Die moordbeskuldigde Oscar Pistorius gaan moontlik vir waarneming gestuur word nadat ʼn kenner Maandag getuig het die atleet ly aan algemene angsversteuring.
Dr. Merryll Vorster, ʼn forensiese psigiater, het aan die Pretoriase hooggeregshof gesê die angsversteuring kan moontlik die manier, waarop hy in spanningsvolle situasies reageer, beïnvloed.
Vorster het gesê Pistorius is anders as ander oortreders, aangesien hy ʼn fisiese gebrek het en aan algemene angsversteuring ly. “Pistorius het ʼn inbreker gehoor en het verhoogde vlakke van angs beleef,” het sy gesê.
Staatsaanklaer Gerrie Nel wou by haar weet of Pistorius se algemene angsversteuring as ʼn verstandelike gestremdheid beskou kan word. Vorster het gesê dit is iets wat die hof moet besluit.
Nel wou weet of Pistorius tussen reg en verkeerd kon onderskei. Vorster het gesê nee. Nel wou ook weet of Pistorius dus verminderde toerekenbaarheid gehad het, en sy het aangedui dat die hof al die faktore in ag moet neem.
Nel het gesê indien die atleet minder toerekenbaar was tydens die voorval, moet hy kragtens die Strafproseswet vir waarneming verwys word.
Pistorius word van moord beskuldig nadat hy Reeva Steenkamp op 14 Februarie 2013 deur ʼn geslote deur by sy huis in Pretoria-Oos doodgeskiet het. Hy voer aan hy het haar vir ʼn inbreker aangesien.
Vorster het vroeër aan die hof gesê die paralimpiese atleet se fisiese gebrek maak hom weerloos en angstig.
Sy het gesê Pistorius se emosies ná Steenkamp se afsterwe was eg. “Hy is berouvol oor die gebeure en voel skuldig dat sy optrede tot haar dood gelei het,” het Vorster gesê.
Die atleet staar ook aanklagte wat verband hou met die oortreding van die Vuurwapenwet in die gesig. Hy het onskuldig gepleit op alle aanklagte. -SAPA
Klik hier om die hooftrekke van die hofverrigtinge gratis op Maroela Media te volg.
Ai tog, lekker ou “Jem”