Oscar Pistorius breek Twitter-stilte

oscar twietDie moordbeskuldigde Oscar Pistorius het Sondag ná ʼn lang stilte sedert Februarie, weer begin twiet.

Pistorius het op 14 Februarie vir die eerste keer in meer as ʼn jaar sy iets op sy Twitter-rekening geskryf nadat hy Reeva Steenkamp op Valentynsdag 2013 in sy huis in Pretoria-Oos doodgeskiet het. Hy het toe ʼn skakel na sy webwerf getwiet: “ʼn Paar woorde uit my hart op oscarpistorius.com”. In die boodskap op sy webwerf het hy geskryf: “Geen woorde kan voldoende my gevoelens oor die verwoestende ongeluk, wat soveel hartseer vir almal wat waarlik vir Reeva lief was en steeds lief het, beskryf nie. Die pyn en hartseer – veral vir Reeva se ouers, familie en vriende verteer my met hartseer. Die verlies van Reeva en die trauma van daardie dag sal ek die res van my lewe saam met my dra.”

Pistorius het Sondag aan sy meer as 354 000 volgelinge ‘n samestelling van foto’s van ‘n Bybelvers, sy humanitêre werk en ‘n uittreksel uit Viktor Frankl se boek, Man’s Search for Meaning, getwiet. Hy het Maandagoggend ʼn foto van ʼn Engelse gebed geplaas. Sien die twiets hier.

Dario Milo, ʼn mediaprokureur, het Maandag aan Sapa gesê Pistorius se twiets minag nie die hof nie. “Niks verhoed Pistorius om openbare stellings te maak nie, hetsy op Twitter of enige ander platform,” het Milo gesê. “Hy het die volste reg om dit te doen en daar is geen aanduiding dat hy die hof minag nie. Sy kommentaar op Twitter het niks met sy moordverhoor te doen nie.”

Pistorius word van moord beskuldig nadat hy Steenkamp deur ‘n geslote toiletdeur in sy huis doodgeskiet het. Hy voer aan dat hy haar vir ‘n inbreker aangesien het.

Sy regspan het verlede week Dinsdag sy saak gesluit en aangevoer meeste getuies het geweier om vir die verdediging te getuig omdat hulle nie blootgestel wil word nie.

Die staat sal na verwagting sy geskrewe betooghoofde teen 30 Julie indien en die verdediging teen 4 Augustus. Dit sal op 7 en 8 Augustus in die hof gelewer word.

Klik hier om die hooftrekke van die hofverrigtinge gratis op Maroela Media te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.