Oscar Pistorius getuig oor daardie aand

Oscar Pistorius op 7 April 2014 Foto: Themba Hadebe/AP/Pool (SAPA)

Oscar Pistorius op 7 April 2014 Foto: Themba Hadebe/AP/Pool (SAPA)

Oscar Pistorius se moordverhoor het Dinsdag in die Pretoriase hooggeregshof verdaag oomblikke nadat die ontstelde atleet homself onder bedaring gebring het.

Regter Thokozile Masipa het gesê die saak hervat Woensdagoggend om 09:30.

Barry Roux, vir Pistorius, het versoek dat die hof verdaag nadat sy kliënt onbedaard begin huil het. Staatsaanklaer Gerrie Nel het nie beswaar aangeteken nie.

Pistorius het Dinsdag die gebeure van 14 Februarie 2013 aan die hof voorgehou.

Hy het in die vroeë oggendure wakker geword en gesien Steenkamp is reeds wakker. Hulle kon glo nie slaap nie en hy het die waaier gaan skuif. Hy wou ʼn denimbroek oor ʼn lig plaas toe hy hoor hoe die badkamervenster op die eerste verdieping oopskuif. “Dit is die oomblik wat alles verander het. Ek het gedink daar is ʼn inbreker wat by my huis wou inkom.”

Hy sê sy eerste gedagte was dat hy homself moet bewapen, en dat hy Reeva moet beskerm en dat hy sy vuurwapen moet kry.

Konstruksiewerkers was besig om aan sy huis te werk en daar was lere wat teen die huis gestaan het. “Ek was nie seker of iemand teen die leer opklim of uit die toilet gaan kom en my gaan aanval nie,” het hy gesê.

“Ek dink ek het aanvanklik gevries. Ek het nie geweet wat om te doen nie. Daar was nie ʼn versperring tussen my en die badkamer nie.”

Pistorius het verduidelik hoe hy van die slaapkamer na die badkamer op sy stompies gekruip het met die vuurwapen in sy regterhand, en hy het homself teen die muur links van hom probeer balanseer. Pistorius sê hy het, op pad na die badkamer, vir Reeva gefluister om die polisie te bel. “Ek was vreesbevange en het vir die oortreder geskree om weg te kom en vir Reeva om die polisie te bel.” Net voordat hy by die badkamer gekom het, het hy weer geskree en ʼn deur hoor toeklap. “Dit kon net die toiletdeur gewees het,” het hy gesê.

Pistorius sê hy het vier skote deur die toiletdeur geskiet. “Ek het geluide binne die toilet gehoor en ek het aangeneem iemand is daar binne,” het hy gesê.

Pistorius het gesê hy het nie onmiddellik besef wat hy gedoen het nadat hy die skote gevuur het nie.

Hy was glo steeds te bang om uit die badkamer te beweeg, omdat hy nie seker was of enigiemand probeer het om met die leer by sy huis in te kom en of iemand in die toilet was nie. “Ek weet nie hoe lank ek daar bly staan het en vir Reeva geskree het nie,” het hy gesê.

Sy ore het glo gelui ná die skote en hy kon nie oor of daar reaksie is nie. Hy het na die kamer gestap en steeds vir Steenkamp geskree. “Ek kon niks hoor nie.”

Hy het nie daaraan gedink dat dit moontlik Steenkamp was wat in die toilet was nie, en het steeds gedink dit is inbrekers wat op die eerste verdieping wou inkom. Hy het na die bed gestap en steeds met Steenkamp gepraat. “Maar daar was niemand; niemand het reageer nie.”

Hy het op die bed gevoel of Steenkamp daar is. Hy het gedink sy het miskien op die vloer gaan lê soos wat hy vir haar gesê het toe hy aanvanklik die geluide gehoor het. Hy het steeds sy vuurwapen op die gang gerig, en daar was nie baie lig nie. “Dit was toe dat ek besef dat dit moontlik Reeva was wat in die toilet was,” het hy getuig.

Hy het dadelik agter die gordyn gaan kyk om te sien of sy nie daar wegkruip nie. Daarna is hy na die badkamer se gang op sy stompies met “gemengde gevoelens”, en wou nie glo dat Steenkamp moontlik in die toilet is nie. Hy het die deur probeer oopmaak, maar dit was gesluit. Hy het na die balkon gehardloop en ‘help, help, help’ geskree.

Hy het sy prosteses aangetrek en so vinnig as moontlik gehardloop en die deur probeer oopskop. “Ek dink nie ek het al ooit so geskree of gehuil nie. Ek het vir die Here geskree om my te help.”

Toe hy die deur met die krieketkolf oopgebreek het, het hy Steenkamp gesien en sy het nie asemgehaal nie.

Pistorius het vroeër gesê hy het Steenkamp se Valentynsdaggeskenk eers later oopgemaak. “Voor op die kaartjie het ‘Ozzie’ gestaan. Reeva het gesê ek mag dit nie oop maak voor die volgende dag nie, so ek het dit nie oopgemaak nie. Ek het dit op haar verjaarsdag, op 8 Augustus, oopgemaak. Dit was ʼn fotoraampie met vier foto’s van ons twee.”

Steenkamp se verjaarsdag is eintlik op 19 Augustus.

Pistorius word beskuldig van moord met voorbedagte rade. Hy staar ook aanklagte wat verband hou met die oortreding van die Vuurwapenwet in die gesig. Hy het onskuldig gepleit op alle aanklagte. –SAPA

Volg die hooftrekke van die hofverrigtinge gratis op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.