Oriëntering: NWU laat vaar sekere ‘praktyke’

Hoofgebou-potchefstroomkampus1

Hoofgebou by die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit Foto: Maryke Laas/NWU.

Die Noordwes-Universiteit se bestuurskomitee (UBK) het vandeesweek gesê hy het besluit om “sekere praktyke” met betrekking tot sy Registrasie- & Oriënteringsprogram (R&O-program) aan die universiteit te verander ná bewerings oor onregverdige behandeling en ongelukkigheid.

Prof. Dan Kgwadi, visekanselier, het in ʼn verklaring gesê daar is besluit om sekere praktyke aan die instelling te verander omdat die universiteit ten volle daartoe verbind is om die vryheid en regte van alle individue en groepe te respekteer en om gelykheid en menswaardigheid vir almal te verseker.

Die UBK het aangedui dat hy verskeie klagtes ontvang het wat dui op die moontlike skending van basiese menseregte waarna die bestuurskomitee met verskeie studentegroepe op die Potchefstroom- en Mafikengkampus vergader het. Dié studente het glo aangedui dat hulle ongelukkig is oor sekere praktyke van die Registrasie- & Oriënteringsprogram (R&O-program).

“Die UBK het dié praktyke geëvalueer en tot die gevolgtrekking gekom dat sommige daarvan nie bevorderlik is vir die NWU-strategie nie en nie aan toepaslike beleidstellings, reëls en regulasies voldoen nie,” lui ʼn verklaring van die universiteit.

Volgens die universiteit het die UBK op die volgende besluit:

  • Koshuisuniforms [teenoor klere met die NWU-handelsmerk op] mag net ná ure gedra word (d.w.s. ná 17:00), behalwe dat koshuishoofbedekkings en -rugsakke wat reeds aangekoop is, wel gebruik mag word.
  • Hoewel dit soms nodig is dat studente in groepsverband begelei word na gebiede waar aktiwiteite plaasvind, of waar universiteitsfasiliteite besoek word, is marsjeer in groepe en ʼn geskreeu op individuele studente of groepe studente nie toelaatbaar nie.
  • Studenteleiers moet hul deel doen om alle NWU-studente tuis te laat voel, ongeag kleur, taal of herkoms.
  • Taal moet gebruik word op ʼn manier wat nie uitsluitend is nie, maar as ʼn hulpmiddel vir integrasie en om kommunikasie en begrip onder studente te verseker. Die NWU se taalbeleid moet te alle tye ten volle toegepas word. Meertaligheid moet dus meermale toegepas word en daar moet van tolkdienste gebruik gemaak word waar van toepassing. Indien tolkdienste nie beskikbaar is nie, moet enigiets wat in één taal gesê word onmiddellik in die ander taal herhaal word.
  • Eerstejaarstudente of juniors moet met respek behandel word.
  • Eerstejaarstudente moet genoeg geleentheid en tyd gegun word om te rus.
  • Die amptelike program spesifiseer watter ure beskikbaar is vir die onderskeie aktiwiteite waaraan studente kan deelneem. Ligte mag nie afgeskakel word om studente te “dwing” om te slaap nie.

Die universiteit het in die verklaring gesê dié besluit sal ʼn meer inklusiewe NWU tot gevolg hê. “Dit is nie ʼn poging om studentelewe in koshuise op enige kampus aan bande te lê nie. Ons moedig alle spontane en georganiseerde aktiwiteite aan solank dit nie op enige student – eerstejaar of senior – afgedwing word nie, almal se menswaardigheid erken en respekteer, en in ooreenstemming is met ons sorgsaamheidsetiek,” lui die verklaring.

AfriForum Jeug het dié aankondiging veroordeel en gesê die universiteit het ouers “mislei om te glo dat hul kinders by die Puk met sy ryk studentelewe en unieke kampuskultuur gaan studeer” terwyl dit nie die geval is nie.

