. Ses en veertig gesinne was ontwrig, die plase gekonsilideer en elf meelopers van die NP was gevestig. Slegs een oorspronklike eienaar het sy grond teruggekry. Kyk nou hoe mooi het die ANC by die NP geleer. Beskou die lys as ‘n vroee waarskuwing sodat die betrokkenis Regsgereed kan wees. Afriforum het reg opgetree. TLU se optrede word ook ondersteun. Leer uit die verlede……die Regering maak wat hy wil. Sonder teenstand is dit nog makliker.

AniVis ·

My ouma (nou 94 jaar oud) het my ook al baie keer vertel van hoe hulle plaas in Chunespoort buite Polokwane gevat was vir Tuisland ontwikkeling. Dit was ‘n suksesvolle melk plaas en hulle het ook met sorghum en ander gewasse geboer daar. Na die plaas onteien is, moes hulle in die dorp gaan bly omdat daar nie genoeg geld was om weer ‘n plaas te koop nie….

Skittery ·

Ek moet sê die VF+ skitter in hulle afwesigheid oor die kwessie van DFGSV (diefstal van grond sonder vergoeding), of raas hulle so hard dat dit oorverdowend is? Dis nou die party wat volgende jaar my stem moet kry. Die DA raas ook nie te hard nie, seker oor hulle gaan vir die kiesers se stemme wat gaan voordeel trek uit die diefstal van blankes se grond

Hertzog ·

Daar kom ‘n tyd wanneer die pen en papier nie meer werk nie … Ons is nou daar

At ·

AgriSA is irrelevant en moet met die nodige minagting hanteer weer.

Marie ·

Waar is Agri SA?Die lys is van plase waar boere gaan aanbied het aan die staat en te veel geld wou hê.Nou slaan die blinde sambok.

Lelik ·

Lekkkkkker afriforum en TLU SA….nou begin die volk bymekaarkom

Boer ·

Ons sal moet ophou mor en kla en kritiek lewer en mekaar begin ondersteun…..elkeen op sy eie staan niemand n kans

Sarel ·

Wanneer gaan ons besef dat die ANC n kommunistiese stelsel daar wil stel, Met die restutisieeise was dit die selfde. Sekere spesifieke plase en gronde was geeis toe gaan die regering en gooi n kombers oor die breer gebied asof dit geeis word . Die uiteinde was dat talle eise onsuksesvol was. Nou probeer hulle onteining om die selfde doel te bereik.
Bestudeer die kommunistiese model dan sal jy besef dit is net, of hulle vat alles vir die staat en verwoes of n burgeroorlog . Ons het twee keuses. Sou jy enige waarde heg aan onderhandeling, stop nou en gee oor. Die mense wat so spottenderwys na die grensoorloe verwys en vra wat bereik wou word, voel!!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.