Oscar Pistorius-moordverhoor: Getuienis versterk staat se saak

Staatsaanklaer Gerrie Nel Antoine de Ras / Independent Newspapers Ltd - Pool (SAPA)

Staatsaanklaer Gerrie Nel Antoine de Ras / Independent Newspapers Ltd – Pool (SAPA)

Charl Johnson se getuienis het Dinsdag die staat se argument, dat Oscar Pistorius gelieg het toe hy aangevoer het dit is “onregverdig en foutief” dat hy en Reeva Steenkamp die aand voor haar dood baklei het, versterk.

Johnson, die derde getuie in Oscar Pistorius se moordverhoor, het in die Pretoriase hooggeregshof getuig oor gille wat hy op 14 Februarie 2013 gehoor het. “Ek het op die balkon gestaan en gehoor hoe ʼn vrou om hulp skree,” het Johnson gesê. “Daarna het ʼn man ‘help, help, help’ geskree.”

Johnson en sy vrou, Michelle Burger, woon in die aangrensende sekuriteitsoord, Silver Stream-landgoed, langs Silver Woods-landgoed waar Pistorius Steenkamp op doodgeskiet het. Burger het Dinsdagoggend haar getuienis afgehandel.

“Ek kon hoor die vrou is in die moeilikheid, dit was angsgille,” het Johnson getuig.

Johnson het verder getuig hy en sy vrou wou die veiligheidsbeamptes in kennis stel, maar hy het eers die verkeerde nommer geskakel net voordat Steenkamp doodgeskiet is. Hy sê hy het besef hy het nie die veiligheidsbeamptes by Silver Stream-landgoed gekontak nie, maar die veiligheidsbeamptes van die sekuriteitsoord waar hulle vantevore gebly het. “Ek is toe terug na die balkon en het die vrou hoor skree,” het Johnson getuig. “Die intensiteit en vrees het eskaleer en toe is die eerste skote gevuur.”

Hy het, soos Burger, getuig daar was ʼn gil ná die laaste skoot gevuur is.

Barry Roux, vir Pistorius, het vroeër Burger se verklaring, dat die gille eers ná die skote opgehou het, bevraagteken. Hy het gesê Steenkamp was te ernstig beseer om ná die skote nog te gil. “Daar was baie ernstige breinskade,” het Roux gesê. “Dit kan nie so wees nie. Sy sou nie kon gil nie.”

Johnson sê hy het aanvanklik gedink hy het vyf of ses skote gehoor, maar later uitgevind daar was vier skote.

Hulle het ʼn paar uur later uitgevind die voorval het van Pistorius se huis af gekom. Volgens Johnson was hy en sy vrou onder die indruk dat mense by hul huis aangehou word.

Die staat wil bewys dat Pistorius moord met voorbedagte rade gepleeg het toe hy Steenkamp op 14 Februarie 2013 deur ʼn geslote toiletdeur geskiet het. Hy staar ook aanklagte van die oortreding van die Vuurwapenwet in die gesig. Pistorius voer aan hy het haar vir ʼn inbreker aangesien. -SAPA

Estelle van der Merwe, die tweede getuie in die saak wat in dieselfde veiligheidsoord bly waar die voorval plaasgevind het, het Dinsdag getuig dit het geklink of mense baklei. Klik hier om meer te lees.

Klik hier om die hooftrekke van die hofverrigtinge gratis op Maroela Media te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elize Mans ·

Ek betwyfel, Johnson en Michelle se getuies.Want as ek in my eie omgewing luister,waar ek bly en waar Bure oorkant die straat bly,en nie so ver is,soos wat hulle van Oscar se huis bly nie,kan ek nie hoor,as mense skree in hulle huise nie.En soos ek verstaan Reeva in n badkamer wat toe was,geskree het of gegil het.
Dan dink ek hierdie 2 mense is besig om nie die waarheid te praat nie.
Ek net baie skade doen.Hoop die Advokaat kan hierdie mense uit oorle.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.