Oscar Pistorius-moordverhoor dalk volgende week afgehandel

Oscar Pistorius op 6 Mei 2014 in die hof Foto:  Mike Hutchings/Reuters/Pool (SAPA)

Oscar Pistorius op 6 Mei 2014 in die hof Foto: Mike Hutchings/Reuters/Pool (SAPA)

Die moordbeskuldigde Oscar Pistorius se verdeging het Dinsdag aan die Pretoriase hooggeregshof gesê hy verwag om volgende week sy saak af te handel.

“Ons is binne ons tydraamwerk,” het Barry Roux SC aan regter Thokozile Masipa gesê. “Ons sal na verwagting ons saak teen volgende week Dinsdag afhandel.”

Die hof het Dinsdag net voor middagete verdaag en sal weer Donderdagoggend hervat. Woensdag is ‘n openbare vakansiedag vir die nasionale verkiesing.

Drie van Pistorius se bure het Dinsdag getuig.

Michael Nhlengethwa is die buurman wat die naaste aan die atleet se huis in die Silver Woods-landgoed in Pretoria-Oos bly. “Ek het ʼn man hoor huil,” het Nhlengethwa aan staatsaanklaer Gerrie Nel gesê. Hy sê hy het die sekuriteit ontbied toe hy die man hoor huil het.

Pistorius word beskuldig van moord nadat hy Reeva Steenkamp op 14 Februarie 2013 deur ʼn geslote toiletdeur doodgeskiet het. Hy voer aan hy het haar vir ʼn inbreker aangesien.

Nhlengethwa sê hy het nie enige geluide gehoor wat geklink het soos iemand wat ʼn deur afbreek nie. Hy het ook nie skote gehoor nie. Hy het ook nie ʼn vrou hoor skree nie.

Eontle Hillary Nhlengethwa, het ná haar man in die getuiebank ingeskuif. Sy het gesê sy het ʼn enkele harde knalgeluid gehoor wat deur gille gevolg is. Die persoon het glo ‘Help! Help! Help!’ geskree. Die knalgeluid het haar wakker gemaak. Sy het haar man wakker gemaak om te hoor of hy ook die geluid gehoor het.

Roux het Hillary gevra om die gille, wat sy gehoor het, vir die hof na te maak. Sy het een keer gegil.

Haar man het gaan ondersoek instel om te bepaal of die geluid nie uit hulle huis gekom het nie, en sy was glo angsbevange tydens die voorval. Haar man het teruggekeer na die slaapkamer en toe sekuriteit ontbied. Hy is later na Pistorius se huis toe die sekuriteit se motor buite die huis gestaan het.

Rika Motshuane, ook een van Pistorius se bure, was Dinsdag die derde getuie. Sy het gesê sy het die oggend om 03:20 slegs ʼn man hoor huil. Sy het haar man wakker gemaak om te hoor of hy ook die geluide hoor.

Roux het Motshuane versoek om twee keer vir die hof te demonstreer hoe die gehuil, wat sy gehoor het, geklink het. Sy het twee keer in die hof geskree. Motshuane het getuig dat dit ʼn man se gille was, en nie ʼn vrou s’n nie.

Pistorius staar ook aanklagte wat verband hou met die oortreding van die Vuurwapenwet in die gesig. Hy het onskuldig gepleit op alle aanklagte. -SAPA

Klik hier om die hooftrekke van die hofverrigtinge gratis op Maroela Media te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

sarie ·

Ons sal seker nie weet wat die uitslag gaan wees,maar uit eindelik klaar,wat ‘n verligting,ons hoef ook nie die GOLD DIGGER se gesig te sien nie,as Oscar gevonnis word ,hoop ek sy kry ook nie twee sent ,die hele familie is geld mal.Hulle almal het eiertjies te le oor die voorkoms en gedrag van Oscar,kyk net in die spieel.Watter kant dit ook al draai,Oscar gaan verlig wees dis verby.

Sanet ·

Ek se nogsteeds hy is skuldig! En Reeva se ouers moet ophou geld soek by ander en n bietjie na die regte wereld terugkeer waar mense heel normaal lewe? N mens kan nie ryk lewe as jy nie geld het nie, ongelukkig is dit nou net hoe dit is?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.