Organisasies wil saamspan teen Shell

Shell (Argieffoto)

Die omgewings- en menseregte-organisasies Natural Justice en Greenpeace Africa het aansoek gedoen om by die hofsaak aan te sluit wat namens die gemeenskappe en plaaslike vissers aan die Wildekus teen die olie-en-gasreus Shell gebring is.

Dié saak word Maandag in die hooggeregshof in Gqeberha (Port Elizabeth) aangehoor. Die hof moet dan beslis of die departement van minerale hulpbronne en energie (DMRE) se besluit om ʼn eksplorasiereg toe te staan, hersien moet word, soos die niewinsgewende organisasie Sustaining the Wild Coast (SWC) versoek.

Shell beplan al vir ʼn geruime tyd om ʼn seismiese opname aan die Wildekus te doen in sy soeke na gas en olie aan die seebodem. ʼn Interdik teen Shell se opname is verlede jaar deur die hooggeregshof in Grahamstad toegestaan, wat Shell tydelik verbied het om met sy bedrywighede aan die seebodem voort te gaan. Dít nadat Natural Justice en Greenpeace Africa ook ʼn aansoek om ʼn interdik in dieselfde hof ingedien het, maar onsuksesvol was.

“Weens die ooreenkomste tussen die twee hofsake het Greenpeace Africa en Natural Justice in Februarie besluit om ʼn aansoek in te dien waarin hulle versoek dat hul saak vir geregtelike hersiening saamgevoeg word met SWC se saak,” het die organisasies in ʼn gesamentlike verklaring gesê.

Die betrokke regeringsdepartement en Shell het geen besware teen dié aansoek aangeteken nie, maar Impact Africa het beswaar gemaak.

Natural Justice en Greenpeace Africa se aansoek om by SWC se saak aan te sluit, sal nou ook Maandag in die Gqeberha-hooggeregshof aangehoor word.

Argumente voor die hof

Volgens die organisasies maak die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne (MPRDA) én die Wet op die Nasionale Omgewingsbestuur (NEMA) Shell se aktiwiteite prima facie onwettig.

Shell voer aan dat die omgewingsbestuursprogram wat in 2014 goedgekeur is, as ʼn omgewingsmagtiging dien, maar volgens die organisasies het Shell bogenoemde wette oortree, aangesien die bestuursprogram nie as magtiging beskou kan word nie.

Die organisasies sal ook aanvoer dat Shell se beweerde omgewingsbestuursprogram verouderd is en “aansienlike inligtingsgapings bevat, waaronder moontlike skade aan die omgewing en die impak van die opnames op gemeenskappe se regte”.

“Die program en oudit bevat geen oorweging van die plaaslike gemeenskappe se kulturele, geestelike of geskiedkundige verbintenis met die see nie,” sê die organisasies. Hulle argumenteer ook dat gemeenskappe nie voldoende in die saak geken is voordat die departement eksplorasieregte aan Shell toegeken het nie.

Indien SWC se saak suksesvol is, sal “verskeie gebrekkige besluite aan die kant van die departement tersyde gestel word”, terwyl Shell en Impact Africa verbied sal word om seismiese opnames ingevolge die betrokke eksplorasiereg te onderneem.

Die organisasies hoop ook dat die hof sal bevind ʼn omgewingsbestuursprogram ingevolge MPRDA is nie gelykstaande aan ʼn omgewingsmagtiging ingevolge NEMA nie.

“Dus mag diegene wat in besit is van ʼn eksplorasiereg kragtens MPRDA geen seismiese opnames onderneem indien omgewingsmagtiging nie verleen is nie.

“Dit sal verseker dat enige toekomstige opnames by die voorskrifte van die wet sal moet hou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

Erge ironiese naam, Shell, want die maatskappy gee duidelik nie ‘n duit om vir die seelewe nie. Die gierige groep is orals langs kuste besig om skade aan te rig. Nou die dag is hul langs die Weskus aangevat, maar sowaar weer die see aan die oorkant aan’t omwoel. Ons liewe onbesorgde minister van alwetendheid glo skynbaar hy is die super kragbaas op die planeet en dan weer is die prez tjoepstil oor die ou oom se oordaadse eiewilligheid. Die land lê al klaar in skade en skande…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.