Oriani-Ambrosini het glo selfmoord gepleeg

Mario Oriani-Ambrosini. Beeldmateriaal: eNCA

Mario Oriani-Ambrosini. Beeldmateriaal: eNCA

Die IVP-LP Mario Oriani-Ambrosini het “besluit om sy lang stryd teen kanker te beëindig”, het sy familie Maandagaand gesê.

“Mario was in die laaste fases van terminale longkanker en het besluit om sy lang stryd teen die lyding te beëindig,” het die familie in ‘n verklaring gesê.

“Dit was ‘n positiewe en doelbewuste besluit aan sy kant. Hy wou nie meer ly nie, en sy familie ook nie.”

Oriani-Ambrosini is Saterdagoggend by sy huis in Kaapstad oorlede. Hy was 53 jaar oud.

Op ‘n vraag oor of Oriani-Ambrosini sy eie lewe geneem het, het sy familie gesê “hy het besluit om sy lyding te beëindig”. Sy familie sê hulle respekteer sy besluit.

“Die keuse is nie uit swakheid, vrees of wanhoop gemaak nie, maar uit sy moed of vasberadenheid om die finale besluitmaker ten opsigte van sy eie lot te wees.”

“Ons is net liewer vir hom en het meer respek vir hom weens sy dapperheid in die aangesig van dié aftakelende en uiteindelik dodelike siekte.”

“Hy het aan ons gesê: ‘Ek sterf in vrede en kalmte, omring deur die liefde van my familie en vriende. Ek sterf in ‘n tyd wanneer ek gereed voel. Dankie vir julle vriendskap en liefde wat ek in die tyd ervaar’.”

eNCA berig dat Oriani-Ambrosini homself geskiet het.

Daar is in Mei verlede jaar bekend gemaak dat Oriani-Ambrosini fase 4-longkanker het.

Oriani-Ambrosini het chemoterapie as ‘n behandelingsopsie verwerp omdat dit hom net ’n paar maande ekstra sou gee en ernstige newe-effekte sou hê.

Oriani-Ambrosini het in Februarie ‘n wetsontwerp voorgestel om die mediese gebruik van dagga te wettig. Hy het ook ‘n pleidooi aan president Jacob Zuma gerig om dokters die mag te gee om alternatiewe behandelings voor te skryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Willie ·

Wat is dit anders as genadedood. Genadedood kan mos gewettig word, inteendeel die besluit berus by die pasiënt.

Sterkte aan die familie. Dit maak dit draagliker dat hulle berusting gevind het deur sy besluit.

Thys Human ·

Maroela, wil julle nie die woord “selfmoord” uit julle redaksionele woordeboek verwyder nie. Daar is eintlik nie so iets nie. ‘n Mens kan jouself nie “vermoor” nie – jy kan net jou eie lewe beeindig of neem, selfdoding toepas.

Veral in gevalle soos die van Ambrosini wat duidelik heeltemal te lank gely het. In terme van die land se grondwet het elkeen die reg op lewe. Dit mpliseer ook die reg op “nie-lewe”. Ambrosini moet geloof word dat hy nie alleen sy eie lewe beeindig het nie, maar dit wereldkundig laat word het en so ‘n voorbeeld vir ander gestel.

Daar is gevalle – veral van jongmense soos pas weer gebeur het – waar self-doding tragies en onnodig was. Maar ek vermoed dat daar nie deur ouers en onderwysers en vriende genoeg kennis geneem is van probleme en gemoedstoestande nie. Ons sal moet leer om mens in nood gouer raak te sien en te help.

Die groot probleem met gevalle soos Ambrosini is dat medici steeds nie euthenasie mag toepas of selfs eens mense daarmee bystaan nie. Dis natuurlik gesetl in die ou uitgediende Hippokratiese eed dat medici lewe moet verleng. Dit behoort nie so te wees nie – medici se taak is om lyding te verlig – en as dit euthenasie vereis, dan behoort dit binne hulle regte te wees.

Willie ·

Dit is goed dat ‘n grofgeskutskrywer hier ‘n draai kom maak.

Peter Says ·

Thuys, genadedood word ook deur sekere gelowe veroordeel, ek stem egter 100% saam met jou skrywe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.