Oscar het glo met eks gepraat voor skietery

Oscar Pistorius in die hof Foto: Daniel Born/Pool, SAPA

Oscar Pistorius in die hof Foto: Daniel Born/Pool, SAPA

Oscar Pistorius het glo ure voordat hy Reeva Steenkamp doodgeskiet het, ʼn nege minute lange selfoongesprek met sy voormalige vriendin gehad, het Eyewitness News Donderdag berig.

Volgens die berig het die gesprek met Jenna Edkins ure voor die moord op Steenkamp plaasgevind, maar dit is nooit tydens die polisie se ondersoek ontbloot nie.

Volgens data wat van selfoondiensverskaffers bekom is, was Pistorius besig met ʼn oproep toe hy op 13 Februarie verlede jaar omstreeks 18:00 by die Silver Woods-landgoed in die ooste van Pretoria aangekom het.

Eyewitness News het die nommer wat Pistorius gebel het, vergelyk met die kontaklys op die foon. Die nommer was gestoor onder die naam “Babyshoes”. Edkins het glo dié nommer gebruik, maar die rekening is op haar pa se naam geregistreer.

Volgens die berig het die polisie egter nie dié verbinding gemaak nie en Edkin is nooit ondervra nie. Sy is ook nooit versoek om ʼn verklaring af te lê nie.

Edkins wou glo nie kommentaar lewer aan Eyewitness News nie en het slegs gesê dit is algemeen bekend dat sy en Pistorius steeds vriende is.
Die Pistorius-familie en Oscar se regspan het Woensdagaand ʼn verklaring uitgereik voor die berig Donderdagoggend op Eyewitness News se webwerf gepubliseer is. “Ons is nie seker van die bewerings wat gemaak gaan word of die bron daarvan nie, maar ons is nie bewus van enige inligting wat deur Oscar self uitgevee is of dat hy opdrag gegee het aan enigiemand anders om inligting uit te vee wat relevant kon wees vir die verhoor of dit kon beïnvloed nie,” lui die verklaring.

“Sover dit ons aangaan, is alle relevante kommunikasie voor die hof geplaas. Die tersaaklikheid van Oscar se kommunikasie deur middel van sy selfone, iPad en skootrekenaar is behoorlik deur die hof hanteer en die hof het uiteindelik bevind dat dit geen rol in die saak gespeel het nie.”
Regter Thokozile Masipa het Pistorius verlede maand skuldig bevind aan strafbare manslag. Hy is egter onskuldig bevind aan moord en is vrygespreek op van die aanklagte wat met die Vuurwapenwet verband hou.

Klik hier om die hooftrekke van die hofverrigtinge gratis op Maroela Media te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Anon ·

So what?! Reeva het ook met haar ex’e gepraat dit was oral in die media. Ek sien niks verkeerd daarmee nie, baie is nog vriende met hul ex’e. Wat maak dit nou eintlik saak? He’ll los nou vir Oscar uit.

EMK ·

@Anon – ek is ook al SO g*tvol vir dit. En voor een of ander slimmie vir my om sê ek hoef dit nie te lees nie – ek HET ook nie. Ek wou slegs kommentaar los dat ek en miljoene ander nou so g*tvol is vir al die stories oor Oscar, sy bure, sy tannie se niggie se bediende se kind of sy hond of watookal!! En Maroela ek gebruik geen kru of vuil taal of maak persoonlike of vieslike aanmerkings so ek hoop julle het die ordentlikheid om my kommentaar te plaas!

Ek sien toe ek dit stoor word dit al KLAAR gemodereer – ek wonder hoekom!

Nella ·

13 Februarie??? 14 Feruarie. Volgens my is dit ‘n dag voor Reeva se dood.

Suzette ·

Ai Nella, lees die berig as jy dan moet, net deeglik. Hulle se mos “n paar ure voor hy haar doodgeskiet het” Van 6uur die aand van die 13de tot 6uur die volgende aand die 14de is eers ‘n dag. So van 6uur die 13de tot die nag/oggend wat dit gebeur het is net ‘n paar ure. Sjoe ek is ook al net so keelvol vir die Oscar sage. Wens net alles wil nou verby gaan.

Sollie ·

@Nella – ja maar gis en skinder en storietjies versprei en karring en aangaan is die pers se lekkerste tydverdryf. Regtigwaar, kry tog net end met ou koeie opgrawe en hoop op meer sensasie dit is nou werklik vervelig.

pop ·

Ja nee wat, genoeg is genoeg, saai vir ons die renosterstropers uit dat ons hulle goed kan bekyk.

Sollie ·

@pop – NOU praat jy. Dit sal minstens die moeite werd wees…

rika kotze ·

Ai die arme Oscar, die feit dat hy met n vriendin gepraat het moet seker nou as motief dien. Almal wil niu gou n boek skryf (wat ek nooit sal koop nie) en n geldtjie maak uit die tragiese storie. In jare wat kom sal ons nog verskeie films sien wat gemaak gaan word. Oscar moet inderdaad n uitstaande mens omdat daar so ophef gemaak word. Ek kan nie wag vir die boek wat hy self gaan skryf nie, dan lees jy tenminste die waarheid.

Swannie ·

Hy het nog NOOIT die waarheid gepraat nie! Hoekom sal hy nou homself inkrimineer?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.