Oscar Pistorius-appèl dan aangehoor

Oscar Pistorius in die hof. Foto: Ihsaan Haffejee/EPA/Pool

Oscar Pistorius in die hof. Foto: Ihsaan Haffejee/EPA/Pool

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het Maandag aangekondig dat ʼn aansoek om teen Oscar Pistorius se skuldigbevinding en vonnis te appelleer, in Desember in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor sal word.

“Die aangeleentheid sal op 9 Desember 2014 in die Noord-Gautengse hooggeregshof aangehoor word,” het Nathi Mncube, woordvoerder van die NVG, in ʼn verklaring gesê.

Pistorius is op 21 Oktober tot vyf jaar tronkstraf gevonnis nadat hy aan strafbare manslag skuldig bevind is. Pistorius het sy vriendin, Reeva Steenkamp, op 14 Februarie 2013 doodgeskiet.

Die staat het verlede week sy aansoek om verlof tot appèl ingedien. “Die vyf jaar gevangenisstraf wat die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius opgelê is, is skokkend lig en onbehoorlik,” het staatsaanklaers Gerrie Nel en Andrea Johnson in die hofdokumente gesê. “Daar was nie genoeg klem geplaas op die gruwelike manier waarop die oorledene gesterf het of die grusame beserings wat sy opgedoen het toe die beskuldigde haar doodgeskiet het nie.”

Pistorius se regspan het aangedui dat hulle die aansoek gaan teenstaan. Brian Webber, een van Pistorius se regsverteenwoordigers, het Vrydag bevestig hulle het die dokumente ingedien maar wou nie besonderhede verskaf oor die gronde waarop hulle die aansoek teenstaan nie.

Klik hier om alle vorige berigte te lees wat met die hofsaak verband hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Mishka ·

Ek weet ek gaan gekruisig word, maar ek hoop uit die diepte van my hart die appél slaag. Soos honderde mense saam met my voel ek die vonnisoplegging was hopeloos buite verband. Daai man het ‘n moord gepleeg. Ek het so baie vrae wat onbeantwoord sal bly, maar een is, as jy iets in jou huis hoor, eerste reaksie jy gaan jou maat wakker maak en vra of hy/sy iets hoor en tweedens, as jou maat opstaan om badkamer toe te gaan weet jy dit tog. Ons sal seker nooit die waarheid hoor nie, maar daai ou het losgekom op sy gebrek en die feit dat hy ‘n “celeb” is. Hy het ‘n klein godjie geword. Hoekom kon die vent wat sy ouers en suster vermoor het lewenslange tronkstraf kry en OP stap weg met ‘n ligte vonnissie? Ek is nie God nie en mag nie oordeel nie, maar reg is reg! Dan kry hy nog 5-ster behandeling ook in die tronk [natuurlik op hoorsê maar ek glo die gerugte]. Right gooi my maar met vrot tamaties, ek kan dit hanteer, maar dis net hoe ek voel en dis my opinie

Anoniem ·

Bravo Mishka en kom ons vertrou en hoop op geregtigheid wat deesdae ‘n rare verskynsel in
piesangland is.

pop ·

Vra net vir die interesantheid daarvan bietjie vir die vrouens hoeveel van hulle gaan in die middel van die nag toilet toe, trek klere aan en SLUIT DIE DEUR. En dan is dit n toilet wat gangetjie af en verby die badkamer is. Is nie eers of haar maat enige geluide of wat ook al sou hoor as sy daar sou sit nie. Ek het nog nie een mens teegekom wat gese het sy sluit die toilet deur in die nag nie!!!!

Martie ·

Mense hoeveel moordenaars loop vry rond……nou net weer ‘n moord in Welkom……nog niemand in hegtenis geneem nie en hul sal ook niemand in hegtenis neem nie…….maar Oscar word wyd en suid veroordeel en hy is nie ‘n moordenaar nie…..hy het iemand dood geskiet, maar hy is vir niemand ‘n bedreiging nie…….maar hy moet boet in jul oë……..Dit lyk my mense gee blykbaar nie ‘n flenter om vir al die mense wat met toe deure moet slaap nie omdat daar regte moordenaars en diewe buite rondloop……..hoe sê hulle “Get real”……..Nou moet daar weer duisende rande uitgehaal word?????? Ek hoop die Appel word nie toegestaan nie……..Almal verlekker hul in Oscar se situasie………wag tot soiets met jul seuns of familie gebeur……sal graag hoor wat jul dan sal sê???????? Maar hier is ‘n klomp hoog heilige mense……….regte wrede moordenaars kom weg!!!!!!!!maar in jul oë is dit seker reg…….. Hier op ‘n plaas is ‘n vriend van ons wreed vermoor [ sy kop pap geslaan met klippe…..sy familie wou nie die lyk sien, maar omdat die moordenaars minderjarig was, het daar nie veel van gekom nie…..jul weet nie eers daarvan, maar omdat Oscar ‘n bekende is, kruisig die hele wêreld hom…….maar ek het al gesien, as ‘n mens klippe wil gooi, kry jy altyd ‘n hele stapel……….

Patat ·

Nou wie het gesê die wrede moordenaars wat mense se koppe pap slaan, moet wegkom? En wie het gesê hulle is tevrede daarmee? Dalk moet jy “Get real” vir jouself skree.

Nico ·

My seun is “vermoor” deur `n dronkbestuurder. Hy is skulidig bevind aan strafbare manslag. Sy vonnis is 24 ure gemeenskapsdiens by die plaaslike ambulansstasie. Sou graag die kommentare wou hoor as OP dieselfde vonnis gekry het vir strafbare manslag.

Rina ·

Ek hoop van harte dat die appel teen Oscar nie sal slaag nie.
Die gevaarlike verkragter en moordenaar wat uit Palmridge Landdroskantoor ontsnap het moet aangekeer word.
Dewani gaan dalk loskom. Sommige moordenaars word nooit opgespoor nie.
Wat gaan almal so tekere oor Oscar? Hy is ook net ‘n mens.
Hoekom is so baie mense teen hom?
Oscar ek bid dat jy nie verder vervolg word nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.