Oscar Pistorius-moordverhoor: Foto’s van die moordtoneel bespreek

Voormalige bevelvoerder van die Boschkop-polisiestasie, kolonel Schoombie van Rensburg op 13 Maart 2014 in die hof Foto: Alet Pretorius/Media24/Pool (SAPA)

Voormalige bevelvoerder van die Boschkop-polisiestasie, kolonel Schoombie van Rensburg op 13 Maart 2014 in die hof Foto: Alet Pretorius/Media24/Pool (SAPA)

ʼn Paar wit sandale en ʼn oornagtas links van Oscar Pistorius se bed is van die foto’s wat Donderdag in die Pretoriase hooggeregshof tydens die atleet se moordverhoor voorgehou is.

Die foto’s was deel van Giliam van Rensburg, voormalige polisiebeampte, se getuienis. Van Rensburg het gesê ʼn silwer handwapen het bo-op ʼn grys handdoek gelê, met bloed en selfoon onder die handdoek. “Die veiligheidsknip is verwyder. Soos wat die vuurwapen daar lê, is dit gereed om te vuur,” het Van Rensburg gesê.

Hy was die eerste polisiebeampte op die toneel nadat Reeva Steenkamp op 14 Februarie 2013 in die huis doodgeskiet is.

Van Rensburg was in daardie stadium stasiebevelvoerder by die Boschkop-polisiestasie in Pretoria. Hy het gesê hy het aanvanklik gedink daar was drie selfone op die toneel, maar het toe ontdek die voor- en agterkant van ʼn donkerkleurige selfoon is ingesluit.

Talle foto’s het bloed op die wit mure en karamelkleurige teëlvloer gewys.

ʼn Wit selfoon, wat met bloed bedek is, het op die vloer gelê.

Staatsaanklaer Gerrie Nel en Van Rensburg het Donderdagmiddag die foto’s bespreek. Daar was ʼn spoor van bloeddruppels en bloedmerke tussen die badkamer en die ingangsportaal van die huis.

Daar was ook foto’s van Pistorius se versameling sonbrille, agt horlosies, ʼn windbuks en ʼn bofbalkolf in sy kamer. ʼn Ligblou duvet het op die vloer langs ʼn denimbroek gelê.

Daar was ook ʼn foto van die toilet waar Steenkamp geskiet is, met spatsels bloed op die vloer.

Van Rensburg het in Desember 2013 uit die polisie bedank en het in Afrikaans getuig.

Pistorius word aangekla van moord met voorbedagte rade. Hy word ook aangekla van die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie en twee aanklagte dat hy ʼn vuurwapen in die openbaar gevuur het. Hy het onskuldig gepleit op alle aanklagte. -SAPA

Volg die hooftrekke van die verhoor gratis op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.