Die eerste van die laaste vyf staatsgetuies sal na verwagting Maandag tydens Oscar Pistorius se moordverhoor in die Pretoriase hooggeregshof sy plek in die getuiebank inneem.
Staatsaanklaer Gerrie Nel het verlede Woensdag die hof versoek om te verdaag sodat die staat met sy finale getuies kan vergader.
Die laaste getuie was ʼn selfoonkenner van die polisie wat getuig het oor die webwerfgeskiedenis van twee iPads in Pistorius se huis. Webwerwe vir tweedehandse motors en pornografie is glo vroeg die aand op 13 Februarie 2013 op dié toestelle besoek.
Pistorius het Reeva Steenkamp in die vroeë oggendure op 14 Februarie doodgeskiet nadat hy haar glo vir ʼn inbreker aangesien het. Hy pleit onskuldig op alle aanklagte van moord met voorbedagte rade en aanklagte wat verband hou met die oortreding van die Vuurwapenwet.
Chris Mangena, ballistiese kenner van die polisie, het verlede week getuig dat Steenkamp in ʼn verdedigingsposisie was toe die skote haar getref het. Hy het ook beskryf watter skade die sogenaamde Black Talon-koeëls, wat Pistorius gebruik het, aangerig het. Klik hier om meer te lees.
Pistorius het tydens die verhoor al ʼn reeks uiterste emosies gewys. Hy het tydens sommige van die kenners se getuienis sy ore toe gedruk, braakgeluide gemaak, vomeer, sy kop vas gehou en sy notaboek oor sy kop gehou.
Die kantoor van die hoofregter het Sondag aangekondig die hofsaak word verleng tot 16 Mei.
Brian Webber, Pistorius se prokureur, het verlede week gesê die atleet moet sy huis verkoop om sy regskoste te dek. –SAPA
Volg die hooftrekke van die moordverhoor gratis op Maroela Media.
Net jy, en jy alleen oscar, sal weet wat die waarheid is.
Hoe se die ou mense : ‘Hoogmoed kom tot ‘n val’. Dit geld vir elkeen van ons.