Oscar Pistorius: Hof hoor oor veg of vlug

Oscar Pistorius op 6 Mei 2014 in die hof Foto:  Mike Hutchings/Reuters/Pool (SAPA)

Oscar Pistorius op 6 Mei 2014 in die hof Foto: Mike Hutchings/Reuters/Pool (SAPA)

Oscar Pistorius se moordsaak is in die Pretoriase hooggeregshof tot Maandag uitgestel om staatsaanklaer Gerrie Nel die geleentheid te bied om met ʼn staatsielkundige te konsulteer.

Nel het nog nie sy kruisondervraging van Wayne Derman, ʼn mediese dokter en spesialis in sport en menslike bewegingskunde, afgehandel nie.

Nel het Derman daarvan beskuldig dat hy bevooroordeeld is en sy feite aanpas om te pas by dit wat op die aand van 14 Februarie 2013 plaasgevind het toe Pistorius Reeva Steenkamp doodgeskiet het.

Derman voer aan die oorspronklike geluid van die venster wat oopskuif het Pistorius bewus gemaak van ʼn moontlike bedreiging in die badkamer, die toiletdeur wat toemaak en toe ʼn derde geluid in die badkamer wat Pistorius laat skrik het, het uiteindelik tot die skietery aanleiding gegee.

Derman het vroeër verduidelik Pistorius moes vir meer as een ding geskrik het weens die tydsverloop vandat hy sy vuurwapen gaan haal het totdat hy die skote gevuur het. Die aanvanklike fisiologiese reaksie sou verminder het as daar nie ʼn tweede skok was om dit te stimuleer nie.

Hy het Pistorius Woensdag beskryf as ʼn angstige individu wie se hande bewe en wat aan ʼn slaapversteuring ly waarvoor hy medikasie ontvang het. Hy het gesê Pistorius het gereeld oordrewe skokreaksies getoon op die vuurwerke tydens die Olimpiese Spele se opening- en afsluitingseremonies. Hy het glo sy ore toegedruk totdat die geraas verby is.

Derman het Donderdag verduidelik dat ʼn mens se liggaam onmiddellik in ʼn veg- of vlughouding ingaan wanneer die persoon skrik. Sodra ʼn individu in só ʼn houding verkeer, verminder die bloedvloei na die deel van die brein wat kognitiewe denke beheer en kan ʼn persoon se denkvermoë ietwat beïnvloed word.

Derman het vroeër gesê hy het nie notas geneem toe Pistorius vir hom verduidelik het wat die aand van die skietery gebeur het nie. Hy het Pistorius ʼn tweede keer gesien om van die besonderhede op te klaar.

Pistorius word van moord aangekla nadat hy Steenkamp op Valentynsdag verlede jaar doodgeskiet het. Hy het haar deur ʼn geslote toiletdeur geskiet. Hy voer aan hy het haar vir ʼn inbreker aangesien. Die staat voer aan hy het haar tydens ʼn argument geskiet. Hy staar ook aanklagte wat verband hou met die oortreding van die Vuurwapenwet in die gesig. Hy het onskuldig gepleit op alle aanklagte. –SAPA

Klik hier om die hooftrekke van die hofverrigtinge gratis op Maroela Media te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johan Kitshoff ·

Dis seker hoekom hy so vinnig gehardloop het … Geskrik as die skoot afgaan

Rieks ·

Hoe lekker lag ek nou!!!! Johan – hoe maak jy sommer my naweek. Hy het nie geskrik as die skoot afgaan nie. Hy het die tydsberekening nogal goed gedoen – hy het nog nooit ‘n tweede skoot ontvang omdat hy voor dit weg gespring het nie ;-D

petra van vuuren ·

sjeim! en ons moet dit nou glo? Met ander woorde, as ek nou skrik, kan ek ok ma iemand doodskiet of iets aan doen? Of hoe? Genade nee, sirkus se moses.!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.