Oscar Pistorius-appèl afgekeur

Oscar Pistorius tydens 'n vorige hofverskyning. Argiefforo: Siphiwe Sibeko/Reuters/Pool

Oscar Pistorius tydens ‘n vorige hofverskyning. Argiefforo: Siphiwe Sibeko/Reuters/Pool

Regter Thokozile Masipa het Oscar Pistorius se aansoek om te appelleer teen die hof se besluit dat die staat mag appelleer teen sy skuldigbevinding, van die rol geskrap.

“Ek is nie tevrede dat hierdie die korrekte hof is om hierdie aansoek aan te hoor nie,” het Masipa in haar uitspraak gesê. “Daar is regtig niks nuut in die voorleggings van die aansoeker se regspan nie. Na my mening sal dit ’n hersiening van my eie besluit wees indien ek die aansoek oorweeg. Ek dink ook dit sal prosedureel verkeerd wees om die aansoek toe te staan of te weier.”

Staatsaanklaer Gerrie Nel het Masipa Vrydagoggend versoek om nie eers uitspraak in die aangeleentheid te lewer nie. Volgens Nel sal só uitspraak appèl op appèl op appèl tot gevolg hê. Hy het aangevoer dat indien die hof Pistorius se aansoek sou toestaan, die hof dus sy eie beslissing oor die saak in hersiening sou neem.

Barry Roux, Pistorius se regsverteenwoordiger, het egter aangevoer hul aansoek is nie ʼn appèl teen ʼn appèl nie, soos wat deur die staat aangevoer is. Roux het gesê hulle het ’n wetlike reg om hul argumente voor te lê. Masipa het die hof verdaag en kort daarna uitspraak gelewer.

Masipa het vroeër die staat se aansoek, om appèl aan te teken teen Pistorius skuldigbevinding op strafbare manslag, goedgekeur, maar die aansoek om teen sy vonnis van vyf jaar te appelleer, van die hand gewys. Die staat wil hê Pistorius moet skuldig bevind word op die ernstiger aanklag van moord.

Pistorius is in September skuldig bevind aan strafbare manslag nadat hy Reeva Steenkamp op 14 Februarie 2013 deur ʼn geslote toiletdeur in sy huis in Pretoria doodgeskiet het. Hy was glo onder die indruk dat sy ʼn inbreker kon wees. Hy is tot vyf jaar tronkstraf gevonnis.

Klik hier vir alle vorige berigte oor Oscar Pistorius op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

pop ·

Mis Gerrie Nel en Barry Roux die “limelight” Vader tog, beweeg aan en los nou maar die onaangename storie om te loop le.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.