Oscar Pistorius-moordverhoor: “Ek het vreeslike gille gehoor”

Oscar Pistorius op 3 Maart 2014 in die hof Foto: Herman Verwey/Media24 - POOL (SAPA)

Oscar Pistorius op 3 Maart 2014 in die hof Foto: Herman Verwey/Media24 – POOL (SAPA)

Die eerste getuie het Maandagoggend in die Pretoriase hooggeregshof tydens Oscar Pistorius se moordverhoor getuig oor gille en skote wat sy die aand gehoor het.

Michelle Burger, ʼn dosent aan die Universiteit van Pretoria, en haar man, Charl Johnson, bly in Silver Stream-landgoed, wat aan Silver Woods-landgoed grens. Pistorius het in Silver Woods-landgoed gewoon toe hy Reeva Steenkamp op 14 Februarie 2013 doodgeskiet het.

Pistorius het onskuldig gepleit op alle aanklagte. Hy ontken die staat se bewering dat daar ʼn argument was voordat hy Steenkamp geskiet het.

Die staatsaanklaer Gerrie Nel het Burger ondervra.

Burger sê sy het omstreeks 03:00 gille en geweerskote by ʼn nabygeleë huis gehoor. Sy het in Afrikaans getuig en moes met tye ʼn blonde vrou help om haar getuienis korrek in Engels te vertaal.

“ʼn Vrou het om hulp geskree,” het Burger getuig. “Sy het vreeslik geskree en om hulp geroep. Daarna het ek ook ʼn man gehoor wat om hulp roep. Hy het drie keer om hulp geroep.” Burger sê sy het vir Johnson gesê dit help nie die man staan op die balkon en skree nie, hy moet sekuriteit ontbied. Johnson het daarna self Silver Stream-landgoed se sekuriteit geskakel sodat hulle Silver Woods se sekuriteit in kennis kan stel.

“Ek het weer haar gille gehoor,” het Burger gesê. “Ek kon haar angs hoor.”

Burger het daarna skote hoor klap. Die pouse tussen die eerste en tweede skote was glo langer as tussen die derde en vierde skote. “It was bang…..bang, bang, bang,” het Burger in Engels gesê.

Die staat gaan probeer bewys dat Pistorius moord met voorbedagte rade gepleeg het. Kenny Oldwage, vir Pistorius, het sy kliënt se verklaring aan die hof voorgehou. Pistorius voer aan hy het verkeerdelik geglo daar is ʼn inbreker in die huis. “Reeva moes toilet toe gegaan het en die skuifdeur toegemaak het,” lui Pistorius se verklaring. “Ek is badkamer toe om myself en Reeva te verdedig.” Klik hier om grafika van Pistorius se weergawe van die gebeure te sien.

Klik hier om hooftrekke uit die hofverrigtinge op Maroela Media te volg.

Die saak duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

A van Niekerk ·

Ek se nie Oscar is skuldig of onskuldig nie, die hof sal dit besluit. Ek weet klank kan ver trek veral in die nag, maar weet jy hoe ver is 177m, dis ‘n entjie! Om so ver te kan hoor moet jy ore soos ‘n olifant kan he, want ek het die volgende inligting op die internet gekry:’n sielkundige deskundig op die gebied van die sielkunde van taal, sê van gehoor (in ‘n vrye vertaling van die oorspronklike aanhaling): ‘Om gehoor behoorlik te verduidelik, is bewys as ‘n uitsonderlike moeilike taak. Dié persoon wat ‘n teorie kan daarstel wat slegs maar die waarneming van toonhoogte en luidheid bevredigend kan verklaar, is byna verseker van die verkryging van ‘n Nobelprys.
Ek haal net aan: om gehoor behoorlik te verduidelik, is ‘n besondere moeilike taak!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.