Oscar Pistorius-moordverhoor: Gerrie Nel sluit kruisondervraging af

Oscar Pistorius op 14 Maart 2014 Foto:  Phill Magakoe/Independent Newspapers Ltd/Pool (SAPA)

Oscar Pistorius op 14 Maart 2014 Foto: Phill Magakoe/Independent Newspapers Ltd/Pool (SAPA)

Staatsaanklaer Gerrie Nel het Dinsdag sy kruisondervraging van die moordbeskuldigde Oscar Pistorius in die Pretoriase hooggeregshof afgesluit.

Pistorius word beskuldig van moord nadat hy Reeva Steenkamp op 14 Februarie 2013 in sy huis in Pretoria-Oos deur ʼn geslote toiletdeur doodgeskiet het. Pistorius voer aan hy het haar vir ʼn inbreker aangesien.

Nel het gesê die hof sal bevind dat Steenkamp drie ure voor haar afsterwe geëet het. Pistorius het aangevoer die paartjie het omstreeks 19:00 die vorige aand laas geëet. Steenkamp is omstreeks 03:00 doodgeskiet.

Die staat voer ook aan die “bloedstollende” gille wat verskeie bure gehoor het, was Steenkamp sʼn. Pistorius het getuig hy is die een wat gegil het toe hy die deur probeer oopbreek het, om by Steenkamp uit te kom.

Nel sê Pistorius het vier skote gevuur en was bewus dat Steenkamp agter die deur is.

Nel het ook gesê Steenkamp het na die toilet gehardloop, en Pistorius het homself bewapen met die uitsluitlike doel om haar te vermoor. Pistorius het getuig hy het nie gesien dat Steenkamp na die toilet gegaan het nie. Hy beweer hy het haar aangesê om die polisie te bel voordat hy die skote gevuur het.

Volgens Nel is Pistorius só emosioneel, omdat hy ontsteld is oor dit wat hy gedoen het.

Nel wou vroeër by Pistorius weet wie vir Steenkamp se moord blameer moet word. “Moet ons Reeva blameer dat sy nie vir jou gesê het sy gaan toilet toe nie?” “Nee, u edelagbare,” het Pistorius geantwoord. Nel wou ook by Pistorius weet of die regering vir Steenkamp se afsterwe blameer moet word.

Die hof het ook gehoor dat Pistorius nie geskree het toe hy Steenkamp se liggaam langs die toiletbak gesien het nadat hy haar geskiet het nie. Nel was verbaas dat Pistorius nie geskree het toe hy besef het wat hy gedoen het nie. Pistorius het gesê hy kon nie die doel daarvan sien nie.

Nel het Pistorius ook uitgevra oor ʼn telefoonoproep wat hy na die sekuriteit van die landgoed gemaak het. Een veiligheidswag het getuig dat hy Pistorius gebel het om te vra wat by sy huis gebeur. Volgens die veiligheidswag het Pistorius gesê daar is “geen probleem nie”. Pistorius het dit in twyfel getrek, en gesê dit maak nie sin dat hy aan die wag sou sê niks is fout nie. “Ek het hom eerste gebel en hy het my teruggebel,” het Pistorius gesê. Nel wou weet of Pistorius nie dalk per ongeluk die sekuriteit gebel het en toe weer die telefoon neergesit het nie.

Pistorius het ook vroeër bevestig dat hy nog die vuurwapen in sy hand gehad het toe hy die toiletdeur probeer oopbreek het. Nel het hom ook daarop gewys dat hy die deur met sy skouer probeer oopforseer het en probeer het om die deur oop te skop, maar die deur maak van binne af na buite oop.

Pistorius is ná ʼn kort herondervraging deur sy prokureur, Barry Roux, uit die getuiebank verskoon.

Pistorius staar ook aanklagte wat verband hou met die oortreding van die Vuurwapenwet in die gesig. –SAPA

Klik hier om die hooftrekke van die hofverrigtinge gratis op Maroela Media te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.