Organisasies verwelkom hof se besluit oor Reserwebank

busiswe-mkhwebane

Adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer

Die sakeregtewaghond AfriSake het Dinsdag die hofbeslissing dat die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) sy mandaat sal behou soos wat dit in die Grondwet omskryf word, verwelkom.

Maroela Media het vroeër berig die Pretoriase hooggeregshof het vandag in die SARB se guns beslis en die bank se onafhanklikheid van enige aard van onbehoorlike invloede wat mag bestaan, bevestig.

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer, het die Parlement op 17 Junie vanjaar beveel om die SARB se mandaat in die Grondwet te wysig. Volgens haar voorgestelde wysigings sou die SARB op die sosio-ekonomiese welstand van burgers moes fokus, eerder as om die waarde van die rand te beskerm en op ekonomiese groei te fokus.

“Die openbare beskermer is as ‘t ware op haar plek gesit; dit moet as waarskuwing dien vir ander openbare liggame wat probeer om by die sake van onafhanklike instellings in te meng,” het Armand Greyling, regs- en beleidsanalis by AfriSake, gesê. “Ons durf onsself nie in ’n situasie bevind waar daar op ’n sentrale bank beslag gelê en die bank van sy magte gestroop word om politieke agendas te dien nie. Ons salueer sowel die hof se beslissing as die SARB omdat hulle teen die openbare beskermer se foutiewe toepassing van die reg opgestaan het.”

Die VF Plus het ook die uitspraak verwelkom. Anton Alberts, woordvoerder van die VF Plus, het gesê die OB het haar magte oorskry om kommentaar te lewer oor die wysiging van die Grondwet wat sy veronderstel is om te beskerm en om die regte daarin vervat te bevorder.

“Dit is wel verblydend dat die OB dit wel uiteindelik besef het en nie die Reserwebank se aansoek tot die hooggeregshof om haar verslag tersyde te stel teengestaan het nie. Die OB het nou ʼn geleentheid om haar mandaat van meet af uit te voer sonder om politieke uitsprake self te maak, ongeag haar eie siening van sake. Haar plig is nou om haar grondwetlike mandaat uit te voer en al die sake met betrekking tot staatskaping sonder vooroordeel te ondersoek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Eish ·

Die OB is nie eens in staat om in die skadu van haar voorganger te loop nie. Groot duik in die OB se reputasie.

Hanna ·

En sy was die beste kandidaat vir die OB pos? Ek sidder om te dink wie dan weggewys is… Nee wat, politieke aanstelling aka bedmaatjie v nr 1. En sy het haar hand sommer met die intrapslag lelik oorspeel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.