Oscar Pistorius-moordverhoor: Buurvrou getuig oor gille, ligte wat brand

Kenny Oldwage, vir Pistorius, op 24 Maart 2014 in die hof Foto: Ihsaan Haffejee/Pool (SAPA)

Kenny Oldwage, vir Pistorius, op 24 Maart 2014 in die hof Foto: Ihsaan Haffejee/Pool (SAPA)

Annette Stipp, een van Oscar Pistorius se bure, het Maandag in sy moordverhoor getuig dat sy ongetwyfeld ʼn man en ʼn vrou die aand van Reeva Steenkamp se dood hoor skree het.

Stipp, ʼn arbeidsterapeut, het in die Pretoriase hooggeregshof getuig sy het omstreeks 03:00 op 14 Februarie 2013 wakker geword tydens ʼn hoesbui. Sy het drie skote gehoor gevolg deur gille wat “duidelik vroulik” was. “Oomblikke ná die skote het ek ʼn vrou hoor gil; vreesbevange gille,” het Stipp gesê.

Pistorius se huis in die Silver Woods-landgoed in Pretoria-Oos is sigbaar van Stipp en haar man se slaapkamer af. Haar man, Johan, ʼn radioloog, het vroeër getuig.

Stipp sê sy en haar man is na die slaapkamerbalkon en hy het vir haar gesê hy sien ʼn man beweeg in die huis oorkant hulle s’n. Die egpaar het ook ʼn man hoor gil, en omdat hulle bekommerd was dat dit moontlik ʼn gesinsmoord is, het hulle noodnommers begin skakel. Daarna het hulle nog drie skote gehoor.

“Ek het ook ʼn man hoor skree. Ná die tweede stel skote het dit stil geword,” het Stipp getuig. “Daar was nie meer gille nie, nie van ʼn man of ʼn vrou nie.”

Terwyl die staatsaanklaer Gerrie Nel haar ondervra het, het sy gesê die vrou se gille het duidelik verskil van die manstemme wat sy maande later gehoor het toe Pistorius se verdedigingspan klanktoetse by die huis uitgevoer het.

Pistorius het onskuldig gepleit op aanklag van moord met voorbedagte rade en sy regspan voer aan die atleet se gille klink soos ʼn vrou sʼn wanneer hy angstig is. Pistorius voer aan hy het Steenkamp vir ʼn inbreker aangesien toe hy vier skote deur ʼn geslote toiletdeur geskiet het.

Volgens die staat moes Pistorius Steenkamp se gille gehoor het, maar hy het aanhou skiet.

ʼn Ballistiese kenner het verlede week getuig die eerste skoot het Steenkamp in haar heup getref en die tweede het gemis. ʼn Patoloog, wat die nadoodse ondersoek uitgevoer het, het aan die hof gesê dit sou “onnatuurlik” wees vir Steenkamp om nie te gil nadat die koeël haar heup getref het nie.

Kenny Oldwage, vir Pistorius, het Stipp se getuienis gedaag nadat sy gesê het sy het twee ligte in die atleet se badkamer sien brand, onder andere een links van die toilet. Oldwage het egter gesê volgens haar man was die lig moontlik nie aangeskakel nie, en Pistorius het aan hom [Oldwage] gesê die lig was, ten tyde van die voorval, buite werking. “Ek kan onthou dat altwee ligte gebrand het,” het sy gesê.

Oldwage wou ook weet waarom sy haar aanvanklike verklaring verander het. Sy het glo ʼn sin laat uithaal waarin sy sê sy het ʼn man in Pistorius se huis sien beweeg. Volgens Stipp het sy later, toe sy daaroor nadink, besef dat sy dit nie kan onthou nie en dat haar man dit moontlik vir haar gesê het. Sy was oortuig sy moet dit uit die verklaring haal.

Johan Stipp was die eerste dokter op die toneel nadat Steenkamp doodgeskiet is. Hy het aan die hof gesê hy het Pistorius met Steenkamp in sy arms aangetref. Hy het gebid dat sy moet leef. Stipp het egter gesê dit was te laat om die 29-jarige blonde model te red.

Pistorius en Steenkamp was ʼn paar maande lank in ʼn verhouding toe sy doodgeskiet is.

Ander bure het ook getuig dat hulle ʼn vrou se gille die aand gehoor het.

Die saak sal na verwagting op 16 Mei afhandel. -SAPA

Volg die hooftrekke van die hofsaak gratis op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.