Oscar Pistorius-moordverhoor: Dixon bevraagteken bure se getuienis

Forensiese kenner Roger Dixon op 15 April 2014 in die hof Foto:  Alon Skuy/Times Media Group/Pool (SAPA)

Forensiese kenner Roger Dixon op 15 April 2014 in die hof Foto: Alon Skuy/Times Media Group/Pool (SAPA)

Oscar Pistorius se moordverhoor duur Woensdag voort in die Pretoriase hooggeregshof met Roger Dixon, voormalige senior forensiese kenner van die polisie, in die getuiebank.

Pistorius het Dinsdag sy sewende dag in die getuiebank spandeer voordat Gerrie Nel sy kruisondervraging afgesluit het. Hy hou vol hy is onskuldig en het onvrywillig opgetree toe hy vier skote deur ʼn geslote toiletdeur geskiet het.

Barry Roux, vir Pistorius, het Dixon Dinsdag geroep. Dixon sê hy het klank- en visuele toetse gedoen wat teenstrydig is met die getuienis van Pistorius se bure. Van Pistorius se bure het getuig hulle het ʼn vrou se gille gehoor gevolg deur skote.

Dixon het met Pistorius se verdediging saamgestem dat ondersoekbeamptes van die polisie moontlik die getuienis besmet het en het aan die hof gesê dit is duidelik dat een van die beamptes op die deur getrap het. Hy het dit as “hoogs onprofessioneel” beskryf.

Die staat het regter Thokozile Masipa versoek om die verhoor tot 5 Mei uit te stel. Sy sal Woensdag haar besluit hieroor aankondig.

Pistorius word van moord beskuldig nadat hy Reeva Steenkamp op 14 Februarie in sy huis in Pretoria-Oos doodgeskiet het. Hy voer aan hy het haar vir ʼn inbreker aangesien. Hy staar ook aanklagte wat verband hou met die oortreding van die Vuurwapenwet in die gesig. –SAPA

Klik hier om die hooftrekke van die hofverrigtinge gratis op Maroela Media te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.