Oscar Pistorius-moordverhoor: Buurman getuig oor gille, skote

Oscar Pistorius op 6 Maart 2014 in die hof Foto: Marco Longari/AFP/Pool (SAPA)

Oscar Pistorius op 6 Maart 2014 in die hof Foto: Marco Longari/AFP/Pool (SAPA)

Johann Stipp, een van die inwoners van Silver Woods-landgoed waar Oscar Pistorius Reeva Steenkamp op 14 Februarie 2013 doodgeskiet het, het Donderdag getuig oor gille en skote wat hy die aand gehoor het. Hy was ook die eerste mediese dokter op die toneel wat Steenkamp in Pistorius se arms gesien het.

Stipp, ʼn radioloog, sê hy het gille uit Pistorius se huis gehoor. Hy het wakker geword van die skote. “My vrou het my gevra wat dit was, en ek het gesê dit klink soos geweerskote,” het Stipp aan die Pretoriase hooggeregshof gesê.

Hy het gesê hy het omstreeks 03:00 wakker geword nadat hy vermoedelik ʼn skoot gehoor het. Hy het daarna ʼn vrou hoor skree en toe weer drie skote. Stipp is die tweede inwoner van Silver Woods-landgoed om in die hofsaak, wat op 3 Maart begin het, te getuig.

Barry Roux, vir Pistorius, het egter gesê Steenkamp het ʼn “vreeslike, ernstige, verwoestende” kopskoot opgedoen en dit sou onmoontlik vir haar wees om te skree. Hy probeer die punt bewys dat Stipp nie ʼn vrou in die vroeë oggendure sou kon hoor gil nie. “ʼn Persoon met daardie besering sal nie kan gil nie.”

Staatsaanklaer Gerrie Nel het egter beswaar aangeteken en gesê dit kan nie as ʼn feit gestel word dat die eerste skoot tot Steenkamp se dood gelei het nie.

Volgens Roux het die verdediging boonop desibeltoetse gedoen wat sal bewys dat Pistorius se gille soos ʼn vrou sʼn klink wanneer hy angstig is.

Stipp sê hy het nie geweet dit is Pistorius se huis toe hy gaan ondersoek instel het om moontlik bystand te verleen nie. Hy sê ʼn man het op sy selfoon gepraat en ʼn vrou by die deur het hom ingelaat nadat hy homself as ʼn dokter bekend gestel het. Stipp het ʼn vrou op die vloer sien lê, met ʼn man langs haar.

Pistorius het glo gesê hy het gedink hy het ʼn inbreker geskiet toe die eerste persone by die toneel opgedaag het. Volgens Stipp het Pistorius gesê: “Ek het haar geskiet. Ek het gedink sy is ʼn inbreker en ek het haar geskiet.”

“Oscar het by haar gebly,” het Stipp getuig. Pistorius wou glo haar lugweg oop hou en het sy vingers in haar mond gehou. Stipp sê hy het ʼn poging aangewend om haar te help, maar het vinnig besef Steenkamp is dood. “Oscar het gehuil en aanhou smeek dat sy moet leef. Hy het gesê hy sal sy lewe aan God toewy as sy net sou leef,” het Stipp getuig.

Hy het die besonderhede van haar beserings aan die hof voorgehou waartydens Pistorius en Steenkamp se niggie in die hof begin huil het.

Stipp sê hy het ene mnr. Stander op die toneel gevra of hy weet waar die vuurwapen is nadat Pistorius by die trappe opgestap het. “Ek was bang dat Oscar homself sou beseer,” het Stipp aan die hof gesê. Hy sê Stander het gesê hy hoop nie die skietery beland in die media nie.

Die staat probeer bewys dat Pistorius moord met voorbedagte rade gepleeg het. Hy voer aan hy het Steenkamp vir ʼn inbreker aangesien. Pistorius word ook van die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie aangekla en staar twee aanklagte van die afvuur van ʼn vuurwapen in die openbaar in die gesig. Hy het glo in Januarie 2013 per ongeluk ʼn vuurwapen onder ʼn tafel by die Tasha’s-restaurant in Johannesburg afgevuur en hy het in September 2010 in Modderfontein glo ʼn skoot deur die oop sondak van ʼn motor met sy 9mm-pistool afgevuur.

