Oscar Pistorius ‘het nie werklik berou’

Staatsaanklaer Gerrie Nel tydens 'n vorige hofverskyning. Foto: Siphiwe Sibeko/Reuters/Pool (SAPA)

Staatsaanklaer Gerrie Nel tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: Siphiwe Sibeko/Reuters/Pool (SAPA)

Staatsaanklaer adv. Gerrie Nel het Maandag uitgevaar tydens kruisondervraging van die eerste getuie wat deur Oscar Pistorius se regspan ingeroep is.

Prof. Jonathan Scholtz, hoof van kliniese sielkunde by die Weskoppies- psigiatriese hospitaal en ook verbonde aan die Universiteit van Pretoria, is Maandag in die hooggeregshof in Pretoria deur Pistorius se verdediging as die eerste getuie ingeroep.

Adv. Gerrie Nel, namens die staat, het tydens kruisondervraging vir Scholtz gevra oor hoekom Pistorius nie sal kan getuig nie, maar wel ʼn onderhoud kon toestaan aan ʼn oorsese mediahuis met verwysing na ʼn onderhoud wat Pistorius met iTV gedoen het. Nel het ook verwys na ʼn konfrontasie tussen Pistorius en maj. Mike van Aardt, die ondersoekbeampte. Volgens Nel het Pistorius ná ʼn vorige hofverskyning vir Van Aardt voorgekeer en daarop aangedring dat sy familie se privaatheid gerespekteer word. Hy het glo ook vir Van Aardt gesê dat hy nie sy werk gedoen het nie.

Nel het aangevoer dat Pistorius nie werklik berou getoon het vir sy dade nie en dat hy net jammer voel vir homself. Nel het Scholtz gevra of hy ʼn invloed gehad het op die medisynedosis wat Pistorius ontvang het tydens sy tronkstraf. Nel het gesê Pistorius het tydens ʼn ontmoeting met ʼn verpleegster so kwaad geraak dat hy hard op die tafel geslaan en gebewe het. Volgens Nel het Pistorius Maandagoggend toe hy by die hof ingestap het al die personeel van die departement van korrektiewe dienste gegroet behalwe die verpleegster.

Nel het tydens ondervraging verwys na die boek wat Reeva Steenkamp se ma, June, geskryf het. Hy het gesê June het in die boek geskryf dat sy Pistorius vergewe het vir haar eie onthalwe en nie syne nie. Volgens Scholtz het Pistorius verantwoordelikheid aanvaar vir Steenkamp se dood. Scholtz het gesê hy het die appèlhof se uitspraak met Pistorius bespreek en hy verstaan dat hy moord gepleeg het. Nel het gesê Pistorius het nooit dié weergawe aan die hof voorgelê nie.

Nel het Scholtz uitgevra oor uitlatings in die verslag dat Pistorius glo gesê het hy is bekommerd dat sy kinders eendag Google kan gebruik om te sien wat hulle pa gedoen het. Pistorius het ook glo aangevoer dat hy tydens sy tronkstraf vir tot 18 uur per dag opgesluit was. Volgens Nel is dit egter nie waar nie en het Pistorius vryheid van beweging gehad in die afdeling waar hy aangehou is. Volgens Scholtz het hy verstaan dat Pistorius die grootste gedeelte van die dag tot sy tronksel van ses vierkante meter beperk was.

Scholtz het ook beweer dat Pistorius aangerand is. Volgens Nel is dit ook nie waar nie en het Pistorius gereeld gekla. Nel het ook gesê dit is nie waar dat Pistorius die lyk gesien het van iemand wat homself opgehang het nie. Pistorius het glo ook aan Scholtz gesê dat die tronkbewaarders mense verby sy sel laat loop het sodat hulle na hom kon kyk “soos ʼn ingehokte dier”.

Nel het hierna begin fokus op die medisyne wat Pistorius gebruik het. Volgens Nel is Pistorius se tronksel in 2015 deursoek en op onwettige medisyne beslag gelê. Scholtz het gesê hy is nie bewus hiervan nie.

Nel het landdros Thokozile Masipa hierna versoek om die hof te verdaag sodat kenners na Scholtz se verslag kan kyk en hy 14:30 met sy kruisondervraging kan voortgaan.

Lees alle vorige berigte oor die Oscar Pistorius-saak op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

45 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kruisondervraging

Kruisondervraging is een ding en baie baie belangrik. In die geval plaas Gerrie ‘n Professionele professor wat deur die verdediging sowel as staat goedgekeur was met toetsing van Oscar Pistorius op ‘n verhoor. Werklik met die wen van die appel dink hy, hy kan met enige mens in Suid-Afrika praat soos hy wil. Jy is met woorde dalk slim, maar as mens is jy regtig ‘n bol, jy het geen respek vir Professor Jonathan Scholtz, hoe moet enige iemand vir jou respek hê. Indien die professor wou kante kies kon hy lankal, sies man, jammer Professor, sekere mense het maar… Lees meer »

T

lyk my Oscar wil he die tronk moet ‘n 5 ster hotel wees, hy kla en kla oor die tronk maar hy het mos geweet dit is wat gaan gebeur as hy iemand dood maak. hoe kan hy justify dat hy nie wil tronk toe gaan nie want dit is nie lekker nie?? regtig….

M'Lady

Gerrie Nel bly maar n ongeskikte boelie. Hy noem sommer die Professor meneer en vrae hom goed wat niks te doen het met die Prof se getuienis nie.

Mielie

Kan maar net my hoed af haal vir Nel, ek het net soveel respek vir Roux. Kan my net in dink Wat wag vir N Henning in October…….

Linda Fourie

aan M’Lady…ek wens vir ‘n man soos Gerrie Nel wat jy ‘n boelie noem om elke moordenaar / misdadiger in ons siek land te ondervra dan slal minder van hulle los in die strate rondloop. As hy daar staan en uhm en aah het sou jy weer gesê het hy kan nie sy werk doen nie.