Oscar Pistorius was “gereed om te skiet”, het gevaar “trompop geloop”

Barry Roux (L) en Kenny Oldwage vir Oscar Pistorius Foto: Craig Nieuwenhuizen/Media24/Pool (SAPA)

Barry Roux (L) en Kenny Oldwage vir Oscar Pistorius Foto: Craig Nieuwenhuizen/Media24/Pool (SAPA)

Staatsaanklaer Gerrie Nel het Vrydag in die Pretoriase hooggeregshof aangevoer die moordbeskuldigde Oscar Pistorius was op 14 Februarie 2013 gereed om te skiet. Hy het ook gesê dit maak nie sin dat die atleet die gevaar trompop sou nader nie.

Nel wou tydens Pistorius se kruisondervraging weet waarom hy homself sou bewapen en die gevaar bestorm het as hy nie gereed was om te skiet nie. “Jy het die veiligheidsmeganisme [van sy vuurwapen] verwyder want jy wou skiet. As jy iets gesien het, sou jy gereed wees om te skiet,” het Nel gesê.

Pistorius sê hy wou Steenkamp beskerm en het nie tyd gehad om te dink nie. “Ek wou nie hê enigiets moet met Reeva gebeur nie, so ek het myself tussen die gevaar en Reeva geplaas,” het hy gesê.

Die atleet word van moord beskuldig nadat hy Steenkamp verlede jaar op Valentynsdag in sy huis in Pretoria-Oos deur ʼn geslote toiletdeur doodgeskiet het. Hy voer aan hy het haar vir ʼn inbreker aangesien.

Pistorius sê daar is ʼn verskil tussen gereed wees om te skiet en gereed wees om ʼn konfrontasie te hanteer.

Nel wou ook by Pistorius weet waarom hy nie eers seker gemaak het waar Steenkamp is voordat hy na die badkamer gegaan het nie, indien sy bedoeling was om haar te beskerm. “Jy was reg langs haar in ʼn gevaarlike situasie, maar jy het nie die tyd geneem om met haar te praat nie,” het die staatsaanklaer gesê.

Pistorius het gesê hy was nie langs haar [toe hy die geluid gehoor het] nie.

Nel het Pistorius ook gewys op die twee paartjies wat vroeër getuig het nadat hulle gille en skote uit die atleet se huis gehoor het. “Dit Stipps het gesê die eerste ding wat hulle gedoen het, was om met mekaar te praat: ‘Het jy dit gehoor?’ Die Johnsons het ook met mekaar gepraat, maar jy het nie,” het Nel gesê.

Volgens Nel sou ʼn redelike persoon seker gemaak het waar Steenkamp is. “Jy het jou vuurwapen gegryp, jy het nie uitgevind of sy bang is nie.” Nel voer aan indien Pistorius met Steenkamp gepraat het, kon die twee saam weg van die gevaar af gegaan het, soos om op die balkon te gaan of agter die deur weg te kruip.

Nel sê hy kan nie begryp waarom Pistorius, indien hy kwesbaar gevoel het, na die gevaar toe beweeg het nie.

“As ek gebly het waar ek was, sou ek en Reeva in gevaar gewees het. Ek wou so veel as moontlik afstand kry tussen Reeva en die gevaar,” het Pistorius gesê.

Volgens Nel het Pistorius ʼn reeks gebeure uitgedink wat hom die geleentheid bied om te beweer dat hy nie geweet het Steenkamp was in die toilet nie. “Jy moes met ʼn weergawe vorendag kom om te verduidelik waarom jy onskuldig na die badkamer gegaan het. Jou weergawe is ʼn leuen,” het die staatsaanklaer gesê.

Regter Thokozile Masipa het Nel Vrydag in ʼn stadium gewaarsku om nie die beskuldigde ʼn leuenaar te noem terwyl hy in die getuiebank is nie.

Nel het verder gesê Reeva was nie bang vir ʼn inbreker nie, maar sy was bang vir Pistorius. “As sy bang was, sou sy nie voor die deur gestaan het nie,” het Nel gesê. Hy het bygevoeg Steenkamp het voor die toiletdeur gestaan omdat sy met Pistorius gepraat het.

Pistorius ontken dat hy en Steenkamp die aand gestry het.

