Oscar Pistorius-advertensie moet onttrek word

Oscar Pistorius in die hof Foto: Daniel Born/Pool, SAPA

Oscar Pistorius in die hof Foto: Daniel Born/Pool, SAPA

Die Gesagsliggaam vir Reklamestandaarde (GRS) het beslis dat ‘n koerantadvertensie wat verwys na Oscar Pistorius wat vir sielkundige waarneming gestuur is, onmiddellik onttrek moet word.

Die advertensie, “Oscar’s Psychiatric Evaluation”, deur Toast Media het op 27 Mei in The Times verskyn.

“Die proses om die advertensie terug te trek moet met onmiddellike effek gedoen word wanneer die uitspraak ontvang word,” het die GRS in sy uitspraak gesê. “Die advertensie mag nie weer in sy huidige formaat en konteks gebruik word nie.”

Pistorius het vir ‘n maand lank sielkundige waarneming by die Weskoppies Psigiatriese Hospitaal ondergaan.

Die advertensie bevat ‘n beeld van iets wat soos ‘n Rorschach-inkspatsel lyk. Daar is twee handwapens aan elke kant en ‘n hart wat blyk in die middel gebreek te wees. Dan volg die teks, “…for alternative creative results” gevolg deur Toast Media se kontakbesonderhede.

‘n Verbruiker het ‘n klag ingedien en aangevoer die advertensie gee aanstoot. Volgens die klaer gee die advertensie ook ‘n verdraaide beeld van Pistorius se geestelike gesondheid. Die klaer het ook aangevoer die advertensie is “onsensitief en aanstootlik” vir Pistorius se familie en vriende.

Toast Media het in antwoord hierop gesê die advertensie het nie ten doel gehad om aanstoot te gee of vulgêre menings oor die situasie of onderwerp uit te beeld nie.

Die GRS sê die “tragedie” rakende Reeva Steenkamp se dood deur Pistorius se toedoen het internasionaal aandag getrek en weens sy verhoor het sy verwysing vir sielkundige waarneming ook aandag getrek.

Die GRS sê hulle het Toast Media se argument aanvaar dat die inligting in die advertensie in die openbare domein is. Daar is wel bevind die advertensie het “op die tragedie gekapitaliseer vir kommersiële gewin”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.