Oscar Pistorius moet sy huis verkoop

Oscar Pistorius se huis in die Silver Woods-landgoed Foto: NY Daily News

Oscar Pistorius se huis in die Silver Woods-landgoed Foto: NY Daily News

Die moordbeskuldigde Oscar Pistorius moet sy huis in die Silver Woods-landgoed verkoop om sy regskoste te dek, het sy prokureur Brian Webber Donderdag gesê.

“Dit is weens die onverwagse verlenging van die hofsaak ná die aanvanklike vasgestelde drie weke periode,” het Webber in ʼn verklaring gesê. “Die besluit om dringend van sy grootste bate ontslae te raak, moes gemaak word weens die vertraging om die hofsaak af te handel.”

Webber sê Pistorius het van die begin af sy eie regskoste betaal.

Sy moordverhoor in die Pretoriase hooggeregshof sal na verwagting tot 4 April voortduur. Die verhoor sou aanvanklik tussen 3 en 20 Maart plaasgevind het.

Die atleet word beskuldig van moord met voorbedagte rade nadat hy Reeva Steenkamp op 14 Februarie 2013 by die huis doodgeskiet het. Hy staar ook aanklagte, wat verband hou met die oortreding van die Vuurwapenwet, in die gesig. Hy het onskuldig gepleit op alle aanklagte.

Volgens Webber het Pistorius nog sedert die voorval nie weer teruggekeer na die huis nie. “Hy kan nie eers daaraan dink om ooit weer daar te bly nie,” het Webber Donderdag gesê. “Die owerhede het die huis al ʼn jaar gelede aan Pistorius oorhandig, maar die besluit is geneem om die huis geseël te hou tot ná die hofsaak.”

Pistorius het in sy aansoek om borgtog gesê die huis is nagenoeg R5 miljoen werd. Webber sê die huis sal deur een agent verkoop word. “Ramsay Webber Ing. het Ansie Louw Estates van Pretoria aangestel om die proses te hanteer en die huis te verkoop.” -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.