Oscar Pistorius appelleer teen skuldigbevinding

Oscar Pistorius Foto: Kim Ludbrook/EPA/Pool/Sapa

Oscar Pistorius Foto: Kim Ludbrook/EPA/Pool/Sapa

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het bevestig dat Oscar Pistorius se regspan ʼn aansoek ingedien het om teen sy skuldigbevinding aan moord te appelleer.

Luvuyo Mfaku, woordvoerder van die NVG, het gesê die aansoek is Maandag by die konstitusionele hof ingedien. Dit is die voormalige Paralimpiese atleet se laaste uitweg om uit die tronk te probeer bly nadat die appèlhof hom aan moord skuldig bevind het.

Pistorius is in Desember op borgtog van R10 000 vrygelaat. Pistorius se regspan het vroeër aangedui hulle gaan appelleer. Hulle beweer sy regte is deur die appèlhof se beslissing geskend aangesien die hof Pistorius volgens hulle op grond van feitelike punte eerder as regspunte aan moord skuldig bevind het.

Regter Thokozile Masipa het Pistorius op 12 September 2014 skuldig bevind aan strafbare manslag in verband met die skietdood van sy vriendin, Reeva Steenkamp, op 14 Februarie 2013. Pistorius het aangevoer hy het vier skote deur die geslote deur van die toilet in sy huis in Pretoria gevuur omdat hy onder die indruk was dat ʼn inbreker daar wegkruip.

Hy het op 21 Oktober 2014 sy vonnis begin uitdien nadat hy tot vyf jaar tronkstraf gevonnis is ingevolge art. 276 (1)(i) van die Strafproseswet. Hiervolgens moes hy ʼn sesde (tien maande) van sy vonnis uitdien voordat die nasionale kommissaris van korrektiewe dienste dit kon oorweeg om sy vonnis in korrektiewe toesig om te skakel. Hy het op 21 Augustus tien maande tronkstraf uitgedien.

Pistorius is in Oktober 2015 uit die Kgosi Mampuru II-gevangenis in Pretoria vrygelaat en het hierna sy vonnis onder korrektiewe toesig in sy oom se luukse herehuis in Waterkloof begin uitdien.

Klik hier vir alle vorige berigte oor Oscar Pistorius op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Johann Marx ·

Die ou mense (waarvan ek nou self amper een is) het altyd sulke vreemde sê-goed gehad wat ek nooit as kind verstaan het nie, maar nou so insiggewend vind: “Geld wat stom is…..maak reguit wat krom is.” Soms. (My eie byvoeging)

Peet Schabort ·

Moresê Johann, eintlik is die idioom ‘Geld wat stom is, maak reg wat krom is’. Dan is daar ook ‘Geld wat geel is, maak reg wat skeel is’. Vir lg. het jy my laat gryp na my verjaarsdaggeskenk van 1955 nl. D. BRAND se DRIETALIGE IDIOOMBOEK in Afrikaans, Engels, Duits.
Terloops, ‘n toepaslike een is ook ‘Geld regeer die wêreld’.

Martin ·

Laat hy maar sy laaste kaart speel. Dit is net ‘n kwessie van tyd, en klomp geld, dan sit hy. Praat van arrogant.

Johannes ·

Moet eerlik sê, ek sou graag ‘n jaar SONDER Oscar Pretorius wou hê…

Amanda ·

Ai! Gaan die saak ooit ophou? Die feit in die saak is Moord, iemand het iemand se lewe geneem en moet betaal daarvoor.

Realis ·

Peet. Geld laat die wereld ook na ‘n beter plek lyk as wat dit is.
Stem saam dat die Oscar sage nou moet einde kry.

Dee ·

‘…feitelike punte eerder as regspunte’ neig om dit vir ‘n leek te laat klink asof hulle wil hê dat feite geignoreer moet word en teorie gebruik moet word vir ‘n beslissing.

