Oscar moet nog langer wag vir parool

oscar-pistorius

Oscar Pistorius (Foto: Themba Hadebe/AP)

Oscar Pistorius sal beslis nie hierdie jaar nog op parool vrygelaat word nie.

Dit nadat die aansoek wat vroeër by die Pretoriase hooggeregshof deur sy regspan ingedien is om die verwarring oor sy parool op te klaar, van die rol verwyder is.

Pistorius se regsverteenwoordiger, Julian Knight, het Dinsdagoggend gesê die aansoek is volgens ʼn ooreenkoms met die departement van korrektiewe dienste van die rol verwyder. Hy het nie die rede agter dié ooreenkoms verskaf of gesê wanneer dit aangehoor sal word nie.

Hy het wel verklap dat hulle “besig is om met die departement se prokureurs te skik”.

Pistorius het enkele maande gelede die aansoek gebring om die paroolraad te beveel om ’n paroolverhoor te hou sodat parool oorweeg kan word.

Dit is nou steeds onduidelik wanneer Pistorius vir parool in aanmerking sal kom. Die voormalige sportheld dien tans tronkstraf uit vir die moord op sy vriendin Reeva Steenkamp

Tania Koen, regsverteenwoordiger van Reeva se ouers, Barry en June, het vanoggend gesê sy is “net so in die duister” wat Pistorius se parool betref.

“Ons is nie in kennis gestel van die besluit nie en geen hofstukke is op ons beteken nie.”

Reeva se ouers sê al geruime tyd Pistorius behoort “op die vroegste” in Maart 2023 vir parool in aanmerking te kom. Koen het dié versoek Dinsdag aan Maroela Media herhaal.

Daar is aanvanklik gesê dat Pistorius eers in 2023 vir parool in aanmerking sou kom, maar daar was oënskynlik ʼn berekeningsfout aan die kant van die departement van korrektiewe dienste nadat die aanvanklike 500 dae wat hy agter tralies deurgebring het, nie in berekening gebring is nie.

Pistorius dien tans 13 jaar tronkstraf vir Reeva se moord uit nadat hy haar op Valentynsdag in 2013 doodgeskiet het. Hy is aanvanklik tot ses jaar tronkstraf gevonnis, maar dié vonnis is deur die Appèlhof in Bloemfontein verleng nadat die staat teen Pistorius se vonnis geappelleer het.

Pistorius voer aan dat hy reeds genoeg tyd in die tronk uitgedien het om vir parool in aanmerking te kom, en daarom moet owerhede kyk of hy vroeër vrygelaat kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

RomeoTangoGolf ·

Enige parool is ‘n klap in die gesig van die Steenkamp familie. Laat die man maar so lank as wetlik moontlik is sit

piet ·

Wetlik is hy geregtig om ‘n paroolaansoek te bring (eintlik al maande gelede al) en dit word hom nou geweier weens rompslomp en berekeningsfoute deur die departement. Baie onregverdig, ander gevangenes in sy situasie sou al uit gewees het op parool. Hy behoort die departement te dagvaar want daar word inbreuk gemaak op sy menseregte. Dis ook onwettig wat die departement doen deur te weier om die paroolaansoek aan te hoor terwyl hy daarop geregtig is en kwalifiseer vir die aansoek.

Ouvrou ·

En waar is Reeva se menseregte ? Hy moes lewenslank gekry het.

Mieke ·

Dis al klaar genoeg straf net om te moet weet dat hy iemand doodgemaak het… Dit sal hom vir sy hele lewe bybly. Asook dat hy nooit regtig oop kaarte gespeel het nie…. Baie SA moordenaars kry baie minder tyd en kom baie vroeg op parool…. maar daar word wel teenoor blankes gediskrimmineer.

piet ·

Ek dink hy het oop kaarte gespeel. Ek het van die begin af sy weergawe geglo. Sy optrede onmiddellik na sy geskiet is, strook nie met die optrede van ‘n moordenaar wat wou moord pleeg nie. Ons moet in gedagte hou dat die verhoorhof en die appelhof sy weergawe basies aanvaar het (dat hy gedink het hy skiet op ‘n inbreker). Hy is op ‘n regspunt skuldig bevind vandaar die absolute minimum voorgeskrewe vonnis vir moord.

