Oscar ‘gelukkig’ om die straf te kry; teen dan dalk vry

Oscar Pistorius. Foto: Werner Beukes/SAPA

Oscar Pistorius. Foto: Werner Beukes/SAPA

Oscar Pistorius gaan nie teen sy vonnis van ses jaar tronkstraf appelleer nie.

Regter Thokozile Masipa het Pistorius Woensdag gevonnis vir die moord op sy vriendin, Reeva Steenkamp.

Andrew Fawcett, ʼn lid van Pistorius se regspan, het gesê Pistorius gaan nie teen die vonnis appelleer nie.

“Ons respekteer die besluit wat deur Masipa geneem is en ons sal nie enige aansoeke vir verlof tot appèl indien nie. Oscar sal sy vonnis uitdien,” het Fawcett gesê.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het gesê hy sal eers die uitspraak bestudeer voor ‘n besluit geneem word om te appelleer of nie.

William Booth, ʼn strafregkenner, het gesê Pistorius behoort homself “baie gelukkig” te ag met die vonnis wat hy ontvang het. Volgens Booth het almal gedink hy sou eerder tot nege of tien jaar tronkstraf gevonnis word.

“Geen vonnis van tronkstraf is egter maklik nie en Pistorius gaan ʼn moeilike tyd hê veral weens sy gestremdheid. Dit gaan ʼn impak hê. Jou lewe is letterlik verby, waarheen gaan jy as jy uitkom? Hy gaan nooit kan doen waarin hy briljant was nie, naamlik ʼn atleet wees.”

Booth het gesê Pistorius kan binne drie jaar ʼn vry man wees indien daar dan, nadat hy 50% van sy vonnis uitgedien het, parool aan hom toegestaan word. Die paroolraad sal ʼn verskeidenheid faktore, waaronder rehabilitasie en herintegrasie in die samelewing, in ag neem.

Steenkamp se ouers, Barry en June, sal intussen ʼn “waardige stilte” handhaaf. “Hulle wou net gehad het die reg moet sy gang gaan en dit het gebeur. Hulle volstaan by die uitspraak,” het Dup de Bruyn, die egpaar se regsverteenwoordiger, gesê.

“Hulle sal van nou af ʼn waardige stilte handhaaf. Ons kan niks verander nie.” De Bruyn wou nie kommentaar lewer op ʼn vraag of die Steenkamps teleurgesteld is met die vonnis nie. Hy het wel gesê dat hy die egpaar ten sterkste aangeraai het om nie teen die vonnis te appelleer nie.

“Ons kan nie namens die staat besluit nie. Ek het aan die familie verduidelik dit is nie so maklik om net teen ʼn vonnis te appelleer nie. Al stem die familie nie saam met die ses jaar nie, kan hulle nie net inmeng nie. Indien hulle wil inmeng moet dit ʼn skokkend onvanpaste vonnis wees.”

Die Steenkamps wou nie self met die media praat nie. “Ek kan nie kommentaar lewer nie. Ons laat dit aan die staat oor,” het Barry aan verslaggewers gesê.

Jackie Mofokeng, woordvoerder van die ANC-vroueliga, het intussen die vonnis as ʼn belediging beskryf. “Vandag is ʼn hartseer dag. Die vonnis is ʼn belediging vir vroue en die Steenkamp-familie. Ons het beweeg van skuldig aan strafbare manslag en vyf jaar tronkstraf na moord en daar word een jaar bygesit. Ons is platgeslaan.”

Mofokeng het gesê hulle beplan om die vonnis na die ANC-hoofkwartier te neem. “Ons sal ons regspan versoek om daarna te kyk. Ons is beleidmakers en as daar iets is wat ons moet verander, moet ons dit nou doen.”

Mofokeng het gesê die vonnis stuur die verkeerde boodskap uit.

Lees alle vorige berigte oor Oscar Pistorius op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.