Oscar Pistorius: Kenner getuig oor selfoonboodskappe

Pistorius huil in die hof terwyl daar getuig word oor boodskappe wat tussen hom en Steenkamp gestuur is. Foto: Chris Collingridge/TheStar/Pool/SAPA

Pistorius huil in die hof terwyl daar getuig word oor boodskappe wat tussen hom en Steenkamp gestuur is. Foto: Chris Collingridge/TheStar/Pool/SAPA

Die hooggeregshof in Pretoria het vandag gehoor dat sowat 90% van die meer as 1 000 boodskappe wat tussen Oscar Pistorius en sy vriendin Reeva Steenkamp gestuur is, “liefdevol” en “normaal” was.

Kapt. Francois Möller, ‘n selfoon-kommunikasiedeskundige van die polisie, het Maandag in die verhoor getuig dat hy 1 709 boodskappe van die paartjie se fone afgetrek het. Möller het ʼn boodskap wat Steenkamp op 27 Januarie 2013 op WhatsApp aan Pistorius gestuur het, aan die hof voorgelees. In die boodskap sê Steenkamp dat sy somtyds bang is vir Oscar en hoe hy teenoor haar gaan reageer. Sy sê Pistorius maak haar 90% van die tyd gelukkig en dat hulle wonderlik saam is. Pistorius het begin huil toe die boodskap aan die hof voorgelees is.

Steenkamp het verder gesê dat sy met niemand flankeer het nie en dat Pistorius “tantrums” gooi. Steenkamp het ook gesê dat Pistorius oor sy voormalige vriendinne mag praat maar dat sy nie oor haar voormalige kêrels mag praat nie. Pistorius het kort hierna ʼn boodskap aan Steenkamp gestuur waarin hy vra hulle moet “dinge uitsorteer.” Pistorius vra om verskoning vir sy gedrag in die boodskap. Die saak duur Dinsdag voort.

Annette Stipp, een van Pistorius se bure, het vroeër Maandag getuig dat sy ongetwyfeld ʼn man en ʼn vrou die aand van Steenkamp se dood hoor skree het. Stipp, ʼn arbeidsterapeut, het getuig sy het omstreeks 03:00 op 14 Februarie 2013 wakker geword tydens ʼn hoesbui. Sy het drie skote gehoor gevolg deur gille wat “duidelik vroulik” was. “Oomblikke ná die skote het ek ʼn vrou hoor gil; vreesbevange gille,” het Stipp gesê.

Pistorius word aangekla van moord met voorbedagte rade nadat hy Steenkamp op 14 Februarie 2013 doodgeskiet het. Pistorius voer aan dat dit ʼn ongeluk was en dat hy Steenkamp vir ʼn inbreker aangesien het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Elize Mans ·

Ja,sake met Oscar,bekommer my.Maar as jy die nuus hoor,dan praat hulle nie van die 90% liefde wat op die sms,se wys nie.Net dat Reeva bang was vir Oscar.En dat hy baie jaloers was.
Dit voel vir my, die medemens,wat naby hom gebly het, wil hom aan die pen sien ry.
Hoe kan n mens, alles verstaan?

Slim Daan ·

Alle vroue wat onder die juk van n selfgesentreerde sosiopaat staan ( sien ook narcistiese persoonlikheids-stoornis ) sal jou vertel dat 90% vd tyd hul voorkom as die perfekte mnr ” gentleman en charmer”.
Die gevaar waartoe hierdie tipe karakter egter in staat is, le in die 10% as hy die dag “oorkook”. Dis wat hul so lafhartig slinks geveinsd laat. Vriende, familie en die buitewereld neem merendeels net kennis van eersg. Daai 10% gebeur gewoonlik in die binnevertrekke. Nes hier.

Hendrina ·

Ek glo regtig nie Oscar se bure wil hom net aan die pen sien ry nie, hulle getuig oor wat hulle gehoor het, soos wat van hulle verwag word. Natuurlik sal mens deurmekaar wees as jy in die middel van die nag wakker word van gille en geweerskote en sou hulle seker hulle boeglam geskrik het.
Die 90% liefdevolle whatsup’s is mos eintlik nie van toepassing om die moordsaak nie, maar die 10% is wel. Reeva het ook gesê, “meeste van die tyd maak jy my gelukkig, maar ander kere is ek eintlik bietjie bang vir jou” – nou nie die presiese woorde nie maar dit kom daarop neer.

Ek voel ook jammer vir Oscar dat hy sy lewe so verwoes het, maar as dit iemand anders was sou hy noual reeds agter tralies gesit het. Hy het die wet oortree en ‘n vrou het met haar lewe geboet daarvoor.

Renet ·

Ek voel jammer vir Reeva se familie en ook vir Oscar se familie. Hierdie is ‘n enorme tragedie. Net Oscar en die Hemelse Vader weet wat die waarheid is.

Suzette ·

Dit is baie moeilik want dan, dink ‘n mens hy het dit opsetlik gedoen en dan dink jy wat hy se is baie waar, ek moet ook se dat as ek so diep in die poef was sou ek ook huil oor iets wat ek verkeerd gedoen het veral iets soos die wat jou en baie naasbestaandes so verskriklik aanraak vir die res van jou en hulle lewe. Ek se nie hy het dit aspris gedoen nie maar hy sal wel moet betaal vir sy dade en dis tronkstraf vir baie baie lank

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.