MakersMark ·

Stem. Ongelukkig het hy ‘n rekord van groot meneer speel met ‘n vuurwapen.

Kobus ·

Ek aanvaar dit is nie maklik vir die Steenkamps nie maar om verbitterd te bly gaan nie hulle kind terugbring nie. Maak vrede en gaan aan met julle lewe, hy sal altyd in julle gedagtes wees, ongeag waar hy is. Behalwe vir tronkstraf is hy ook deur die wêreld verguis, gereduseer van hero na zero. Meer as dit kan hy nie gestraf word nie en dan, sy gewete sal altyd daar wees.

Hennie Biebouw ·

Uitstekende nuus. Veroordeelde moordenaars hoort in die tronk. Die skamele 13 jaar wat hy gekry het is mynsinsiens in elkgeval ‘n skande.

piet ·

Hy’t eintlik 15 jaar gekry want hy het reeds 2-jaar gesit voor die vonnis verander is. Die 2-jaar is dus in berekening gebring.

Harley Davidson ·

Die wet is nie gelyk vir almal nie vat bv oscar,walluch teenoor malema,shabir,Zuma,ramaposa,jacky selebe ens ens.

Koen ·

en selfs ou Louis loop nog vry rond. Dis maar die kans wat mens vat as jy die besluit neem om iemand koelbloedig te vermoor. Leef saam met die gevolge. En jy kan beslis nie aandring op regverdigheid nie.

Prikkie ·

Reeva gaan ook nie kersfees by die huis wees nie. Nie hierdie kersfees of enige ander kersfees nie.

Danie ·

Sorry broer jy kan maar nog baie lank sit die tronk bestuur doen ons n groot guns.Seker gedink jy gaan jammer gekry word.Skuus mense

piet ·

Dis nie ‘n kwessie van jammer kry nie, dis ‘n kwessie van geregtigheid soos deur die Wet voorgeskryf. Emosies en wie wat nog wil vergewe of nie behoort glad nie meer ‘n rol te speel nie (ook nie die gevoelens van mense wat dink hy moet nog sit nie) , ons is al lankal verby daai punt. Die Steenkamps sal volgende jaar en nog vir die res van hulle lewens steeds voel soos hulle nou voel, sal geen saak maak nie. Hulle wil nie vergewe nie en sal ook nooit vergewe nie.

Casper ·

Oscar het Reeva doodgeskiet en vir haar ouers was dit en is dit ‘n dieper pyn wat hulle altyd sa bybly,maar as hulle Christene is soos hulle sê hulle is moenie teen sy parool gekant wees om die verkeerde rede,wraak nie,want die Bybel sê wraak kom die mens nie toe nie.

Koen ·

Hier is darem maar baie mense met simpatie vir koelbloedige moordenaars. Hoop julle is konsekwent en betoon dieselfde simpatie met plaasmoordenaars ook.

Anton ·

Laat hy sit en sy 13 jaar uitdien,
Hy was nooit eerlik oor wat gebeur het nie en het onbeskaamd onder eed gelieg in die hof.
Dit is ook n arrogante meneer wat gedink het dat hy bo die wet verhewe is as gevolg van sy bekendheid.

Peet ·

Pas die bestaande die parool reels op die saak toe.
Dit is belaglik dat die familie van n slagoffer hoegenaamd deel moet wees vd parool proses.

Ruby ·

Peet, natuurlik moet die familie deel van die parool wees!

Dit is hulle geliefde!

MakersMark ·

Moes nooit vir parool in aanmerking geneem gewees het nie.

ditiswatekdink ·

Verbittering en haat gaan geen vrede vir die familie bring nie. Dit sal julle opvreet.
June gaan eerder op jou kniee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.