Klik hier om gratis op hoogte te bly van die hofverrigtinge.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Mariaan ·

Sy storie was gereed toe die mense opdaag en daarom was hy kamstig so ontsteld en wou haar help. Hy het ‘n moord gepleeg en wil nie sy straf soos ‘n man vat nie.

Slim Daan ·

Se hom Mariaantjie se hom. Skiet hy skote moet sy pelle die blaam daarvoor dra. Die keer was daar geen tyd vir n “instaan” bloedboetie nie, toe raak die Liewe Heertjie die enigste een aan wie hy skielik GROOT beloftes maak.
Hy bly n egoistiese wurm. Erger as die Waterkloof 4. Punt.

Gedoriewaar ·

Mens moet jouself met die hele fiasko afvra hoe het dit gebeur dat mense skielik kenners op die gebied word van alles van stemgewing tot ouditiewe persepsie. En dat al die mense hom kruisig asof hulle sieners is. Die reg noem skuldig bo alle redelike twyfel presies dit vir ‘n rede. Gee die reg kans om sy gang te gaan. Niemand durf ‘n klip gooi nie, ons bly almal immers in glaskastele.

Slim Daan ·

Toegegee. Maar mens hoef ook nie oop oe te staan en toekyk dat iemand donkiebrolle in jou hare draai vir haarkrullers nie.
Die BO ALLE REDELIKE TWYFEL- leerstelling inderdaad n onomstoolike voorvereiste in die skuldigbevinding van n persoon in ons strafreg. Maar as die uwe dink dat sy krokkedil-traantjies in die hof n sweem van empatie uit my gaan wring, sit hy die pot mis. Sy narcissistiese karaktereienskappe laat hom oop om te manipuleer na keuse. Duidelik het hy in die verband tot jou gespreek en deurgedring. Staan nie verbaas as hy jou plasing raaklees om net daarna in sy mou te staan en ” snigger ” nie.
GOOGLE gerus in die verband oor wat kenners oor die kwessie te se het.

Slim Daan ·

Nog meer so toe ek gister moes verneem ons talentvolle heer kan boonop jodel ook! Uit een stem neem hy die persona van n man en vrou aan as hy gil.
Voorwaar van sopraan tot tenoor in n japtrap !?

Slim Daan ·

Voorts sal ek ruiterlik erken ek ook in n glaskasteel bly as jy bewyse kan voorle van n pragtige meisiemens wie se lewe ek al geneem het ?

Die Oordeel ·

Wie is enigiemand om te oordeel….sou julle nogsteeds geoordeel het as Oscar julle Seun was?? Vra maar net?? Ek gaan nie oordeel nie ek is die Die Vader nie, wat ookal die waarheid is, eendag gaan Oscar wel moet rekenskap gee! Het enigiemand al aan die scenario gedink? Reeva staan op deur die nag en gaan badkamer toe, Oscar word wakker van iets wat hy hoor? hy skree op die “inbrekers” sy sit in die badkamer en kan nie sien hy praat eintlik met haar nie, stilletjies sluit sy die deur en sit dood stil, sy dink hy skree op “inbrekers” en antwoord hom nie..omdat sy nie antwoord nie dink hy wel dit is iemand wat wil inbreek, en hy skiet!! Ek dink ook dit sou my reaksie gewees het, as ek in die badkamer is en ek hoor my Man skree op “inbrekers” sal ek dood stil sit nie n woord se nie en die deur sluit!! Ek dog ek se maar net………………………………………………

Kellies ·

Ek stem saam met jou “Die Oordeel”. Slim Daan en Mariaantjie was seker nog nie deur misdaad geraak nie en slaap lekker snags en is dan wawyd wakker om te kan oordeel!!
Aangaande die skietvoorval in die restorant: Die eienaar van die pistool bly verantwoordelik as hy nie beheer oor sy wapen het nie en ek dink hy het self die skoot afgevuur en nou dat die storie uitgekom het gee hy vir Oscar die skuld??? vra maar net.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.