Oscar Pistorius-moordverhoor: “Ek wil nooit weer aan vuurwapen raak nie”

Oscar Pistorius op die vyfde dag van sy moordverhoor, 7 Maart 2014 Foto: Theana Breugem/Media24/Pool (SAPA)

Oscar Pistorius op die vyfde dag van sy moordverhoor, 7 Maart 2014 Foto: Theana Breugem/Media24/Pool (SAPA)

Die moordbeskuldigde Oscar Pistorius het Maandag aan die Pretoriase hooggeregshof gesê hy wil nooit weer aan ʼn vuurwapen raak nadat hy Reeva Steenkamp op 14 Februarie 2013 doodgeskiet het nie.

Hy word deur sy prokureur, Barry Roux, ondervra.

Pistorius het aan die hof gesê hy slaap met ʼn veiligheidswag by sy deur sedert hy Steenkamp doodgeskiet het. Hy sê hy sukkel om te slaap. “Ek word beangs wakker van die ligste geluide,” het hy gesê. Hy het gesê hy wil nooit weer aan ʼn vuurwapen raak nie. Hy het glo een aand, toe hy nie kon slaap nie, in ʼn kas geklim. Hy het sy suster Aimee gevra om saam met hom te bly.

Hy gebruik ook antidepressante en slaappille nadat hy Steenkamp doodgeskiet het.

Pistorius het vroeër aan die hof vertel dat hy alles van sy ma geleer het. Hy was 15 jaar oud toe sy dood is. Hy sê hy en sy broer Carl en suster Aimee het nie geweet hul ma is siek nie. Hulle was ʼn ruk lank nie by die huis nie, en is toe ingelig dat sy siek is. “Ek dink ons was 10 minute lank daar voordat sy gesterf het,” het hy gesê.

Ná sy ma se afsterwe het die drie kinders óf in die skoolkoshuis gebly, óf hulle het by vriende óf by sy ma se suster tuisgegaan. Hulle het sommige vakansies by hul pa gebly. Sy pa en ma is geskei toe hy ses jaar oud was.

Pistorius sê sy ma het ʼn pistool onder haar kussing gehou toe hy ʼn kind was. Volgens hom was sy pa soms nie by die huis nie en sy ma was in die aande bang. “Ons het nie in die beste gebied bly nie. Daar was baie misdaad. Sy het die polisie gebel, en ons dan na haar kamer geroep en gewag totdat die polisie opgedaag het,” het die atleet gesê. Hy was in ʼn laerskool aan die Wes-Rand.

Hy het gesê sy ma was baie ondersteunend. “Sy wou nooit hê dat ek my gestremdheid moet sien as iets wat my kan terughou nie.” Sy het hom toegelaat om aan sport deel te neem, en as hy geval het, het sy hom toegelaat om self op te staan.

Hy sê hy is soms geterg en geboelie in die skool, maar sy ouers het hom geleer om vir homself op te staan.

Hy het vroeër aan die hof gesê hy het geen balans wanneer hy op sy stompies is nie. “Ek kan nie stil staan op my stompies nie,” het die atleet gesê. “Ek het nie baie goeie balans sonder my prostese nie.”

Volgens Pistorius se aansoek om borgtog was hy op sy stompies toe hy vier skote deur die geslote toiletdeur geskiet het. Hy het sy prostese aangetrek toe hy die deur met ʼn krieketkolf wou oopbreek. Hy het Steenkamp glo vir ʼn inbreker aangesien.

Hy het aan die hof die uitdagings van prostese verduidelik. Hy het gesê om te reis veroorsaak ʼn velirritasie op sy stompies, aangesien hy lank die prostese op vlugte moet dra. Hy het ook al ná vlugte probleme met bloedklonte ondervind waarna hy gehospitaliseer moes word.

Pistorius het ook die hof vertel van ʼn bootongeluk op die Vaalrivier in 2009 waarby hy betrokke was. Hy sê hy was ná die ongeluk baie meer bedag om nie sy lewe te verloor nie. Hy sê, ondanks gerugte wat die ronde gedoen het, het hy nie alkohol gedrink voor die voorval nie.

Hy is glo saam met vriende na die Vaalrivier. Van die mense wat op sy boot was wou vroeër teruggaan, en hulle is saam met sy neef in die se boot daar weg. Hy het gesê sy vriend John het saam met hom gebly. “Hy het opgestaan en geskree. Ek kon nie sien nie, want die son het reg voor ons gesak,” het Pistorius gesê. Hy kan die geluide van die ongeluk onthou, maar kan nie onthou wat daarna gebeur het nie. “Die boot was half vol water,” het hy gesê. Hy het besef sy gesig is warm, en toe ontdek ʼn groot gedeelte van sy gesig is beseer. Hy sê hy het besluit om kalm te bly en sy oom en neef gebel om hulp te ontbied. “Ek kan onthou die boot het begin sink, my vriend John was saam met my.” Hy het glo byna in sy eie bloed verdrink.

Hy sê die ongeluk het sy lewe verander. Hy was ʼn paar dae lank onder verdowing gehou.

Pistorius het ook getuig hoe sy deelname aan atletiek nasionaal en internasionaal sy vriendskappe geraak het. “Dit het baie dinamika verander,” het Pistorius gesê. “Dit het die vriendskappe verander wat ek gehad het.” Hy was soms maande lank uit die land en dit was moeilik om vriendskappe in stand te hou.

Pistorius het ook gesê hy doen baie humanitêre en liefdadigheidswerk. “Ek het dit as belangrik vir myself geag,” het hy gesê. Hy het vertel hoe hy ʼn wedren deur ʼn radiostasie in Vilanculos in Mosambiek beplan het as deel van sy werk met slagoffers van landmyne. Hy het opgemerk die mense voel selfbewus oor hul beserings. Talle van die tieners wat nie eens by die oorlog in Mosambiek betrokke was nie, het op landmyne getrap en is só beseer. Hy het aan die hof gesê hy het almal uitgedaag om teen hom te kom hardloop, en hy het telkens gewen. Daarna het die mense met prostese baie meer vertroue gehad.

Hy werk glo saam met twee stigtings wat mediese ondersteuning verskaf aan mense wat hul bene verloor het. Hy het ook die Universiteit van Glasgow in Skotland genader en ʼn kunsvoet ontwerp wat lig en duursaam is vir toestande in Afrika. Iemand kan glo veilig langs ʼn vuur daarmee aan die slaap raak.

Hy het ook ʼn eredoktorsgraad van die Universiteit van Strathclyde ontvang vir sy humanitêre werk. –SAPA

Klik hier om die hooftrekke van die hofverrigtinge gratis op Maroela Media te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Peter Says ·

Ek glo nie die Regter, stel in die soetsappige storie belang nie. Feit is oscar….jy weet.

AmY ·

Ja ja ja!!! Oscar verdien ‘n Oscar vir sy uitstekende toneelspel. Hy is so goed, ek glo hom by tye amper.

alti ·

Ek het voornemende inbreker voor my venster gesien. lang man. hy het my gesien en weg gehardloop. ek het my hand by venster uitgesteek en skoot afgevuur nie na die inbreker maar in die grond…..as jy in verhouding is ..hoekom nie eers gou uitvind of jou liefde veilig in die kamer is. hoekom nie panic button druk voor jy skiet. … het reeva rerig niks gese toe jy vra wie daar is. ? het badkamer venster tralies.? hoe het inbreker ingekom?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.