Organisasies wil politieke inmenging in sport hokslaan

Foto: AfriForum

Solidariteit en AfriForum gaan vandeesmaand die verslag “Transformasie in SA Sport: Telbord nie in regering se guns” by vyf internasionale sportliggame indien.

Die verslag fokus op politieke inmenging in Suid-Afrikaanse sport. Dit volg nadat die vakbond en burgerregtewaghond deur middel van hofstukke inligting bekom het rondom die najaag van ’n rasgebaseerde kwotastelsel in Suid-Afrikaanse sport.

Die organisasies gaan Wêreldrugby, die Internasionale Krieketraad, die Internasionale Netbalfederasie, die Internasionale Olimpiese Komitee en die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies besoek. Tydens die besoek gaan Solidariteit en AfriForum in fynere besonderhede wys hoe die betrokke Suid-Afrikaanse sportliggame direk teen die internasionale reëls en regulasies van die betrokke sportsoorte opgetree het.

“Politieke inmenging in sport is direk in konflik met die reëls en regulasies van die internasionale sportliggame wat besoek gaan word. In die vorige bedeling het die ANC aangevoer dat meriete alleen die maatstaf moet wees, nou volg hulle nie hul eie standpunt nie,” het Henk Maree, AfriForum se woordvoerder, gesê.

Maree sê voorts dat die inmenging in sport deur Suid-Afrikaanse politici bloot ’n wyse is om goedkoop blootstelling te kry om hul eie agendas te bevorder. “Die enigste wyse waarop politici volhoubaar tot sport kan bydra, is om hulself toe te spits op die verantwoordelike besteding van fondse om jong atlete se talente te ontwikkel – ongeag hul ras.”

“Hoewel dit skreiend is dat die regering sulke strawwe rassekwotas afdwing, is dit egter geen verrassing nie. Plaaslike rassewetgewing en internasionale ooreenkomste is vir die regering maar net lippetaal,” sê Anton van der Bijl, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke.

Volgens Van der Bijl is die regering se rasse-ideologie lankal reeds sigbaar en kan die party sy rasgedrewe motiewe nie meer verbloem nie. “Die hof moet die ontneming van geleenthede aan uitnemende plaaslike sportlui weens die regering se onwettige rassekwotas veroordeel,” voeg hy by.

Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut, het gesê hul navorsing het aangedui dat die stelsel nie bevooroordeeld is nie. “Die enigste manier om meer swart springbokke te kry, is om meer swart skoolseuns te kry om rugby te speel – daar is geen kortpad nie. Ons moet na ’n sportomgewing beweeg waar uitnemendheid hoogty vier; een wat meer besorg is oor die telbord as die spanfoto.”

Die publiek word aangemoedig om hul steun te wys en hul naam by die klag te voeg wat ingedien gaan word deur AfriForum se webtuiste te besoek of hul naam na 45113 te SMS (R1).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Veritas ·

Julle moeite en toewyding aan dít wat reg is, gaan nie ongesiens verby nie. Ek voel net dat julle energie mors aangesien die ANC hulle nie steur aan dít wat met netbal en rugby gebeur nie. Dit is nie hulle sportsoorte nie en hulle gee nie ‘n snars om of Suid- Afrikaanse spanne internasionaal deelneem of nie. Hulle steur hulle dan nie eers aan die Wêreldhof se bevindinge aangaande ‘n staatshoof wat verantwoordelik was vir massauitwissing nie. Nee wat. Die ANC het lank die speletjie met die sogenaamde weste gespeel en weet dat hul blaf erger is as hulle byt.

SARIE VAN HEERDEN ·

Los die sport want niemand kan iets daaraan doen nie. Dit kan beslis nie vir nieblankes ‘n kompliment wees as hy weet hy sit in die span agv sy velkleur nie en nie omdat hy goed genoeg was daarvoor nie . Maar dan wonder ek of hy dit BESEF!?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.