Oscar Pistorius-moordverhoor: Bloedspatsels en webwerwe; saak uitgestel

Oscar Pistorius op 19 Maart in die hof Foto: Leon Sadiki/Citypress/Pool (SAPA)

Oscar Pistorius op 19 Maart in die hof Foto: Leon Sadiki/Citypress/Pool (SAPA)

NEEM KENNIS: Alhoewel Maroela Media beskik oor grafiese foto’s van die misdaadtoneel het die redakteur ʼn besluit gemaak om, weens die sensitiewe aard daarvan, nie die foto’s te publiseer nie. -Red

Reeva Steenkamp het haarself probeer verdedig toe die laaste skote haar getref het, het die Pretoriase hooggeregshof Woensdag gehoor.

Kaptein Chris Mangena, ʼn ballistiese kenner van die polisie, het tydens Oscar Pistorius se verhoor verduidelik Steenkamp was vooroor gebuig en haar arms was voor haar gesig en bors.

Steenkamp het voor die deur gestaan, met haar gesig na die deur, toe die eerste skoot haar getref het, het Mangena getuig.

Pistorius het haar op 14 Februarie 2013 by sy huis in Silver Woods-landgoed, Pretoria-Oos, deur ʼn geslote toiletdeur doodgeskiet nadat hy haar glo vir ʼn inbreker aangesien het.

“Die koeël het haar heupbeen gebreek,” het Mangena gesê. Hy sê sy het geval en in ʼn sittende posisie bo-op ʼn tydskrifrakkie beland, met haar rug na die muur toe. Mangena kon dit bepaal deur die wonde in Steenkamp se liggaam te belyn met koeëlgate in die deur.

Die tweede skoot het haar gemis.

Daarna het Steenkamp haar arms gekruis oor haar kop gehou. ʼn Koeël is reg deur Steenkamp se regterarm en dit het gebeur toe haar arm omhoog gehou is. Sy het ook ʼn wond in haar linkerhand opgedoen toe sy haarself probeer beskerm het en dié koeël het haar kop binnegedring.

Pistorius het van sogenaamde Black Talon-koeëls gebruik gemaak. Sodra dié koeëls die vel binnedring, vou die patroon soos skerp blomblare oop. Die “blare” haak en skeur dan hul pad deur die weefsel oop.

Die hoogte van die vier gate in die deur en die trajeksie daarvan dui daarop dat Pistorius nie sy prostese aangehad het nie. Dit is in ooreenstemming met die atleet se verklaring tydens sy aansoek om borgtog.

Mangena het tydens sy kruisverhoor ʼn hele paar keer Barry Roux, vir Pistorius, se scenario’s verwerp.

Kol. Ian van der Nest, ʼn bloedspatselkenner van die polisie, het ná Mangena getuig. Van der Nest het getuig oor twee plasse bloed, een op die toiletdeksel en die ander op die vloer naby die toilet. Volgens Van der Nest is laasgenoemde weens bloeding uit Steenkamp se arm. Die patroon op die toiletdeksel is veroorsaak deur bloeddeurdrenkte hare.

Die wonde aan haar kop en regterarm sou ʼn slagaar-uitbarsting veroorsaak het en dit het gelei tot die bloedspoor in Pistorius se huis. “Die hoeveelheid bloed in haar kop sou ʼn goeie bron wees vir die konstante bloedspoor teen die trap af,” het Van der Nest gesê.

Kol. Mike Sale, selfoonkenner, het ná Van der Nest sy plek in die getuiebank ingeneem. Sale het getuig Pistorius het pornografie en webwerwe wat tweedehandse motors verkoop, om 18:30 op 13 Februarie 2013 op ʼn iPad3 en iPad2 deursoek. Die twee iPads, wat op die toneel aangetref is, het dieselfde tipe inhoud opgehad. Pistorius het glo ook op webwerwe na motors soos die Aston Martin Rapide R en die Ford Ranger gekyk.

Alle webwerfaktiwiteit voor 13 Februarie 2013 is uitgevee op die toestelle.

Sale moes aan Roux erken dat hy nie kan bepaal wie die toestelle hanteer het toe die webwerwe besoek is nie.

Staatsaanklaer Gerrie Nel het na Sale se getuienis uitstel versoek tot Maandag toe om die staat die geleentheid te bied om sy finale getuie-konsultasies te doen. Die staat berei voor om sy saak af te sluit.

Die staat wil glo nog vyf getuies roep.

Roux het gesê hy sou graag al die tyd tot hul beskikking wou gebruik, maar het nie die versoek teengestaan nie.

Regter Thokozile Masipa het die versoek goedgekeur. Die saak hervat dus Maandag, 24 Maart 2014. –SAPA

Klik hier om die hooftrekke van die hofverrigtinge gratis op Maroela Media te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.