Organisasies verwelkom Strafhof-uitspraak oor Al-Basjir-saak

nternasionale-strafhof

Die Internasionale Strafhof in Den Haag, Nederland. Foto: En.wikipedia.org.

Amnestie Internasionaal en AfriForum het Donderdag ʼn uitspraak deur die Internasionale Strafhof, dat Suid-Afrika versuim het in sy plig om die Soedannese president Omar al-Basjir in hegtenis te neem, verwelkom.

Maroela Media het vroeër berig die Internasionale Strafhof in Den Haag, Nederland, het uitspraak gelewer in verband met die Suid-Afrikaanse regering se versuim om Omar al-Basjir, president van die Soedan, in hegtenis te neem toe hy die Afrika-unie se beraad in Junie 2015 in Johannesburg bygewoon het. ʼn Lasbrief is deur die Strafhof uitgereik vir Al-Basjir se inhegtenisneming. Al-Basjir word van oorlogsmisdade, misdade teen die mensdom en volksmoord aangekla. Die hof het Suid-Afrika se argument verwerp dat hy in ooreenstemming met internasionale gewoontereg ten opsigte van diplomatieke immuniteit, nie ʼn president in hegtenis kon neem wat Suid-Afrika besoek het op uitnodiging van die Afrika-unie nie. Die hof het gesê Suid-Afrika het geen reg gehad om ʼn eensydige besluit te neem om Al-Basjir nie in hegtenis te neem nie.

Amnestie Internasionaal (AI) het gesê vandag se bevinding het net bevestig wat almal, insluitend Suid-Afrikaanse owerhede, al lankal weet. “Al-Basjir het nie immuniteit van inhegtenisneming nie en alle partye, verbonde aan die Statuut van Rome, moet hom dadelik in hegtenis neem die oomblik wat hy hul land betree en hom aan die Strafhof oorgee,” het Netsanet Belay, AI se Afrika-direkteur vir navorsing, gesê.

“Dit is skokkend dat ander lande, soos Jordanië, ook in hul verpligting versuim om Al-Basjir in hegtenis te neem en die besluit maak dit duidelik dat hulle doelbewus internasionale wetgewing oortree.”

Belay het gesê Donderdag se uitspraak stel ʼn belangrike presedent.

Intussen het AfriForum gesê hy hoop die Internasionale Strafhof se verdoemende uitspraak sal Suid-Afrika moreel wakker skud. “AfriForum hoop dat die regering sal besef dat dit nie eensydig en immoreel kan optree nie, maar aan internasionale wetgewing en verpligtinge onderhewig is.”

Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum verantwoordelik vir internasionale skakeling, is die Strafhof se uitspraak ’n sterk morele oordeel oor die huidige regering se arrogante en eensydige optrede die afgelope twee dekades in die openbare arena. “Dit beklemtoon die belaglikheid van die regering se verskonings dat Al-Basjir deur diplomatieke immuniteit van arrestasie gevrywaar is en dat die regering se verpligtinge om hom in terme van die Statuut van Rome te arresteer, onduidelik was.

“Hoewel geen materiële strafmaatreëls op Suid-Afrika van toepassing sal wees nie, is hierdie uitspraak ’n verdoemende oordeel oor die regering se mislukking in terme van sy etiese verpligtinge teenoor slagoffers van oorlogsmisdade en growwe menseregteskendings,” het Bailey bygevoeg.

Sy het gesê die feit dat plaaslike howe ook bevind het dat die regering nie sy verpligtinge in hierdie verband nagekom het nie, plaas Suid-Afrika in ’n nog skerper lig van kritiek wat sy internasionale beleid en sy houding jeens menseregte aanbetref. “Die feit dat afgevaardigdes tydens die ANC se nasionale beleidskonferensie van die afgelope week opnuut die regering aangemoedig het om aan die Strafhof te onttrek, dui op die morele bankrotskap van die party. Die regering se reaksie op die uitspraak en toekomstige stappe om met die onttrekking voort te gaan, al dan nie, sal meer lig op die toekomstige reputasie van die regering en die ANC werp.”

Sy het gesê die ideaal is dat die uitspraak ’n keerpunt vir die regering sal wees om in die toekoms meer eties op te tree, maar gemeet aan vorige gebeure, is AfriForum helaas nie optimisties dat dit die geval sal wees nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Michael ·

Die regering steur hom nie aan reels of wette nie kyk maar net na die land met die domste president in die hele wereld

Jan Nel ·

Hulle kon maar regtig die geld wat hierdie hofsaak gekos het, gebruik het om ‘n klomp fidget spinners te koop.

Klep ·

Ja of wit oliefantbeeldjies. Daar is niks so nutteloos soos n hofuitspraak sonder byt nie.

De Villiers ·

Ironies dat die ANC sterk voel oor Al-Basjir en ondersteunend teenoor hom optree, gesien in die lig van sy oortredings teen die mensdom, maar hulle is vinnig om beskuldigings teen apartheid te gee en hul gevoel daarteenoor uit te spreek. Dubbelsinnig.

Vermeende ·

Die ou verskoning, dit was nie duidelik nie of ons het nie geweet nie of “pain of the past”

So voorspelbaar!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.