Oscar-familie reik verklaring uit vóór berig verskyn

Oscar Pistorius in die Pretoriase hooggeregshof tydens sy moordverhoor.  Foto: Ihsaan Haffejee/Pool/SAPA

Oscar Pistorius in die Pretoriase hooggeregshof tydens sy moordverhoor. Foto: Ihsaan Haffejee/Pool/SAPA

Oscar Pistorius se familie en regspan het laat Woensdag ʼn verklaring uitgereik in reaksie op ʼn mediaberig wat nog nie verskyn het nie, maar glo verband hou met ʼn oproep wat Pistorius op sy selfoon gemaak het.

“Sover dit ons aangaan is alle relevante kommunikasie voor die hof geplaas. Die tersaaklikheid van Oscar se kommunikasie deur middel van sy selfone, iPad en skootrekenaar is behoorlik deur die hof hanteer en die hof het uiteindelik bevind dat dit geen rol in die saak gespeel het nie,” het die Pistorius-familie en sy regspan Woensdagaand in ʼn verklaring gesê.

Die verklaring hou vermoedelik verband met ʼn berig wat Donderdagoggend op Eyewitness News verskyn het waarin daar beweer word dat Pistorius ure voor die dood van Reeva Steenkamp, met ʼn voormalige vriendin oor die foon gesels het. Volgens die berig het Pistorius vir sowat nege minute met Jenna Edkins gesels en is die “bewysstuk” nooit deur die polisie ontbloot nie. (Lees meer hier.)

“Ons is nie seker van die bewerings wat gemaak gaan word of die bron daarvan nie, maar ons is nie bewus van enige weglatings wat deur Oscar self of op sy instruksie gedoen is wat relevant kon wees vir die verhoor of dit kon beïnvloed nie,” lees die verklaring.

Regter Thokozile Masipa het Pistorius verlede maand skuldig bevind aan strafbare manslag. Hy is egter onskuldig bevind aan moord en is vrygespreek op van die aanklagte wat met die Vuurwapenwet verband hou.

Klik hier om die hooftrekke van die hofverrigtinge gratis op Maroela Media te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.