Ohann Fourie, AfriForum Jeug se nasionale koördineerder vir kampusstrukture, sê Afrikaanssprekende studente is na bewering gevra om te verdaag uit ’n vergadering wat  Kgwadi met ’n “bepaalde groep studente” in die Sanlam Ouditorium op die Puk-kampus gehad het, waarna hy slegs met nie-Afrikaanssprekende studente gesels het.

“Skep hierdie tipe aksies nie juis verdeeldheid wat lei tot die vervreemding van ’n sekere groep studente nie? Die meerderheid van die groep eerstejaars wat gevra is om te verdaag, het gesê hulle is tevrede met hoe die R&O-program verloop,” sê hy.

AfriForum Jeug sê hy meen dat die R&O-program in die verlede gewerk en sukses behaal het met die bevordering van eenheid onder studente.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Manie ·

Koebaai Pukke. Ek voorspel dit is die einde van julle net soos Jansen kovsies in die grond in bestuur het

TDW ·

Die ontgroening was die lekkerste gewees! Almal het saam “gelei” en ons aan mekaar gebind, want almal is deur dieselfde goed. Dis ‘n jammer dat hierdie studente nie daai ondervinding gaan kry nie, sodra die ontgroening verby is, is jy nou deel van die “grootmense” en dan kuier julle eers lekker saam. Dis eintlik ‘n tragedie. Tradisies is nodig om enigheid en orde te behou.

Oud puk ·

Ek is deur n baie streng O&B program n hele paar jaar terug en dit het my net sterkter gemaak en geleer hoe om die moeilike situasies in die lewe beter te hanteer. Ek wonder hoe hierdie groep die swaar in die lewe gaan hanteer? Elke keer na die CEO se kantoor toe hardloop as iets nie volgens plan verloop na hulle sin nie? Ongelukkig is dit nie hoe die lewe werk nie en hulle gaan dit op die moeilike manier moet leer.

LeesDieFacebook ·

Die bestuur het na ‘n 4 uur vergadering die reels reg gestel. Hulle het dit nou reggestel dat enige klere op enige tyd gedra kan word. En “Ontgroening” is al vir sy 4de jaar van die kampus af en ons het nie meer afbrekende maniere nodig nie. Ek persoonlik is nog deur die “ou” O&B en ek kan met vrymoedigheid sê dat die nuwe manier is by verre beter. Deur eerder die kampus te ondersteun en eerder nie op elektroniese media kla en neerhalende opmerkings maak nie, kan ons verseker dat alles gaan aanhou goed gaan en inklusief wees vir alle mense, eerstejaars en alumni ingesluit.

Anne ·

Die hele idee daarvan is om die 1e jaars te laat besef dat hulle nie so “groot” is as wat hulle dink nie. Ek was n (ouer) HK lid gewees wat die klomp kinders moes wys hoe universiteit werk itv leer, leef en wees. En hulle was te vol van hulself – ek is nou n grootmens – en hulle het net strooi aangejaag! Uni is daar om te leer!!!!! Die res is daar as n kersie op die koek. Maar hulle sien dit nie so nie. So as mens die leiding wegvat wat gaan van die uni, nog meer die studente, word??? En daar was nooit onderskeid getref tussen ras, taal of geloof gewees nie. Ek het juis bedank uit my posisie uit want ek was te kwaai gewees. My siening was en is steeds: as jy soos n grootmens behandel wil word, tree soos een op. En die kinders het nie daarvan gehou nie. En dit alleen spreek boekdele…..

Johannes ·

Nee wat, die begin van die einde vir Pukke. Presies dieselfde het by Tukkies gebeur en kym hoe lyk UP vandag….