Frans ·

Met die appélhof se uitspraak in gedagte glo ek dat sy appél nie gaan slaag nie.

alida ·

Ag Maroela hou tog op om na Oscar se oom se huis te verwys as “luukse herehuis”. Dit is totaal en al onnodig. Daardie mense het gewerk vir wat hulle het en gun hulle die gerief van luuksheid. Asb staak dit. Dit is net ‘n gewone woning in Waterkloof waarvan daar baie is en nog luukser as die Pretorius gesin s’n. Dit is regtig steurend.

OOK GEELVOL OOR OSCAR ·

ALIDA AL GEWONDER HOEKOM PRAAT MAROELA SO? HULLE PRAAT MET RESPEK VAN OSCAR SE OOM EN LAAT DIE GEMEENSKAP MOET WEET DIE GELD KOM DAARVANDAAN. WANT ONTHOU HULLE HET GESE OSCAR HET NIE MEER GELD. EN ONTHOU HY EN SY SAAK MOET MOS STATUS HE JONG. NIKS VERKEERD OM TE PRAAT VAN LUUKSE HEREHUIS. DIT GAAN NIE OOR DIE LUUKSTE ENE NIE. DIT GAAN OOR OM OSCAR SE ALLIE UIT DIE TRONK TE HOU MET SY OOM SE GELD.

Susan ·

Stem heeltemal saam Alida. Los die mense uit. Dis hulle geld. En hulle LUUKSES

Vic ·

Ook geelvol oor oscar – dit is nog steeds feitelik verkeerd. Dit is nie n herehuis nie, alhoewel dit luuks mag wees. En ek neem aan die mense het gewerk vir hulle geld. Dis hulle reg om dit te gebruik soos hulle goeddink. Baie ander familielede sou teen die tyd al verdwyn het. Die gebruik van sulke taal, veral as dit nie waar is nie, laat my altyd dink dat mense tog net so n klein bietjie jaloers is daarop dat andere meer as hulle het. Stem saam Alida.

Bloues ·

Maroela, dis belangrik om te weet waar en hoe Oscar buite die tronk leef. Ek dink mense sal wil weet of hy swaar kry en of hy in ‘n luukse herehuis lekker agteroor sit en ontspan, terwyl hy eintlik in die tronk hoort.

Doen so voort asseblief

Justa ·

Los tog nou vir Oscar uit!!! Hy het nie meer n duit op sy naam nie. Barry Roux tree pro bona vir hom op. Wie baklei in elk geval drie uur in die oggend soos die staat beweer, dan slaap almal.

Loeis ·

Ag nee! Ek het regtig gedink ons het nou die einde van die Oscar-ding gehoor! Dit raak nou regtig vervelig.

alida ·

“GEELVOL” kan jy nog harder skreeu? Hoekom tik jy nie in vet swart letters nie!!! Shame
Ons is almal keelvol vir die storie!!!!

Johann ·

Oscar, ek bid saam met jou en jou familie dat jou appèl suksesvol sal wees. Ek voel jy gaan darem nou lank genoeg deur snedige aanmerkings en onnodige negatiewe publisiteit. Sterkte!

marianne ·

SLUIT NOU VIR OSCAR TOE – VERLOOR DIE SLEUTEL EN KRY KLAAR…. EK IS MOEG VIR SY AAAG SHAME KRY MY JAMMER KLAAG LIEDERE!!!!
Hy is skuldig. Aanvaar dit en vergeet vir die volgende 15 JAAR van hom.
HY IS AFTER ALL NIE SO BELANGRIK NIE.

OOK GEELVOL OOR OSCAR ·

AI GEELVOL BETEKEN TUSSEN KEELVOL EN GATVOL ALIDA. EK SIT DIT IN HOOFLETTERS VIR MY EN ANDER WAT NIE MOOI KAN SIEN NIE HOOR!

annoniem ·

Die keelvolles…. lees ander stories. Jul word nie gedwing om hier te lees of te skryf nie. Ons wil weet wat aangaan…. dankie Maroela.. hou so aan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.