Oscar het nie geld vir nóg ʼn verhoor, sê regspan in hofstukke

Oscar Pistorius tydens sy moordverhoor. Foto:  Alon Skuy/Times Media Group/Pool

Oscar Pistorius tydens sy moordverhoor. Foto: Alon Skuy/Times Media Group/Pool

Oscar Pistorius se regspan het gesê die moontlikheid dat hy die finansiële vermoë het om vir ʼn nuwe verhoor te betaal “bestaan nie”.

Die Paralimpiese atleet se regspan het Woensdag hul hoofde van argumente by die appèlhof in Bloemfontein ingedien waar die appèl teen Pistorius se skuldigbevinding aan strafbare manslag aangehoor sal word. In die dokumente voer Pistorius se regsverteenwoordiger, Barry Roux, aan dat dit onregverdig sal wees om teen die eerste uitspraak te appelleer aangesien die saak wye openbare aandag geniet het wat net “die objektiwiteit en geloofwaardigheid van getuies en verrigtinge kan besoedel en verwar”.

Roux voer aan dat Pistorius reeds die gevangenis-gedeelte van sy vonnis uitgedien het volgens dieselfde feite (as wat in die verhoor voorgelê is) en dat die verhoor reeds kompleks en langdradig was en die feite “omvattend bespreek” is.

Pistorius is verlede jaar tot vyf jaar tronkstraf gevonnis nadat hy sy vriendin, Reeva Steenkamp, deur ʼn badkamerdeur geskiet het op Valentynsdag in 2013. Indien die Appèlhof hom aan moord skuldig bevind, staar ʼn minimumvonnis van 15 jaar Pistorius in die gesig.

Regter Thokozile Masipa het die staat se argument dat Pistorius regstreekse opset (dolus directus) gehad het om Steenkamp dood te maak toe hy die vier skote deur die deur afgevuur het, verwerp.

In die dokumente wat Roux Woensdag by die hof ingedien het, het hy gesê die staat het “feitelike bevindinge” nie in ag geneem nie, soos dat Pistorius gedink het daar was ʼn inbreker in die huis en dat sy en Steenkamp se lewens in gevaar was. Roux het ook gesê Pistorius het die skote afgevuur nadat hy geluide van binne die toilet gehoor het, omdat hy gedink het die inbreker sou uitkom en hom aanval.

Roux het die appèlhof gevra om faktore in ag te neem soos die tydsduur van nog ʼn verhoor, die ingewikkeldheid van die verhoor en die regverdigheid daarvan om ʼn nuwe verhoor te hou. Hy het ook klem geplaas op Pistorius se “veg-of-vlug reaksie” toe hy die geluide in die toilet gehoor het en die feit dat hy algemene angsversteuring het en dus maklik angstig raak, veral wanneer hy in gevaar is.

Pistorius is die afgelope nege maande in ʼn enkelsel in die Kgosi Mampuru II-gevangenis in Pretoria aangehou en sou verlede maand onder korrektiewe toesig vrygelaat word. Michael Masutha, minister van korrektiewe dienste, het egter twee dae voor Pistorius se beplande vrylating die besluit teruggetrek en gesê daar was geen wetlike grondslag vir die besluit nie, aangesien dit geneem is voordat Pistorius ʼn sesde van sy vonnis uitgedien het soos deur die wet vereis word.

Die paroolhersieningsraad sal Vrydag besluit of Pistorius die res van sy vonnis onder korrektiewe toesig sal uitdien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Anti-Haas ·

Laat hy aansoek doen dat die staat hom regshulp gee. As jy die beste advokate wil hê, moet jy maar uithaal en wys. Dis met sy goeie advokaat dat hy die eerste keer so lig afgekom het.
Op die Weskus sê hulle mos:”Betaal se gat is kaal”

pop ·

Dis erg as jy beroemd is, dan kos regshulp jou miljoene. As hy net gewone burger was, het hy al lankal los geloop en het hy nog geld ook gehad.

Winston ·

Probeer maar jou self verdedig Oscar. Dalk wen jy die saak en spaar n moewiese klomp geld.

Mosseltjie ·

@ Skim. Groot tragedie vir almal. Egter niemand se plek om te oordeel nie. My hart gaan uit na elkeen van albei families. Hierdie hartseer sal altyd deel wees van hul lewens. Iets wat deur die Genade baie gespaar is tot op hede.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.