Oscar het glo net twee keer sy humeur verloor

Oscar Pistorius in die hof Foto: Daniel Born/Pool, SAPA

Oscar Pistorius in die hof Foto: Daniel Born/Pool, SAPA

Oscar Pistorius het glo net twee keer sy humeur verloor in die agt jaar wat sy agent, Petrus van Zyl, saam met hom gewerk het, het die Pretoriase hooggeregshof Dinsdag gehoor.

In een geval het Pistorius in Barcelona, Spanje vir ʼn vergadering opgedaag nadat hy in 2012 aan die Olimpiese Spele in Londen deelgeneem het. “Hulle het ʼn kamera in sy gesig gedruk en gesê hy het gekul,” het Van Zyl aan die hof gesê.

Van Zyl is deur Barry Roux, vir Pistorius, ondervra tydens die atleet se hofsaak op ʼn aanklag van die moord op Reeva Steenkamp.

Daar was glo bewerings dat Pistorius ʼn voordeel gehad het weens sy hardlooplemme. Die atleet is gekies om Suid-Afrika in die 400m-wedloop te verteenwoordig.

Van Zyl sê die tweede geval is tydens ʼn onderhoud net voor die Spele in Londen. Hy het gesê die aard van die onderhoud was dat dit ʼn vernedering is om teen atlete sonder gebreke deel te neem.

Van Zyl het gesê hy het ook tydens albei gevalle sy humeur verloor.

Hy en Pistorius het in 2006 begin saamwerk.

Van Zyl het ook gesê hy het nog nooit die voorval op 14 Februarie 2013, toe Pistorius Steenkamp in sy huis doodgeskiet het, met die atleet bespreek nie. Hy het net sy medelye betoon. “Ons het glad nie die besonderhede van die voorval bespreek nie. Nie een keer nie,” het hy getuig.

Hy het aan die hof gesê hy was voor November 2012 nie bewus van die atleet se voorliefde vir vuurwapens nie. “Ek het nooit voorheen gesien dat hy ʼn vuurwapen dra of na skietbane toe gaan nie,” het hy gesê. Die atleet het glo aan Van Zyl gesê hy dra die vuurwapen omdat hy vir sy lewe vrees.

Van Zyl het vroeër getuig Steenkamp sou Pistorius na twee atletiekbyeenkomste in Manchester en Brasilië vergesel. Dit was glo die eerste keer wat die atleet ʼn vriendin genooi het om saam het hom te gaan. Die reisplanne is glo op 7 Februarie 2013 bespreek. “Sy was baie opgewonde om saam te gaan,” het Van Zyl gesê.

Staatsaanklaer Gerrie Nel het Dinsdag ook die klankdeskundige, Ivan Lin, ondervra oor sy verslag oor die buitegeluide toe Steenkamp doodgeskiet is. Lin het glo slegs ʼn week gelede aan die verslag begin werk en dit verlede week afgehandel. Nel het hom daarop gewys dat dit meer as ʼn jaar later is en dat bome intussen gegroei het en nuwe huise gebou is. Lin het gesê hy moes verskillende moontlikhede ondersoek.

Michelle Burger, die eerste staatsgetuie, het in Maart getuig dat sy “bloedstollende gille” gevolg deur vier skote van Pistorius se huis af gehoor het. Lin het glo nie toegang gehad tot Burger se huis nie.

Pistorius het Steenkamp deur ʼn geslote toiletdeur doodgeskiet. Hy pleit onskuldig op ʼn aanklag van moord en drie ander aanklagte wat verband hou met die oortreding van die Vuurwapenwet.

Die saak duur voort.

Klik hier om die hooftrekke van die hofverrigtinge gratis op Maroela Media te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

rika.kotze ·

Ek waardeer Maroela Media, maar die fotos wat julle soms gebruik. !!!!! Kan daar nie n normale foto van Oscar gebruik word nie, of is ek miskien verkeerd

Jas van As ·

Rika, Oscar is mos nie met vakansie nie. Al die foto’s wat ek sien, is waar hy in die hof is. Dit weerspieël mos sy emosies en dies meer. Ek is seker daarvan die foto’s is nie “ge-modify” nie.

Hettie ·

Ek is nie “vir” Oscar nie, maar regtig ons almal verloor ons humeur. Daai is ‘n belaglike stelling.

Mickey ·

Hy het twee keer sy humeur verloor.. wow. So dit bewys hy is net ‘n mens?? So mens mag nie mens se humeur verloor nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.