Die hof het ook gehoor dat Steenkamp nie geskree het toe Pistorius die skote gevuur het nie. “Is jy seker, mnr. Pistorius, dat Reeva nie ná die eerste skoot geskree het nie? Is jy seker?” wou Nel weet. Pistorius het ná ʼn lang stilte gesê sy het nie geskree of uitgeroep nie. “Ek wens sy wou my laat weet sy is daar,” het hy gesê. Hy het later gesê dit is moontlik dat hy haar nie hoor skree het nie, aangesien sy ore gelui het ná die skoot. Hy sê hy kon nie eers homself hoor skree nie.

Nel het Pistorius ook uitgevra oor die skietvoorval op die snelweg waaroor die atleet vroeër getuig het. Pistorius het gesê die voorval het in 2008 of in 2009 plaasgevind toe hy een aand ná ʼn onderhoud op pad terug was huis toe. Hy het gesê hy het op die snelweg gery en ʼn swart Mercedes het naby hom begin ry. Hy het stadiger gery sodat die motor hom kon verbysteek, en toe die motor voor hom is, het hy ʼn vuurwapenflits van agter uit die motor gesien.

“Ek het ʼn knalgeluid gehoor en ʼn rooi-wit-ontploffing gesien,” het Pistorius gesê. “Ek weet glad nie waarom hulle op my geskiet het nie.” Hy sê hy is seker dit was ʼn vuurwapen en nie ʼn kameraflits nie.

Hy het gesê in alle moontlikheid was daar nog motors op die pad, maar hy kan nie onthou nie.

Hy het glo by Rhapsody’s-restaurant parkeer vanwaar hy iemand gebel het om hom te kom haal. Pistorius kan nie onthou wie hy gebel het nie. “Jy kan nie aan die hof sê wie jy gebel het ná hierdie traumatiese voorval nie?” wou Nel weet. Pistorius sê sy regspan wou ook by hom weet, maar hy kan nie onthou nie.

Nel sê dit is só onwaarskynlik dat hy nie kan onthou wie hy gebel het nie, aangesien dit nie gebeur het nie. Die atleet kan ook nie onthou hoe hy weer sy motor van die restaurant af by sy huis gekry het nie.

Pistorius het nie die voorval by die polisie aangemeld nie, omdat hy nie vertrou het dat hulle enigiets aan die situasie sou kon doen, of ooit sou kon uitvind wie dit gedoen het nie.

Masipa het in ʼn stadium vir Pistorius die geleentheid gebied om te sê as hy moeg is. “As jy al hierdie foute maak omdat jy moeg is, dan moet jy so sê,” het sy aan hom gesê. Pistorius het gestruikel oor die vraag of hy sy alarmstelsel afgeskakel het toe hy hulp wou soek nadat Steenkamp geskiet is. “As jy te moeg is, kan dit tot jou nadeel strek,” het sy gesê. Pistorius het bevestig hy is nie te moeg nie. Die hof het egter vir ʼn wyle verdaag toe die atleet te emosioneel was om verder vrae te beantwoord.

Die saak sal Maandagoggend om 09:30 weer in die hof hervat.

Pistorius staar ook aanklagte wat verband hou met die oortreding van die Vuurwapenwet in die gesig. -SAPA
Klik hier om hooftrekke van die hofverrigtinge gratis op Maroela Media te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Riaan ·

Hoekom was die toilet deur GESLUIT. Sy het haarself probeer beskerm teen hom so eenvoudig soos dit want daar is absoluut geen rede om die toilet deur te sluit vir die person waarmee jy ‘n seksuele verhouding het nie

Trudie Erasmus ·

Hoekom 4 skote skiet? Kon na eerste skoot ‘n paar sekondes gewag het om te sien of daar enige reaksie is.Ag, mens kan aanhou vrae stel, maar die een wat moet antwoord, is dood. Oscar is besig om homself vas te draai.Nee wat, ek glo hy is skuldig totdat hy onskuldig bewys word.

Francois ·

Ek sou graag wou weet wat mnr Pretoruis se verduidelikking sou wees as hy gevra word om aan die Regter te verduidelik wat gebeur het tussen hy en sy vriendin die nag van die moord, dat Reeva haarself moes gaan toesluit in die toilet. As hy mans genoeg is sal hy die waarheid praat want wat tussen hulle gebeur het daardie nag het tot haar dood gelei!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.