Oscar moet nog ‘die waarheid’ vertel – Steenkamps

oscar-pistorius

Oscar Pistorius op 21 Oktober 2014 in die Pretoriase hooggeregshof. (Foto: Themba Hadebe/AP)

Die vermoorde Reeva Steenkamp se ouers, Barry en June, glo nie dat die voormalige sportheld Oscar Pistorius al oop kaarte gespeel het oor wat presies daardie aand in Februarie 2013 gebeur het toe hy hul enigste dogter doodgeskiet het nie.

Dit is nou byna nege jaar later en Pistorius kom in aanmerking vir parool nadat hy in 2016 aan haar moord skuldig bevind en gevonnis is. Daar is sprake van ʼn ontmoeting met Steenkamp se ouers hoewel dit nie duidelik is of dié ontmoeting al plaasgevind het nie.

Die Steenkamps sê hulle het Pistorius vergewe. Hulle glo egter nié dat die tronkdeure vir hom moet oopswaai nie.

“In my oë moet hy nog betaal vir wat hy gedoen het,” het June onlangs in ’n onderhoud met die Britse geselsprogram Good Morning Britain gesê. Sy hou vol Pistorius behoort sy volle vonnis uit te dien vir die moord op haar dogter.

“Dit was vir ons ’n rillerverhaal.

“Hy het geen berou getoon nie en hy sal slegs berou toon indien dit daartoe bydra dat hy uit die tronk kom. Ons het nog nie die volle storie gehoor nie.”

Barry en June Steenkamp, Reeva se ouers, tydens Pistorius se moordverhoor. Foto: Antoine de Ras/Independent Newspapers/ Pool

June het voorts gesê sy het Pistorius vergewe omdat sy ’n Christen is, maar “dit beteken nie dat hy nié moet boet vir wat hy gedoen het nie. Hy toon geen berou nie en ons glo nie sy weergawe nie. Ek en Barry soek die waarheid. En dit is waaroor hierdie onderhoud gaan.”

Barry het op sy beurt gesê hy en sy vrou was “stomgeslaan” toe hulle onlangs ’n brief van Pistorius ontvang het. Die egpaar het egter nie die inhoud van die brief tydens die onderhoud bekend gemaak nie en gesê slegs hulle en hul prokureur het dié brief gelees.

Hoewel June nie daarvoor kans sien nie, het Barry gesê hy sal graag met Oscar wil gesels.

“Ek en June voel daar is nog baie dinge wat uit hierdie storie moet kom en ons hoop dat Oscar vir ons die waarheid sal vertel.”

June het Reeva gedurende die onderhoud as “die wonderlikste kind” bestempel.

Oscar Pistorius en Reeva Steenkamp. Foto: Twitter

“Sy het ’n regsgraad gehad. Sy het flieks gemaak. Haar toekoms het vir haar voorgelê. Nou sal sy nooit kan trou nie. Ons het geen kleinkinders nie… Hy het alles van haar af weggeneem én van ons.”

Daar is aanvanklik gesê dat Pistorius eers in 2023 vir parool in aanmerking sou kom, maar daar was oënskynlik ʼn berekeningsfout aan die kant van die departement van korrektiewe dienste (DKD) nadat die aanvanklike 500 dae wat hy agter tralies deurgebring het, nie in berekening gebring is nie.

Pistorius dien tans 13 jaar tronkstraf vir Reeva se moord uit nadat hy haar op Valentynsdag in 2013 doodgeskiet het. Hy is aanvanklik tot ses jaar tronkstraf gevonnis, maar dié vonnis is deur die Appèlhof in Bloemfontein verleng nadat die staat teen Pistorius se vonnis geappelleer het.

Reeva se ouers glo nie dat hulle veel invloed op die besluit rakende Pistorius se parool sal hê nie. “Ons los dit vir die owerhede om te besluit,” het June gesê.

Bron: Good Morning Britain

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

67 Kommentare

jongste oudste gewildste
Owlie

Vergifnis beteken om weg te draai Die man se hele loopbaan is daarmee heen Om langer in die tronk te sit gaan haar nie terugbring nie, hy msg dalk lewenfig wees maar hy het nie juis n lewe daar buite nie Niemand weet wat werklik gebeur het nie Wees n Christen en laat als werklik aan God oor

melaney

Wat ek opmerklik gevind het gedurende daardie verhoor, was hoedat sy oom, tante, broer en suster hom bygestaan het. Oscar se oom het baie tyd afgestaan om die media te woord te staan. Ek het regtig baie respek vir hulle.

Roebs

Wat is vergifnis as jy nie kan toelaat dat iemand vry kan wees nie? Dan sit jy net soos hy ook in die selle tronk.

sopbeen

Al kom hy uit sal die lewe buite die tronk ook soos ‘n tronk voel soos die mensdom en veral die media hom gaan teister. Daar is nie ‘n groter tronk as om deur die gemeenskap verwerp te word nie.

Vanessa

Ek dink nie dis te veel gevra om die waarheid te hoor wat daardie aand gebeur het nie. Haar ouers verdien dit. Dit sal nie die seer weg neem of vir Reva terug bring nie, maar miskien sal hulle berusting vind. Ek glo ongelukkig ook in geregtigheid, hy moet sy vonnis uitdien. Dink net as almal vroeër uit die tronke kom oor goeie gedrag en bla bla bla. Hoeveel keer is daar bewys dat dit juis hulle is wat later weer moor, verkrag, ens. wat maak hom anders. Sy oom sal seker maak hy kom weer op die been. Hy… Lees meer »