Die Oscar Pistorius-moordverhoor sal na verwagting tot 4 April voortduur, het ʼn lid van die staatsaanklaerspan Donderdag gesê.
Andrea Johnson het aan verslaggewers by die Pretoriase hooggeregshof gesê die betooghoofde sal ná 4 April beplan word.
Die hof sit nie tussen 7 April en 11 April nie.
Die betooghoofde sal ná die breuk aan regter Thokozile Masipa en haar twee assessore oorhandig word wat dan hul uitspraak sal oorweeg.
Die hofsaak is oorspronklik vir 3 tot 20 Maart beplan.
Pistorius word beskuldig van moord met voorbedagte rade nadat hy Reeva Steenkamp op 14 Februarie 2013 in sy huis doodgeskiet het. Hy word ook beskuldig van die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie, en dat hy twee keer ʼn vuurwapen in die publiek afgevuur het. Hy het onskuldig gepleit op alle aanklagte. -SAPA