Orrelis vereer met FAK-toekenning

Die orrelis Zorada Temmingh ontvang haar toekenning van die FAK. (Foto: verskaf)

Die Stellenbosse orrelis Zorada Temmingh (59) is pas met die Andrew Murray-FAK-toekenning vir Christelike musiek vereer.

“Ek was totaal verbaas toe ek hoor ek kry hierdie toekenning. Ek het nooit gedink ek sal ’n toekenning ontvang nie. Die klassieke bedieningstyl is ’n kwynende musiekstyl. Dit is vir my wonderlik dat dít, eerder as ek, erkenning kry,” het Temmingh gesê.

Sy vertel dat sy tussen orrels grootgeword het en eintlik “toevallig” ʼn orrelis geword het.

“Dit (orrels) was altyd deel van my lewe. My ouma was vir 40 jaar ’n orrelis. Ek het nooit gedink ek sal ’n orrelis word nie. Ek wou eintlik ’n argitek word.”

Haar ma het óók orrel gespeel.

Om geld bymekaar te maak vir ’n klavier het sy in die kerk begin orrel speel.

“Ek het die orrelsalaris nodig gehad om die paaiemente van my klavier te betaal,” sê sy.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, het Temmingh beskryf as een van Suid-Afrika se voorste orreliste en orrel-improvisators.

Sy is veral bekend vir haar innoverende klankbaan-improvisasies vir die stilprente The Hunchback of Notre Dame, The Four Horsemen of the Apocalypse en The Phantom of the Opera en is boonop die eerste Suid-Afrikaner wat hierdie kunsvorm aangedurf het.

Haar grootste droom is om eendag op die orrel in die Notre Dame-katedraal, dié een waarvan die dak onlangs in ’n brand verwoes is, in Parys, Frankryk, te speel. So 15 jaar terug het sy dié orrel se merkwaardige klank die eerste keer gehoor.

“Toe ek daai orrel hoor, het ek geweet ek wil eendag daarop speel.”

Vir haar grensverskuiwende bydrae tot klassieke musiek is sy in 2006 op die KKNK met ’n spesiale Kanna vereer. In 2007 het sy die MJ Thom-toekenning vir uitmuntende onderwys van die FAK ontvang.

Sy het verskeie CD’s uitgereik, is deel van ʼn klavierduo en tree op as beoordelaar by verskeie musiek- en koorkompetisies. Tans is sy nasionale eksaminator vir die nasionale departement van basiese onderwys en ʼn moderator vir Umalusi.

Temmingh was tot 2007 departementshoof van musiek aan die Hoër Meisieskool Bloemhof op Stellenbosch. In 1995 het sy die Stellenbosch Nasionale Ensemble-kompetisie gestig, en was vir 11 jaar die hooforganiseerder daarvan. Tans is sy ’n vryskut-musikant.

Sy is sedert 1986 orrelis van die Moedergemeente op Stellenbosch, die eerste vroueorrelis van hierdie historiese kerk.

“Dit bly ’n voorreg, sowel as ’n uitdaging, om dit elke Sondag in twee eredienste te doen, nou al vir 31 jaar,” sê Temmingh.

  • Charl-Johann Lingenfelder het ’n spesiale Andrew Murray-toekenning ontvang vir sy aandeel aan die rolprent Kanarie, en Dana Snyman, skrywer van die soloverhoogstuk Dominee Tienie wat die basis vorm van die gelyknamige fliek, het ʼn spesiale Andrew Murray-toekenning vir sy skryfwerk ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Linda-Lea ·

Hi MM – In Par 12 is dit nou 2006 of 2016 – daar staan 20016.
Van harte geluk aan Me Temmingh met haar besondere musiekprestasies

Christel Cornelissen ·

Goeiedag Linda-Lea
Jammer daaroor, dit is inderdaad 2006.
Groete
Christel
(nms Maroela Media)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.