Piet lourens ·

Geen probleem nie. Laat die studente wat wil meedoen hulleself indiwidueel en vrywillig volgens alle menswaardigheid organiseer en hul koshuisidentiteit uitleef en vrywillig en menswaardig nie toelaat dat n stert die hond swaai nie. Dan kan die wat vrywillig nie meedoen nie, nie kla oor die wat wel vrywillig meedoen nie. Eenmaal n Puk altyd n Puk!!!

t ·

Dank Vader die goedgekeurde boelie-ry word nou aan bande gelê. My ervaring van elke “ontgroening” waardeur ek nog ooit was, is die van ‘n klomp senior boelies wat die geleentheid gebied word om die jongeres af te knou, met toestemming. Vat die rammetjie uitnekke vas, maar los die ander uit. Hulle het gekom om te kom studeer. Hulle ouers betaal ‘n enorme klomp geld om hulle daar te kry. Nou moet daar, ter wille van “tradisie” mense geboelie word? Jammer, hou julle “tradisie” en laat my toe om MY lewe na MY goeddunke te lei. Nie almal pas in dieselfde boksies nie.

Peter ·

Prof Fika en trawante… bêre julle soetsappige boodskappe vir die wat belangstel…Julle het geen ruggraat nie!!

Dup du Plessis ·

…dankie tog my jongste (seun) was van die laaste groep wat nog ontgroen was – 2014-2017 Patria koshuis. En meer trots daaroor kan jy nie kry nie. Dis ‘n jammerte dis ‘n era wat verby is, PUK se toekoms het nou basies aangesluit by KOVSIES, RAU, STELLENBOSCH, UP ens, hoewel ‘n paar jaar agter in tyd is dit maar net nog ‘n klein rukkie… mag daar nou met alle erns vir ‘n besonderse Afrikaanse universiteit (privaat en onafhanklik) geywer word ….

Pukkeling ·

Sekere groepe van ons samelewing is so behep met menseregte. Ek was ontgroen op die Puk. Ons het liedjies gesing, doredrag gedra, vlotblommetjies gemaak, vlot gebou en blikkies geskud vir geld. Ek het nooit gevoel my menseregte is aangetas nie.

Ons het studietye gehad en ons moes tienuur saans in die koshuis wees. As ons laat was, moes die koshuismoeder noodgedwonge wakker gemaak word en ons please and explain. By jool is ons bewigings ingeperk en mag ons slegs vlot bou of saam met ‘n senior uit ons kampie beweeg. Dit was alles vir ons veiligheid. Jool is nie ‘n plek waar mens ‘n kind wat nou net klaar is met skool aan sy eie genade oorlaat nie.

Ek het net wonderlike herinneringe aan hierdie dae. Ongelukkig word dit nou ontneem van ander kinders omdat sekere mense regsbeheo is. Daar bestaan nie ‘n ding soos menseregte nie – eerder verantwoordelikhede.

LandieF ·

Wel gedaan Pukke!!
Ek is ook ontgroen op die Puk. Dit het my niks in die sak gebring nie. Dit het my wel weggehou van klasse af omdat ons toegesluit is in die koshuis. Ons is in die reen laat staan tot ons deurdrenk was. Ons moes al die klere in ons kaste aantrek en in die son oefeninge doen tot iemand flou word. Ons mag nie ons hare gewas het nie. En ons is voor gegil en geskreeu deur seniors. Rooi kleursels is in die stortkoppe gesit sodat ons velle moes kleur. Daar is nie nut aan hierdie praktyk nie. Behandel die eerstejaars soos die professionele mense wat ons nodig het in die werksplek. Dit sal hulle beter voorberei op die wereld as praktyke uitgedink deur senior studente.

Marisa, ou PUK ·

Die dag toe rektor oud dominee Eloff dit sy missie gemaak het om die woorde ‘in U lig’ en ‘vir Christelikke Hoër Onderwys’ te verwyder uit die leuse, was die PUK se lot beklink… daai noodlottige dag het ek geweet dinge is verewig anders. Trots kan ek se ek het n graad aan die PU vir CHO bekom…en nie by NWU. Mense vra my altyd waar is die ‘PU vir CHO’, hulle weet nie eers dis wie die PUK was nie. Dat daai hoofgebou n kweekhuis was vir predikante.
Volgende gaan hulle Potch net so Engels soos Vaal en Mafikeng maak…merk my woorde.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.