ʼn Taakspan is aangewys om die wrede moord en beweerde verkragting van ʼn plaaslike bejaarde van Orkney in Noordwes te ondersoek.
AO Elize Kruger, woordvoerder van die Orkney-polisie, het Dinsdag aan Maroela Media gesê die 76-jarige vrou het alleen in haar huisie op die dorp gebly en was baie veiligheidsbewus.
Die vrou is Saterdag omstreeks 09:00 die laaste keer lewend deur vriende en familie by ʼn kettingwinkel gesien.
“Sy moes Sondagoggend die kerk gaan oopsluit, maar het nooit opgedaag nie. Die kerkgangers en haar bure het maar aangeneem dat sy siek gevoel en Sondag tuis gebly het,” het Kruger gesê.
Kruger het gesê die vrou se kinders en kleinkinders, wat wyd verspreid oor Suid-Afrika woon, het Maandag begin bekommerd raak toe hulle nie die vrou in die hande kon kry nie.
“Hulle kon haar nie per selfoon in die hande kry nie en sy het nie oproepe oor haar huisfoon beantwoord nie. Die kinders en kleinkinders het die slagoffer se bure gebel en gevra om te gaan ondersoek instel.”
Volgens Kruger het bure na die vrou se huis gegaan en gesien die staalhek en voordeur was oop. “Hulle het verder gaan ondersoek instel en gesien die huis is deurmekaar. Hulle het op haar liggaam in die stort by haar slaapkamer afgekom.” Die bure het die polisie Maandag omstreeks 13:00 ontbied.
Die vrou se hande was met skoenveters vasgebind. Sy is na bewering verwurg. ʼn Geregtelike doodsondersoek sal egter gedoen word om die oorsaak van haar dood te bevestig.
Die polisie ondersoek nog wanneer presies die vrou vermoor is en hoeveel verdagtes betrokke was.
Sover vasgestel kan word, word twee klein televisiestelle vermis en ʼn onbekende bedrag geld is uit die vrou se beursie gesteel.
Die polisie ondersoek ʼn saak van moord, huisroof en verkragting. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die taakspan het ʼn volskaalse soektog na die verdagte of verdagtes van stapel gestuur.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
24 Kommentare
Hier gaan niks van kom nie.
lafaard. ou dame aangevat. hoekom probeer jy nie n rugbyspeler aanvat nie. te bang.
ek stem saam my vraag wat se lafaard doen so iets?. dit wys jou net. geen normale mens gaan so aan nie.ek kan net bid vir haar famielie dit is vreeslik.
Soveel haat teenoor ons bejaardes, Die oom van Garsfontein is ook Saterdag vermoor. Sterkte aan die familie
Ek kry sommer trane in my oë??????? knop in my keel