Oscar Pistorius in die getuiebank

Oscar Pistorius op 7 April 2014 in die hof Foto: Themba Hadebe/AP/Pool (SAPA)

Oscar Pistorius op 7 April 2014 in die hof Foto: Themba Hadebe/AP/Pool (SAPA)

Die moordbeskuldigde Oscar Pistorius het Maandag aan Reeva Steenkamp se familie en vriende om verskoning gevra nadat hy haar op 14 Februarie 2013 doodgeskiet het.

Pistorius het Maandag in die getuiebank ingeskuif en gesê hy wil van die geleentheid gebruik maak om aan Reeva se ouers om verskoning te vra. Pistorius was huilend en regter Thokozile Masipa moes hom versoek om harder te praat.

“Ek word elke oggend wakker en julle [haar familie] is die eerste mense aan wie ek dink, die eerste mense vir wie ek bid,” het die atleet gesê. “Ek wou net vir Reeva beskerm.”

Hy het gesê hy kan belowe dat Steenkamp geliefd gevoel het toe sy die aand gaan slaap het.

Pistorius is die tweede getuie in die verdediging se saak. Barry Roux, vir Pistorius, het aan die hof gesê die verdediging sal tussen 14 en 17 getuies roep.

Afgetrede patoloog Jan Botha het Maandagoggend eerste in die Pretoriase hooggeregshof getuig. Hy het gesê dit is moontlik dat die gebeure so vinnig afgespeel het, dat sy nie kans gehad het om te reageer voordat sy doodgeskiet is nie.

Hy sê ʼn paar sekondes verstryk wanneer iemand gesê word daar is ʼn inbreker in die huis en dat die polisie ontbied moet word. Sy was agter die geslote deur en het moontlik paniekerig geraak. Botha voer aan indien die skote binne vier of vyf sekondes gevuur is en sy getref is, sy moontlik nie in staat was om te reageer nie.

Die hof wou hoor of Steenkamp van agter die toiletdeur sou skree voordat Pistorius haar doodgeskiet het. Sy is in die heup, arm en kop getref.

Botha het ook getuig oor die koeëlgate in die toiletdeur waardeur Steenkamp geskiet is. “Ek het nog nooit kommentaar gelewer oor die volgorde van die gate in die deur die verband tussen die volgorde van wonde nie,” het hy onder kruisondervraging deur staatsaanklaer Gerrie Nel gesê. “Mens kan nie die twee van mekaar skei nie,” het Nel gesê. Hy het na Botha se verklaring dat die eerste skoot moontlik haar heup getref het, verwys.

Nel het ook na Botha se verklaring verwys waar hy die hoogte van die gate in die deur in berekening gebring het. “Dit is nie my werk om te bepaal watter koeëlgat aan watter wond verbind word nie, dit is die ballistikus se werk,” het Botha gesê.

Hy het toegegee dat Steenkamp moontlik bo-op die tydskrifrakkie beland het toe sy geskiet is. Hy moes ʼn nabyfoto van Steenkamp se rugbesering en ʼn vergroting van die patroon op die swart hemp wat sy aangehad het, ondersoek.

Botha het vroeër gesê hy het gedink dat Steenkamp nie bo-op die tydskrifrakkie geval het toe sy in die heup geskiet is nie. Die staatsgetuie, kaptein Chris Mangena het dié getuienis aan die hof voorgehou. Botha het vroeër gesê na sy mening het sy teen die rakkie geval, en nie bo-op die rakkie nie. Hy het aangevoer sy het die rugbeserings opgedoen toe sy teen die rakkie gegly het, en nie die opslagkoeëls van die sogenaamde Black Talon-koeëls wat Pistorius gebruik het nie. Daar was glo bloedspatsels van Steenkamp se beserings voor op die rakkie, maar nie binne-in nie.

Nadat Botha die foto’s ondersoek het, het hy gesê die waarskynlikheid is groter dat dit deur die tydskrifrakkie en nie die patroon op die hemp veroorsaak is nie.

Hy het aan Nel erken hy het dit nie by sy verslag ingesluit nie, omdat hy dit nie oorweeg het nie.

Hy het aan Nel gesê hy werk nie vir die beskuldigde of die verdediging nie, hy probeer net die hof help.

Pistorius word beskuldig van moord met voorbedagte rade. Hy voer aan hy het Steenkamp vir ʼn inbreker aangesien. Hy staar ook klagte wat verband hou met die oortreding van die Vuurwapenwet in die gesig. Hy het glo in Januarie 2013 ʼn skoot in ʼn besige restaurant in Johannesburg laat afgaan en het op 30 September 2012 glo ʼn skoot deur die oop sondak van ʼn motor met sy 9mm-pistool afgevuur toe hy en vriende in Modderfontein gery het. Hy het onskuldig gepleit op alle aanklagte. –SAPA

Klik hier om die hooftrekke van die hofverrigtinge gratis op Maroela Media te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Praetor ·

Stem. Al is dit net oor daai temerige stemmetjie. Vinnige karre, blondines, motorbote, vuurwapens by die hope verwag ek meer hy moet oorkom soos n selfvoldane Dirty Harry. Klink meer soos n sub a’tjie wat deur die juffrou gevang is n appel steel.
“I want my mommyeeeeeeee….”!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.